Die Bloubakkie het nie brieke nie!
Terwyl duisende vakansiegangers op Kleinmond vir kwaadgeld rondlê, is daar één plek waar niemand afskakel nie: Die Bloubakkie. Want hier sorg Johan Olivier en sy span dat sy“kastimmers” nooit sonder die beste, varsste groente en vrugte hoef klaar te kom n
Wanneer laas het jy ’n slak in ’n gesonde bossie vars spinasieblare sien rinkink? Dis nogal iets om te aanskou: Daardie stadige dog vasberade klou-en-kruip, klou-en-kruip, spriete-in-die-lug voorwaarts mars diep die voue van die glimgroen blare in. Agter die dop die onmiskenbare slymspoor; voor dit ’n happie wat sonder kwade bedoelings uit ’n blaarrand weggekalwe word.
Maar vanoggend hier in Die Bloubakkie se splinternuwe winkel in Tweede Straat gee die stroom klante g’n snars om vir die “skade” wat dié outjie aanrig nie. Nee wat, vertel hulle jou terwyl jy vir Ta afneem, as hý die spinasie kan vreet, weet ons dis gesond en sonder gif en kan ons dit ook eet. Vars van die plaas af, soos dit hoort.
Die Bloubakkie se leuse is nie verniet “Ons bring die plaas see toe” nie.
Dis ’n doodgewone Vrydagoggend in die laatlente, lank voor die duisende binnelanders en ander sonsoekers op dié seedorp toesak om ’n blaaskans te vat, en die stroom klante hou nooit op nie. Eenkant staan ’n lenige man met heelwat plooitjies om die oë – “dis van die son, hoor; nié van baie lag nie!” In sy arms sit-lê Soekie, sy inkennige malteser, grootoog. Hy groet iedere klant wat inkom. “Môre, my customer, hoe >
gaan dit vanoggend?” Hy loer af om te kyk wat in die mandjie lê. “Jong, het jy genoeg gekoop? Hoekom lyk dit dan so leeg hier?” Hy leun oor en gee die vrou ’n drukkie.
“Hou op om die ou tannies so te vry!” terg ’n oom langs hulle. “Nee jong, ’n mens móét darem ook
quantity control doen,” lag hy. Vir iemand anders wat sukkel om ’n keuse te maak is sy oplossing eenvoudig: “Dis maklik: Vat een van elk!”
JOHAN OLIVIER IS NIE ELKE DAG in die winkel nie, al is hy so gaande oor sy klante. Sedert hy hierdie besigheid in die middel jare negentig begin het, is hy self op die pad, immer op soek na die varsste produkte teen die beste pryse. Vars groente en vrugte, neute en sade, vars plaasbotter en jogurt, kaas, vars en bevrore bloubessies (waarvan die prys ’n mens laat terugverlang na die vorige millennium), konfyte, ingemaakte produkte, gebak soos melkterte, koeksisters, pasteie en beskuit, plaashoenders, sosaties, olywe en olyfolie, werfeiers, verskillende soorte lekkers, fudge, heuning.
Die gehalte laat jou dink aan die voorste organiese deliwinkels in die stad en selfs ’n sjiek Europese mark; die pryse laat jou dink aan die tyd van ponde, pennies en sjielings op ’n klein Suid-afrikaanse dorpie.
Dis ’n winkel met ’n nederige begin. Met ’n geel Datsun-bakkie het Johan waatlemoene, spanspekke en perskes by die Pick n Pay op Worcester, sy eintlike tuisdorp, verkoop. Dit is nou nadat hy ’n B.com.-en toe ’n honneursgraad in die handelswetenskappe verwerf het.
“Ná Stellenbosch en ’n hele paar mislukte werkaansoeke raak ’n mens onseker oor jou eie vermoëns, en jy doen enige werk wat na jou kant toe kom – om sin te maak, maar ook om aan die lewe te bly.” Daarom het ’n hele paar tydelike goed gevolg: hekbeampte by die Worcester-skou, assistentkoster-en-skriba by die NG Moedergemeente en sy eie advertensieblad, Businessads, ook op Worcester.
Toe, in 1996, byt die smousgogga behoorlik. “Ek het op Kerkplein op Worcester begin, toe met my blou Toyota-bakkie, en die besigheid het gou uit sy nate gebars. Die bedryf het alles gebied wat ek in daardie stadium nodig gehad het: ’n goeie inkomste, die vryheid om jou eie ding te doen, om nuwe plekke te ontdek, en om kontak te hê met boere. Die hele Worcester-gemeenskap was Saterdae daar om ons te ondersteun.”
In dié tyd is sy blou bakkie gesteel en Johan het vir hom ’n wit Toyota gekoop... wat sy klante toe “die wit bloubakkie” begin noem het!
Hoe beland die besigheid toe by die see? “Ons gesin hou sedert 1974 elke jaar tussen 20 Desember en wanneer die skole begin, op Kleinmond vakansie. Maar die bure het my nooit Geseënde Kersfees of voorspoedige Nuwejaar toegewens voor ek nie ’n vrag waatlemoen, spanspek of mielies aangery het nie!”
Harde werk in wind, reën en die son het sy merk gelaat. En daar was groot verliese. “Ons hele gesin se tyd is opgeslurp. Buite op straat was die besigheid al hoe meer onhanteerbaar. Ek het voor die keuse te staan gekom om na ’n perseel toe te skuif, mét al die risiko’s en die kostes wat daarmee gepaardgaan, of ’n rekenaarkursus te doen wat dalk ’n stabieler inkomste kan bied.” Die kursus het gewen.
Daarna gaan gee Johan van 2003 tot 2006 rekenaarstudie by die Hoër Tegniese Skool Drostdy op sy tuisdorp. “Dit was ’n voorreg om deel te wees van jong mense se lewe, en boonop het ek baie nuwe geleenthede en stokperdjies (soos fotografie) gekry. Maar ’n mens kom gou agter wat jou tekortkominge is: Tussen al die administrasie, vergaderings en veral papierwerk het ek myself verloor. Die herhalende ritme het my vryheid van gees weggeneem. Kleinmond het my geroep, al was dit net om my kop skoon te kry...
“Ek moes van voor af begin, met al die risiko’s en onsekerheid, maar my ouers het my gehelp en my die vryheid gegun om my eie ding te doen. Ek het naweke as ek nie by sport betrokke was nie, weer begin smous – dié slag op Kleinmond. Ek en my ouers het voor die Kleinmondslaghuis gestaan met nartjies en patats... En die res is geskiedenis!” >
‘Ons wil elke dag beter doen as gister. Ons wil nóg meer doen om hierdie mooi wêreld van ons te bemark en sodoende volhoubare werkgeleenthede vir die plaaslike mense te skep.’
JOHAN SE OUERS het meer as net ondersteuning gebied: Sy pa, Kobus, wat in 2016 oorlede is, het met die verpakking en finansies gehelp, terwyl sy ma, Hester, vandag nog op 74 – en ondanks ’n onlangse val waarin haar heup beseer is (“gelukkig is niks gebreek nie!”) – inmaak en bak en in die winkel help. Haar kerrieboontjies en kerrieperskes is legendaries.
Dan is daar sy ouer broer, Cobus, wat sy eie rekenaarbesigheid in Kaapstad het, maar elke naweek op Kleinmond is. Cobus en sy vennoot in die Kaap besit die nuwe gebou, maar hy help ook met die rekenaar- en betaalstelsel, sorg dat die alarm behoorlik werk én knoop geselsies aan in die winkel. “Én hy is die gom wat ons gesin aan mekaar hou,” sê Johan.
Maar hierdie is ’n familiebesigheid in die ware sin van die woord. Gaan kyk maar na die mueslibeskuit op die rak: Gebak deur sy tannie Amanda Conradie van Worcester met room wat Yvonne van Zyl, een van Hester se ander susters, uit Vanrhynsdorp stuur. En dan is die rakke in die nuwe winkel gebou deur sy neef Jaco Conradie, ook van Worcester.
Sy familie het hom bygestaan met die skuif van bakkie na gebou. In 2006, dieselfde jaar toe hy die blou bakkie gekoop het, het hy sy eerste perseel betrek: die piepklein regterkantste deel van Oupa se boekwinkel, toevallig reg langs die huidige winkel. In 2011 het hulle geskuif na die tweede, groter, perseel regoor die Spar in Botrivierstraat, en enkele maande gelede het hulle hier ingetrek.
Johan gaan kreatief te werk met sy besigheid. Nie net het sy winkel ’n lojaliteitskaart waarmee klante afslag verdien nie, maar Die Bloubakkie se Facebookblad is ’n lewendige kuierplek vir sy “kastimmers”, sy tong-in-die-kies nuutskepping vir sy geliefde klante. Hier sien jy watter bekendes – mense soos Neels van Jaarsveld, Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Esmaré Weideman – by Die Bloubakkie kom koop. As hy bloubessies inkry, kondig hy dit nie net aan op sy blad nie, maar gee sommer ’n lekker resep vir bloubessiekonfyt.
Elke Dinsdag en Donderdag ry Johan na plase by die Paarl en Ceres of Montagu en Robertson, en Maandagoggende sit hy soggens om 03:30 al af mark toe in die Kaap – meestal vir tropiese vrugte – voordat hy Stellenbosch toe koers kry om sade en neute te kry. Dan is dit met die kuspad terug Kleinmond toe. En as hy iewers in sy omswerwinge ’n mooi natuurtoneel sien, neem hy dit af en wys dit nie net vir sy Facebook-gehoor nie, maar hy stuur dit ook vir Die Burger in Kaapstad. Gaan kyk maar: Gereeld pryk daar op die voorblad die fotonaamlyn Johan Olivier. Wat hou die toekoms in? “Ons wil elke dag beter doen as gister. En ons wil nóg meer doen om hierdie mooi wêreld van ons te bemark en sodoende volhoubare werkgeleenthede vir die plaaslike mense te skep. Ons wil meer waardevir-geld-produkte inbring, ’n beter uitleg kry, winkeltrollies inbring en sommer ’n hele rits nuwe produklyne ontwikkel.”
Nee kyk, hierdie is ’n agtermekaar Bloubakkie, of dit nou ’n geel bakkie, ’n blou bakkie, ’n wit bakkie, ’n gehuurde winkel of ’n eiendom net af van Kleinmond se hoofstraat is. Die enigste probleem is dat Die Bloubakkie nog nooit brieke gehad het nie.