Plant ’n karobboom
Hy gooi lekker skaduwee en met sy peule kan jy wondere verrig (wyk, sjokolade!)
Vir baie mense beteken die woord “karob” net een ding: “nagemaakte sjokolade” wat nie naastenby so lekker is soos die ware jakob nie. Maar moenie dié veelsydige superbome en hulle peule daaroor onderskat of afskryf nie, sê Dalena Theron.
Kry jy by die aanhoor van die woord “karob” onmiddellik visioene van ryskoekies of droëvrugte wat in kammasjokolade gedoop is? En dan dink jy aan daardie onbevredigende smaak wat net mooi níks help om jou lus na regte sjokolade te blus nie... Buitendien lees ’n mens deesdae al hoe meer dat matige hoeveelhede donkersjokolade goed is vir jou.
Waarom op aarde sal jy dus bodder om sjokolade met karob te vervang?
Moenie die karobboom (Ceratonia siliqua) vlak kyk nie. Karobpoeier word nie net deesdae as ’n superkos erken nie, maar die peule én die boom self hou ’n hele rits voordele in, selfs al het jy net één so ’n boom in jou tuin.
Die heerlike skaduwee wat karobbome verskaf, is eintlik ’n bysaak, want dié superplante kan deug as enigiets van veevoer tot ’n bekostigbare peuselhappie vir mense, en dis te vinde in ’n magdom gesonde geriefskosprodukte wat aansienlik minder suiker bevat, maar hope vesel en minerale.
Karobbome kom oorspronklik uit Mediterreense lande soos Sirië en Israel waar die somers warm en droog is. Dit is vermoedelik deur die Grieke na hulle vaderland en Spanje versprei, en vandag is Spanje een van die grootste vervaardigers en uitvoerders van karobpoeier.
“Die bome groei eintlik oral, maar in somerreënvalstreke moet ’n mens onthou om die peule daagliks op te tel aangesien dit verpoeier wanneer dit
nat word,” sê dr. Carel Muller, wat sedert die jare tagtig in die voedingswaarde van karobbome belang stel en in 2008 betrokke was by ’n studie van die Universiteit van Stellenbosch wat karob as laekostevoedselbron vir Suid-afrika ondersoek het.
Johannes se padkos
Karob word reeds sowat 4 000 jaar as voedselbron gebruik en het al in vele droogte- en oorlogstye vir arm mense ’n goedkoop uitkoms gebied.
Dit word dikwels ook die johannesbroodboom genoem, omdat Johannes die Doper glo gedurende sy pelgrimstog oorleef het deur van dié peule te eet. Die Bybel praat in werklikheid van sprinkane, maar omdat die boom ook ’n locust tree of die peule ’n locust bean genoem word, glo baie mense Johannes het dalk eerder karobpeule geëet as regte sprinkane
(of dalk was albei op sy spyskaart!). Die Egiptenare het weer van die sade ’n soort gom gemaak wat in grafte ontdek en vermoedelik in die mummifiseringsproses gebruik is. ’n Soortgelyke gom word vandag nog in die voedselbedryf gebruik om roomys, vrugtevulsels en slaaisouse te verdik, stabiliseer of geur.
Karobsade word ook gebruik om koffie te rek en in talle lande is dit die standaardgebruik om karobsade by koffiebone te gooi en dan saam fyn te maal. As ’n mens die peule grof maal en in water kook, kry jy ’n dik stroop soortgelyk aan melasse wat jy oor pap of in koffie of tee kan gooi. >
Karob in Suid-afrika
“In die middel jare tagtig het ons by die Elsenburg-landboukollege koeltebome geplant om die geboue by die melkstalle,” vertel Carel oor sy kennismaking met die karob. “Die bome het groot geword, en op ’n dag kom vra een van die werkers of hy van die peule kan optel om vir sy varke te voer. In daardie stadium het ek net geweet dit is johannesbroodbome – ek het nie besef jy kan dit as veevoer gebruik nie en het begin oplees daaroor. Toevallig kom ek toe in ’n Australiese akademiese joernaal af op ’n artikel oor die karobbedryf in Wes-australië.”
In sy eerste eksperiment wou hy kyk hoe karob as goedkoop aanvulling tot plaasdiere se voer gebruik kon word. Hy het van die peule bymekaargemaak, fyngemaal en dit in ’n laboratorium laat ontleed.
“Ons het gekyk hoeveel proteïen, energie, vesel en minerale dit bevat – dit is inderdaad ’n goeie bron van energie, maar die proteïeninhoud is laag. Amper soos met melasse maak die soet smaak dit baie aanloklik vir diere. Ek het geraam die gemaalde peule sal minstens 80% van die energie verskaf wat jy in koring en gars kry, en daarom sou dit in rantsoene vir melkbeeste gebruik kon word.”
Volgende was ’n informele groeistudie met bulkalwers. Rantsoene is gemeng en vir die kalwers gevoer. “Dié wat die karobrantsoene gekry het, het veel beter gegroei omdat die rantsoene smaakliker was en die diere meer daarvan geëet het.”
Jare later was Carel op ’n dag by die Somerset Mall waar hy ’n paar motorwagte sien sit het met hope karobpeule onder hulle voete, duidelik onbewus van hoe voedsaam die peule is.
“Ek het toe gewonder of daar dalk ’n soort ontbytgraan van die peule gemaak kan word, iets wat soos All Bran Flakes lyk.”
Dit was deels dié nuuskierigheid wat tot die studie by die Universiteit van Stellenbosch gelei het.
Carel was as raadgewer betrokke toe
Lukas Iipumbu in 2008 sy meestersgraad in voedselwetenskap voltooi het oor die waarde van karobpeule vir Suidafrika. Hoewel daar steeds nie ’n oorvloed karobprodukte plaaslik te koop is nie, het die studie wel getoon karob kan ’n uitstekende goedkoop voedselbron wees. Lukas het as deel van sy studie ook ’n paar kosprodukte ontwikkel. Ontbytgraanvlokkies was een daarvan – boonop ’n soort waarvoor ’n mens geen suiker nodig het nie omdat die karob klaar soet is. Hy het ook warm ontbytpap, brood, karobmoes (’n nagereg) en ’n warm karobdrankie ontwikkel.
“Die probleem met die bome vir boere is dat dit ongeveer 7 jaar neem om ’n behoorlike oes te kry, én dit is arbeidsintensief om die peule bymekaar te maak, maar aan die ander kant moet ’n mens dit as ’n manier sien om werk te skep.”
Het jy geweet? Kimberley se strate is vol karobbome omdat die peule so mooi eenvormig is – destyds is dit gebruik om die waarde van diamante en goud te bepaal.
Van koelte tot byekos
Nog ’n plek waar karobbome waardeer word, is die kostuin op Babylonstoren net buite die Paarl.
Gundula Deutschlander, wat deel was van die beplanning en uitleg van dié tuin, sê een van die vereistes toe hulle die tuin uitgelê het – buiten dat alles eetbaar of medisinaal moet wees – was dat bladwisselende en immergroen bome van mekaar geskei moes wees.
Die immergroen karobbome, sê sy, is uitstekende lokaas vir bye. “Ek het ’n sterk immergroen raam om die tuin geplant, asook immergroen lanings om skaduwee te skep vir besoekers. Hier by ons kan die somerhitte jou platslaan, maar hierdie bome verskaf ’n lieflike koel, donker skaduwee.” >
Wanneer die eerste blomme oopmaak, hoor ’n mens van douvoordag af die gegons van bye in die bome, sê Gundula. “Die insekte is só bedrywig dat ek gereeld my stappie deur die tuin moet onderbreek om aandag te gee aan die gewoel daarbo.”
Sy sê buiten die wonderlike koelte wat die bome op die tuintoere verskaf, druk baie gaste ’n paar ekstra peule in hulle sak om later op hulle reis te geniet. “Ek vra die gaste meestal om hulle neus toe te druk as hulle aan die peule proe, want dit ruik ’n bietjie na stink kaas!” Gundula maak ook ’n spesiale tee van die geroosterde peule waarby ’n knypie kardemom kom – dit is baie gewild onder besoekers.
Beter as sjokolade?
Gundula sê baie mense wil weet waarom hulle enigsins karob moet oorweeg as die jongste navorsing toon dat donkersjokolade in matige hoeveelhede goed kan wees vir jou.
Maar hulle vergeet karob bevat nie, soos sjokolade, kafeïen, tiobromien óf oksaalsuur nie. Laasgenoemde is giftig in groot hoeveelhede en kan tot nierstene lei. Karobpoeier bevat ook aansienlik minder vet en natrium, en omdat die peule van nature soet is – dit smaak amper soos dadels as jy dit rou eet – het karobprodukte nie so baie suiker nodig soos dié wat van sjokolade gemaak word nie. Anders as met sjokolade, wat van nature bitter is, kan jy karobpeule ook net so eet as jy die sade verwyder het. (Jy kan natuurlik om die sade eet, maar onthou: Dit is hard genoeg om ’n tand te kraak!)
Karob bestaan uit tot 60% koolhidrate, maar ook hope vesel, antioksidante en minerale soos fosfor en kalium. “Karob bevat agt keer meer kalsium as melk en ook baie magnesium,” sê Gundula. “Wat gesondheidswaarde betref, kom geen energiestafie naby dié peule nie.”
Karob of karaat?
Karobbome duik op nóg ’n onverwagse plek in die geskiedenisboeke op: Die woord “karaat” is afgelei van “karob” – omdat die sade, wat geneig is om eenvormig te wees, destyds gebruik is om die waarde van goud en diamante te bepaal. Veertien sade is dus gelyk aan veertien karaat. Dit is ook waarom Kimberley se strate vol is van dié bome.
Die sade is verder gebruik om skoengroottes te meet, vertel Gundula. “My grootte is 37 in die Europese mates, wat neerkom op 37 karobsade wat in ’n ry uitgepak is. Nou wil ek elke keer daai Paul Simon-liedjie sing: ‘She’s got diamonds on the soles of her shoes!’ ”