Foto-essay Willem van der Berg wys die gesigte van die agterpaaie
Agterpaaie, uithouvermoë en plattelandse gasvryheid loop hand aan hand. Willem van der Berg stel ons bekend aan ’n paar van die gesigte wat hy leer ken het.
Daar’s reën in die Karoo...
Dit is ’n koue, nat Augustusoggend tussen Beaufort-wes en Fraserburg. Voor in die grondpad staan ’n ligblou lorrietjie. Op die tweevlaklaaibak is ’n klomp jong merino’s, en aan die kant van die laaibak hang ’n ouerige man. Ek hou stil, vra of ek kan help. Sy bruin weermagjas lyk nat en hierdie stuk Karoo is nog skoon van selfoonsein. Alles reg, alles reg, sê hy daar uit die fyn reën. Ek staan rond, want die lammers se nat wol en die Karoo se nat bossies laat voel my binnekant vars en anders.
“Piet le Roux.” Die oom se hand voel skurf, soos die aarde. “Dankie vir die lekker reën wat jy gebring het. Gee jy om as ek my pyp opsteek?”
Die rook klou vas aan die nat wol, die veld, oom Piet se nat weermagjas en laat my vergeet van die kere wat ek langs die pad gestop het en mense nie dankie gesê het nie.
My vrou weet al: As ons van Bloemfontein af see toe ry, kan dit enigiets van twee tot vyf dae vat om daar uit te kom. Dit is my skuld: Ek is allergies vir hoofroetes.
Ons ry dus agterpaaie en probeer ook elke keer ’n ander roete sodat ons nóg van ons land kan sien en nóg van sy mense kan ontmoet. In die Lord’s Kitchen-restaurantjie op Carnarvon het ons byvoorbeeld met Juan en Janika Louw aan die gesels geraak. Dit het uitgeloop op ’n plaaskuier wat gemaak het dat ons later na hulle wonderlike Karootroue toe genooi is.
Op Willowmore het Sophia van der Merwe weer vir ons ’n fantastiese geskenk gegee toe sy hoor ons is op ons wittebrood: ’n aand se verblyf op hulle gasteplaas, Keurfontein.
Agterpaaie en plattelandse gasvryheid loop hand aan hand. Dit is langs dié paaie waar mense nog sal stop om te help met ’n pap wiel.
’n Agterpad hoef nie noodwendig ’n grondpad te wees nie, maar as dit is, is dit nóg beter. Daar is stil ooptes waar jy kan stilhou. Wye uitsigte waar jy ’n koffiefles kan oopmaak. En hier langs die grensdrade van plase sien jy stokstertmeerkaaie, bakoorjakkalse, koedoes, steenbokkies en valke.
Jy gaan ook mense sien wat merino’s, dorpers of bonsmaras bymekaarmaak. Mense wat draad span en windpompe werk. Soms sal jy moet stop as ’n trop skape of beeste padlangs getrek word na beter weiding. Draai jou ruit af en vra ’n bietjie hoe ver hulle nog moet stap of wanneer laas dit gereën het.
Jy sal verbaas wees oor die uithouvermoë van mens en dier langs hierdie paaie, en die wonderlike stories wat hulle jou kan vertel. Maar die belangrikste dinge wat jy langs die agterpaaie sal leer, is dat ons land en sy mense baie mooier is as wat die nuus elke aand vir ons probeer wysmaak.
Tyd vir ’n koffietjie
Drade is nou nie juis iets waaraan ons vreeslik aandag gee nie. Hulle vlieg by ons verby op die N1, die N10, die N12... Langs ’n agterpaadjie deur die Groot-karoo sien jy ’n trop dorpers agter ’n grensdraad. Jy sien snaarreguit drade wat oor skurwe rantjies draf en in oneindige vlaktes af hardloop. Nou en dan jaag jy by draadspanners verby. Soms druk jy die toeter. Maar ons dink nooit regtig aan wat dié mense moes doen om daai drade regop te kry nie.
Langs ’n plaaspad tussen Carnarvon en Loxton vertel die meesterdraadspanner Hans Jors dat klippe sy draadwerkery die meeste ophou. “Oeg, jy sien mos hoe lyk dit hier van die klip. Dis hard. Dis oralster hard. Ons het al klippe uitgehaal wat met die jiep [ ’n Land Cruiser] uitgesleep moes word. Om draad te span oor hierdie aarde is harde werk. Jou hart moet reg wees.”
Die vriendelike vellieman
Dit is Saterdagmiddag as ek en my vriend Pieter Steyn deur Wuppertal ry. Ons soek rooi vellies, maar die velskoenfabriek is toe. Mense beduie ons na Arnold Gertse se huis toe, die vellievoorman. Arnold se huis is spierwit en daar is ’n donkergroen druiweprieel vol pragtige trosse op sy voorstoep. Nee, nee, ons pla nie, sê Arnold. Maar ek weet ons pla. Dit is sy verjaardag en dis Saterdag en al wat ons na die partytjie toe bring, is ons skoengroottes. Hy skryf dit op ’n stukkie papier wat in die sitkamer bly lê en wil ons opgewonde sy uie-oes agter die huis gaan wys en in my kop praat ek met myself: Vergeet maar van jou vellies.
As ons wil ry, laai Arnold eers vir ons ’n sakkie van sy uie in. Twee maande later kry ek twee paar rooi vellies in die pos. En twee stukkies papier. Een met ons skoengroottes op en een wat sê: “Dankie dat julle hier was.”
Pa en seun gaan stap
Ek is mal oor worshonde. Toe ek dus in Williston se stowwerige Kraalstraat dié twee sien aankom, wag ek hulle in. Jan Jooste en Snippie is vriendelik, maar albei effens skaam. “Neem eerder vir Snippie af,” sê Jan. Snippie kyk weg. Toe sien ek dieselfde skemer in albei se oë en neem hulle saam af. Want ’n pa en seun hoort bymekaar op foto’s. >
’n Pou wat hou van pronk
Een van die beste dinge wat jy op ’n agterpad kan doen, is om te vra hoe langs die pad loop. Die mense van ’n plek kén die kortpaaie, die mooi paaie, die swemgate, braaiplekke, plekke om wyd te kyk, plekke om onder die sterre te slaap. Só ’n gesprek kan enige dag aanhou tot daar later die aand skaaptjops op ’n vuur gepak word. Gewoonlik leer jy dan iets. Soos by Kerneels Jacobs op die plaas Banksgate tussen Merweville en Sutherland:
“Daai pou hou van pronk vir vreemde mense.”
Oopte is kosbaar
Dit is belangrik om te verdwaal. Dit dwing jou in rigtings waarheen jy nie anders sou gaan nie. Dit leer jou dat dinge nie altyd volgens plan hoef te verloop nie. Dit laat jou op Rooiberg in die Knersvlakte beland.
“Ou weermaggrônne wat doerie jare by ons mense gevat is en waarop ons nou weer kan boer. Hier lê nog bomme wat lewe hier rond,” vertel Paul Swartz en sy buurman Jan Klaasen.
Maar lewende bomme is die minste van hulle probleme. Die son is hier alewig op die aanval. Hou die skape kop onderstebo, brand die drinkwater tot sout, maak die manne se oë skrefies, bak die vroue in die sinkhuisies soos potbrode. “Ja, dit is ’n droë en warm gedoente hier by ons. Maar ons vat dit. Dit is beter om na reent te verlang as na oopte.”
Na waar die gras groener is
By Heuningvlei, weggesteek tussen die Sederberg se kranse en suikerbos, voel die aarde na ’n rustige, mistige paradys. Agter ’n groen telefoonhokkie maak Gert Theron die kraaltjie vir sy meatmaster-ram oop en stap met hom aan ’n leiband na ’n kol lang gras waar die ram kan wei – ver genoeg van die perskeboom af dat hy nie die perskes bykom nie. “Jeerder, hy like perskes,” sê Gert. “Deur die dag loop hy op sy eie, maar in die aande kom die ooie kraal toe en dan kan die ou sy ding doen. En ek leen hom nogals uit ook.” Dit kos R10 as jy wil hê Gert se ram en jou ooi moet ’n perske deel.
Vasbyter
Gamoep is net ’n plaasopstal in die wye vlaktes van die Boesmanland. Oom Jan Beukes vertel hier het jare terug baie meer aangegaan. Agter die huis was ’n winkel en motorhawe. Die wit geboutjie dop nou al kwaai af; op sy een kant byt “G_moep Winkel” en op sy ander kant “_amoep Garage” nog vas. Mense en reën is hierlangs ewe yl.
“Ek kan nie op ’n ander plek bly nie. Ek word skoon siek op pad Springbok toe. My voete ken net dié veld se klippers en my kop hierso se stiltes.” >
Lewensare
Langs agterpaaie sal jy soms ’n groepie mense om ’n windpomp sien. ’n Klein, geheime byeenkoms om lewens te red. Want ’n windpomp is die hart wat groot dele van ons land aan die gang hou. Hulle skep heilige waters uit koel dieptes en gee dit aan mens, dier en menige lusernland. Wanneer windpompe reggemaak word, word baie dorste geles en bloed aan die klop gehou. Michiel Kotze het een middag tussen Bloemfontein en Jagersfontein sy drie windpompe nagegaan. In die stil namiddaglug kon ek hoor hoe hy vir elkeen sê: “Dankie vir alles”.
Gee vet, man!
Op klein dorpies speel kinders nog buite. Jy sien hulle op fietse in die strate. Of besig om nerfaf balle in ’n grondstraat rond te skop. En dan is daar draadkarre. Regte draadkarre, gemaak van blou- en binddraad. Met koeldrankblik- of tennisbalwiele. ’n Dorpie waar draadkarre gewilder is as slimfone, is Philipstown, suidwes van Vanderkloofdam en noordoos van De Aar. Hier word selfs jaarliks ’n Draadkar-grand prix gehou, ’n jaagtog van 2 km. Om die NG kerk, by die polisiestasie verby, deur die waterpunt by die Werda-supermark, al in die hoofstraat af tot by Merino Motors-vulstasie.
As die Boesmanland vat
Oom Appie Alexander sê as hy koffie met “lekker” water drink, “smaak’it skoon na flou pis”. Ja-nee, hy soek sy koffie met brak water. As al jou dae met die Boesmanlandse son begin en geëindig het, en jy het al jou nagte met haar droë asem oor jou lyf gelê, dan is jou bloed so sout soos die water onder daardie aarde. Jou oë raak swart. Jou oë raak die klippe in die kaal veld. Vra vir oom Appie oor daai liedjie “Boesmanland, vat my hand...” Hy gaan die enigste twee vingers aan sy regterhand vir jou wys en sê: “Jy hoef nie hierdie wêreld nog te vra nie. Sy vat. Sy vat gou. En baie. Al die soet.” >
Die strate sê alles
Die beste manier om ’n dorp te verken is om deur die strate te stap. Só kan jy hoor waaroor die mense op die sypaadjie gesels; rondom bakkies voor die koöperasie kan jy hoor hoe die weer gaan maak; en deur huise se oop ruite sal jy hoor waarop die mense se radio ingestel is. In dorpe se strate kry jy gou ’n idee hoe dinge daar werk. Jy sien hoe kyk die mense na jou. Jy sien hoe kyk hulle na mekaar. Jy sien of hulle lag. Jy sien of hulle tuinmaak, stap of braai. En jy sien baie gou of jy daar sal kan bly of nie.
Die ‘magic’ van Madiba United
Langs agterpaaie word daar Sondagmiddae sokker gespeel. Baie selde op gras; meestal op ’n oop stuk grond in die veld. Die grond kan baie hard, baie klipperig of baie sanderig wees. Maar as die ouens speel, is dit altyd baie stowwerig. Die span van Noenieput (soek daar langs die reguit jakkalsproef wat teen Namibië opdraf Kgalagadi toe) is Madiba United. Die kaptein en afrigter in 2014 was Marthinus Witbooi. Hy het in sy vellies geoefen “sodat my toks vars bly vir wedstryde”. Hoekom Madiba United? “Jy sien waar sit ons. Noenieput is nou nie eintlik ’n plek van wonderwerke nie. Ons het ’n bietjie Madiba
magic nodig om te survive hierlangs.”
O die donkiekar...
As ek ’n donkiekar sien, soos dié een op Merweville, dink ek altyd aan Gert Bezuidenhout van Askham. Gert het belangrike verskille uitgewys tussen motorongelukke en donkiekarongelukke. “So ’n mouterongeluk maak die mense sommer skielik dood. Met die donkiekar darem nie; jy val jou net deurmekaar.”
Was die baklei uit jou uit
Langs agterpaaie kom ons land se mense bymekaar. Hier, op die oewer van Bloedrivier, terwyl ek staan en dink hoe Voortrekker en Zoeloe mekaar doodgemaak het, hou ’n klein trokkie by my stil. “Is alles reg?” wil die bestuurder met ’n breë glimlag weet. Ek is nie seker nie, sê ek. Hoe voel hy oor wat hier teen die rivier gebeur het? Hy klim uit, kom skud my hand. “Albert Dlamini.” Ek sien myself in sy donkerbril. “Kyk na die rivier. Hy was vol bloed. Nou loop hy weer met vars water. Ons moet ophou baklei. Elke dag wat ons nie baklei nie, word ons skoner. As ek na die rivier kyk, dan dink ek aan water en nie aan bloed nie.”