Ontmoet die mense
Carl Louwrens Ng-dominee
“Ná 26 jaar bly dit lekker om hier te woon,” sê Carl. Hy sit kiertsregop op ’n netjiese donkerhoutriempiestoel in die kerk, geklee in plakkies, ’n kortmouhemp en jeans waarvan die pype parmantig omgerol is.
“Jy het maar jou frustrasies: As jou kar breek, dan moet jy Nelspruit toe... wat doen jy dus? Daar is ’n klomp sulke dingetjies wat jy in gedagte moet hou as jy hier wil bly.”
Al drie Carl se dogters het op Skukuza grootgeword en twee van hullle is selfs hier getroud. Dit het nogal moeite geverg, want jy moet byvoorbeeld ’n permit reël vir al die gaste. “Die onthaal was sommer by die gholfklub, en dit was heerlik,” onthou hy. In sy vrye tyd ry Carl fiets. Jy kan 20 km in en om die dorp aflê, en van tyd tot tyd vra hy ’n veldwagter om hulle dieper die park in te begelei. “As jy hier fietsry, sien jy dalk ’n trop buffels, maar hulle is nie té gevaarlik nie; jy ry maar net ’n wye draai.” Die omgewing speel natuurlik ’n groot rol in hulle lewe, iets wat Carl gereeld opmerk as hulle Bybelstudie hou. “As ek byvoorbeeld vra ‘hoe was julle week, wil iemand iets deel?’, hoop ek stilletjies dit kom uit die Bybel. Maar sonder uitsondering hoor ek dan ’n storie oor ’n olifant,” lag hy. “Óf iemand het nou al weer ’n luiperd gesien.” Carl beskryf die klein gemeente as “oop vir alles en almal”. “Ons is gemaklik hier, in die kerk én op die dorp. Niemand noem my dominee nie, behalwe as hulle dalk my naam vergeet.”
Hy vertel hoe die gemeenskap oor die jare verander het: van ’n meerderheid Afrikaners tot ’n mengelmoes van kulture en tale, nou meer verteenwoordigend van Suid-afrika. “Met die politieke veranderinge sedert 1994 het dinge hier geweldig vinnig omgeswaai, juis omdat dit ’n venster na die buiteland is.”
Agnesia Makgotla Helikoptertegnikus
Agnesia, ’n stadsjapie, het twee jaar gelede na Skukuza verhuis toe sy haar pos as helikoptertegnikus gekry het. Sy kom oorspronklik van Johannesburg af, en die ooptes van die bos het haar onkant betrap.
“Die eerste keer toe ek hier aankom van Hazyview af, het ek kort-kort gesoek vir ’n mall of ’n kuierplek vir jong mense, maar daar was niks nie. Die volgende oomblik is jy by die Kruger se hek...”
Sy het vinnig besef dié plek is kalm. “Daar is dan nie eens verkeer nie!” Hier kry jy net ’n verkeersopeenhoping as ’n trop buffels die pad volstaan. Dit het al veroorsaak dat Agnesia laat kom vir werk of ’n afspraak. “Party mense verstaan nie altyd dié soort probleme nie.”
In haar eerste maand hier kon Agnesia nie wag om terug te keer Johannesburg toe nie. Sy wou net uitkom en haar vriende sien. Maar ná een vakansie in die stad het sy vinnig besef sy mis haar bosdorp. Haar familie verstaan wel nog nie heeltemal die skuif nie; daar is dan wild... “Toe ek vir my gesin vertel ek het aan ’n halfmarathon deelgeneem, wou hulle weet waar ons dan al die diere bêre!”
Zelda Nyathi Algemene werker, Skukuza-dagbesoekerskamp
Zelda woon al 13 jaar in die wildtuin en het ’n algemene werkerspos by ’n dagbesoekerskamp net buite die dorp. Sy sit hoeka en wag op haar geleentheid terug na Skukuza; dit is amper tyd vir die middagskof en sy is klaar met die oggend se werk.
Dis gesellig hier. Toeriste klets in vele tale terwyl die parkbestuur ’n lui ogie gooi oor hulle doen en late, en daar is vrolike gille soos kinders in die vlak swembad baljaar en die hitte van die dag afweer.
Zelda het nie net haar eie kinders op Skukuza sien grootword nie, maar is ook die trotse ouma van ’n vierjarige in die voorskoolse klas in die laerskool. Sy is baie gelukkig hier. “Die lewe hier is goed en dit is rustig – en veilig. Ons leef sonder misdaad of geweld en daar is geen ander plek soos dié in die land nie,” sê sy met ’n groot glimlag onder haar breërandhoed.