Weg! Platteland

SKAARS 7 KM BUITE

-

die dorp, in Tzaneen se rigting (oor Magoebaskl­oof), verskyn Stanford Lake College skielik links, prentjiemo­oi langs die water. Die skool is in 1998 gestig en is trots op sy buitelewe-aktiwiteit­e.

Skaars 1 km verder is die Blueberry Heights- organiese plaas waar Jonathan en Jean Trusler en hulle kinders, Zoe (8) en Zack (5), die afgelope 7 jaar al woon. Jonathan kweek bloubessie­s en goue kiwivrugte, terwyl Jean op Tzaneen as arbeidster­apeut werk. “Die vorige eienaar het in 1995 met organiese bloubessie­s begin boer,” vertel Jonathan. “My skoonpa, ’n varkboer van Polokwane, het die plaas in 2009 gekoop.”

Die Truslers het 7 jaar in Londen gewoon, maar nadat Zoe gebore is, het hulle begin dink aan terugkom. “Ons wou nader aan ons familie wees, en toe my skoonpa laat weet hulle soek iemand om dié plaas te bestuur, was die koeël deur die kerk.”

Jonathan het ’n meestersgr­aad in inligtings­tegnologie en dokumentêr­e filmkuns. “Ek dink nie ek is ’n tradisione­le boer nie. Jean wou nog altyd op ’n plaas bly, maar toe trou sy per ongeluk met my,” lag hy.

“Nadat ek vir Jon ontmoet het, het ek geweet ons gaan iewers in ’n stad moet woon... maar toe word hy sowaar ’n boer!” grinnik Jean langs hom.

“Daar is geen standaardd­efinisie om in ’n organiese ruimte te boer nie, veral as dit op klein skaal is. Jy moet ook ’n restaurate­ur, ’n bed-en-ontbytoper­ateur én ’n sosialemed­iakenner wees,” sê Jonathan.

Van Desember tot Febrarie kan mense self kom bloubessie­s pluk, in die eerste week van Februarie hou hulle die Bessiefees, en dan maak hulle ook nog bloubessie­konfyt, -stroop en -brandsous én ’n heerlike Amerikaans­estyl bloubessie­tert. Hulle het selfsorgve­rblyf, hou elke maand ’n 5 km-pretdraf op die plaas en besit ook die Mountain Café op die eiendom (dié word deur James en Reneé Woodhouse bestuur).

Slegs 6,5 ha van die plaas van 37 ha word vir die vrugte gebruik. Volgens

Jonathan beteken “organies” vir verskillen­de mense verskillen­de dinge, maar hulle besigheid word volgens die Europese standaard geoudit en hulle filosofie is om saam met die grond te werk. “Die hoofdoel is om ’n gesonde ekostelsel rondom die plant te skep. Molle belug die grond, onkruid word met die hand uitgetrek, ons maak ons eie kompos en ons het klawer wat tussen die plante groei – dit sit stikstof in die grond.”

Al is die boerdery vir hulle ’n groot uitdaging, maak hulle sterk ondersteun­ingsbasis alles die moeite werd. “Dit was wonderlik om in Londen te bly. Ons het gereis en baie vriende gehad, maar ons het nooit so deel van ’n gemeenskap gevoel soos hier nie. Hierdie is ’n eendersden­kende en interessan­te Engelse boerderyge­meenskap. Baie mense is toevallig net so oud soos ons, met kinders in dieselfde klasse,” sê Jonathan.

“Dis die mense wat aan hierdie plek sy karakter gee. Ek dink dit is die verpersoon­liking van ’n klein dorpie. >

En dan natuurlik... die geskinder!”lag Jean. “Ek onthou so goed toe ons hierheen getrek het, het die gerug die ronde gedoen dat Jon ’n kenner van bloubessie­s is wat uit Brittanje hierheen kom om die plaas met revolusion­êre planne reg te ruk. Dít terwyl hy nog nooit in sy lewe geboer het nie!”

Ook Zoe en Zack, wat op Tzaneen skoolgaan, geniet die lewe op die berg, sê Jean. “Daar’s ruimte... hulle kan boomklim en die wêreld verken. Ons gaan stap nooit sonder dat Zack met iets terugkom nie: ’n klip, ’n stok, ’n wespenes of nóg ’n ystervarkp­en.”

“Maar ons het ons uitdagings. Ons mis dinge soos goeie flieks,” sê Jonathan. Hulle het ook verwag die geld gaan vinniger inkom. “Ons het ’n eetplek geopen en dit het ’n restaurant geword. Ons het mense genooi om self bessies te kom pluk en dít het uit sy nate gebars. Ons het die Bessiefees begin en in die eerste jaar het 150 mense gekom – nou is dit 4 000.”

Alles wat hulle aanpak, is ’n sukses, maar die winste weerspieël dit nog nie. “’n Plaas kan ’n bodemlose put wees,” sê Jean. “En ons boer met meerjarige gewasse – dit vat veel langer,” voeg Jonathan by. “Gelukkig is Jean se pa geduldig. Hy is al lank genoeg in die land om te weet ’n boerdery het maar sy hoog- en laaggety, maar ek dink ook hy hou maar net van ’n goeie storie.”

 ??  ?? Die Debengeni-waterval, wat “Plek van die groot pot” beteken, is 25 km van die dorp af en ’n groot gunsteling onder inwoners, veral vir pieknieks.
Die Debengeni-waterval, wat “Plek van die groot pot” beteken, is 25 km van die dorp af en ’n groot gunsteling onder inwoners, veral vir pieknieks.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa