Weg! Platteland

Chrismari van der Westhuizen wys die Noord-kaapse droogte deur haar kameralens

- FOTO’S CHRISMARI VAN DER WESTHUIZEN

As dit 25 mm reën oor ’n tydperk van drie jaar, dan praat ons van ernstige droogte. Dis ’n droogte wat mens en dier uitmergel, een wat jou soggens laat wakker skrik pleks van wakker word, sê Chrismari van der Westhuizen van die plaas Uitspankol­k 100 km noord van Loeriesfon­tein.

Moeg

Vandag waai die wind weer in die Boesmanlan­d. Nie ’n vars bries nie, maar ’n warm, stowwerige wind. En ek is moeg. Moeg vir die stof en die droogte. Moeg vir sê dit gaan goed al voel jy nie so nie. Moeg vir lammers sonder ma’s. Moeg vir honger skaap en voer gee. Moeg vir goedkoper voer soek en planne maak. Moeg vir hoor daar is nêrens lusern nie – en as jy uiteindeli­k kry, kan jy dit in elk geval nie bekostig nie. Moeg vir nie oplossings vind nie. Moeg vir altyd positief wees. Moeg vir die kinders preek oor dink aan die dag van môre. Soms wil ’n mens mos net die hele pak lekkers vandag opeet en nie bekommerd wees oor môre nie. Moeg vir jou bes probeer om alles te red. Moeg vir die dooie skaap. En nee, hulle is nie dood omdat jy nie vir hulle kos gee nie, maar omdat hulle skynbaar net hulle lus vir die lewe verloor. Moeg vir plig en verantwoor­delikheid. Moeg vir nie van die huis af weggaan nie, omdat jy bang is daar gaan iets fout op die plaas as jy nie daar is om nog planne te maak nie. Moeg vir jaar ná jaar hoor daar sal uitkoms kom en wonder of jy nog hier sal wees om daardie dag te sien. Moeg vir seëninge soek om te tel en dinge te soek om voor dankbaar te wees. Sommer net moeg.

Dalk waai die wind nie môre in die Boesmanlan­d nie, en dan gaan lê die stofwolk wat oor my gemoed hang, sommer ook...

Die Boesmanlan­d het haar doodskleed aan, en oor haar gesig is ’n sluier van stof getrek. Sy rou oor die reën wat wegbly en haar diere wat omkom. Net die mismoedige weeklaag van ’n windpomp verbreek die doodse stilte – ’n vrugtelose poging om ’n druppel water diep uit die verskroeid­e aarde te suig. Die genadelose son bak op die kaal vlaktes neer.

Tog is hier nog lewe.

’n Troppie maer skape en ’n paar waaierster­tmeerkatte hou die pad aandagtig dop. ’n Bondel kraaie hou ’n jolige partytjie om die karkas van nóg ’n droogtesla­goffer. ’n Paar mismoedige springbokk­e kou aan die dooie bossies... Dan, skielik, is dit asof alles begin lewe. Die meerkatte staan regop, die skape begin blêr en daar verskyn ’n swerm voëljies uit die niet. Iewers op ’n sinkplaatt­weespoorpa­adjie hoor hulle die gerammel van ’n oorlaaide plaasbakki­e wat voer bring.

My naam is Chrismari van der Westhuizen­batt. Ek is ’n boervrou van die Boesmanlan­d. Ek en my man, Franchwa, en ons twee dogters, Mischa (7) en Mia (6), noem die verlate deel noord van Loeriesfon­tein ons huis. Maar waar ons bly, is eintlik nie belangrik nie. Ons verhaal is soortgelyk aan dié van boere uit droogteget­eisterde gebiede reg oor die land.

DIE BOESMANLAN­D is kaal en verlate. Ek onthou hoe ons jare gelede as ons mekaar op die dorp of teen die pad raakloop, moedig grappies gemaak het oor die droogte. Soos die droogte voortgesle­ep het, het die grappies minder geword. >

Al hoe meer leë doppe…

“Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie; en tog voed julle hemelse Vader hulle.” Soms voel ek lus en skree: “Here, het U dan van die skilpaaie vergeet? Hulle het tog nie vlerke om te trek en kos te gaan soek nie? Waar moet hulle dan water kry as die aarde kaal en verskroei lê? Hulle kan tog nie by die waterkripp­e drink nie en die vetplante is reeds jare dood?”

Elke dag raak die leë doppe op die plaas meer en meer. Eers het ons gedink dit is die kraaie, maar hulle is nie opgeëet nie, net dood... Ek lees dikwels die kommentaar op plasings oor die droogte. Daar is meestal iewers iemand wat heel vermakerig beweer dat dit God se manier is om ons as sondaars te straf. Hoekom? Straf dan die sondaars, maar hoekom die onskuldige diere ook? Ek kan nie dink dat God die hele Boesmanlan­d se diere sal laat dood van die honger en dors net om die mens te straf nie...

En so neem ons sondige ou gesinnetji­e van vier dit op onsself om elke lewende skilpad wat ons vind, ’n kans op oorlewing te gee. Soms kry ons een iewers in die pad, te moeg en swak om die walle van die grondpad te klim. Ons tel hom op en bring hom huis toe. Versigtig verwyder ons die bosluise wat die laaste bietjie lewe uit hulle suig. En dan gee ons hulle water en kos. Die kinders dra moerbeie, groen lusern en slaaiblare aan na hulle blyplek onder die moerbeiboo­m. Gister kry ons weer een wat amper nie meer een toon het nie. Hy is so lig en weggekrimp in sy dop. Ons gee hom dadelik water toe ons by die huis kom. Later die middag roep ek vir Franchwa om te kom kyk: Die ou uitgedorde skilpadjie lyk amper of hy uit sy dop gaan bars van al die water wat hy gedrink het.

Soms gaan sit ek daar onder die boom by hulle. Dan vertel ek vir hulle van die dag wat ons mekaar sal moet groet. En ons droom saam oor bevryding van die droogte en die opslag wat soos ’n groen mat oor die Boesmanlan­d lê.

En soms… ’n stil gemoed

Soms, te midde van die uitmergele­nde droogte wat soos kanker aan jou siel vreet, vind jy stilte in jou gemoed. Op ’n Sondagmidd­ag lok die Boesmanlan­dse bekoring jou uit die halfskemer kamer waar jy jou moeë liggaam net wil neergooi tot dit weer eendag groen is. En skielik besef jy hoekom jy nog hier is: Al is die Boesmanlan­d nou ’n woestyn en al veg jy elke dag om alles aan die lewe te hou, is daar geen ander plek waar jy eerder wil wees nie. Jy weet jy sal hierdie stryd wéér veg, want al is jou drome en ideale soms verflenter­d, is jou hart vol.

Groen veld is maar net ’n droom

Eendag terwyl ons besig is om al die ou ooie tussen ons skaap uit te haal kom die gedagte skielik by my op: Ek wonder hoeveel van die ooie het al regtig weelderige groen veld gesien? Met hartseer besef ek die meeste van hulle is vir die grootste deel van hulle lewe met voer aan die lewe gehou. Daar is jong ooie wat al lammers grootgemaa­k het en nog nooit in hulle lewe ’n druppel reën ervaar het nie.

Ek wonder hoe die lammers in die klam grond sal speel as dit eendag reën. Sal hulle so uitbundig bly wees soos die boere? Sal hulle ook dink daar is niks wat lekkerder ruik as die grond ná die eerste reën nie? Ek wonder of hulle die Boesmanlan­d sal herken as die goue gras in die wind wuif en die vleie vol vars water is. Sal die maer springbokk­e genoeg krag hê om uitbundig te pronk? En hoe lekker sal dit nie wees om veld toe te ry sonder voer nie?

Ons droom van die dag wanneer die kelkiewyne weer by die gronddam raas en die skaap dikgevreet in die son lê en bak, want dan sal die boere weer kan lag.

Daar’s lewe!

Eendag ry ek, Franchwa en die kinders gou Tweerivier toe om die skape te gaan voer gee. Dit is ongeveer 60 km van Uitspankol­k (waar ons bly) tot by Tweerivier, en dit is kilometer ná kilometer net dooie, kaal aarde. Skielik sien ons iets geel in die pad, want hier tussen die leiklippe moet jy maar mooi kyk waar jy ry.

Ek vra: “Wat was dit?”

“’n Blommetjie,” sê Franchwa en ons ry in stilte verder. Ons is te haastig om stil te hou, want ons weet die skape wag vir hulle voer.

Op pad terug huis toe stop Franchwa, haal sy waterbotte­l uit en klim uit die bakkie. En daar in die pad, tussen niks en nêrens, waar geen groen te vinde is nie, staan ’n duwweltjie met vier geel blommetjie­s. Franchwa gooi hom nat en ons vier staan in stilte en kyk hoe die dors aarde die water opdrink. Toe ons ry, sê ek vir Franchwa: “Ek hoop nie iets eet hom op nie,” waarop hy sê: “Ek hoop ten minste die dier wat hom eet, waardeer hom.”

Droogtewor­tels en brakwaterb­eet

Elke jaar as die dae warmer raak en die nagte nie meer ’n wit rypkombers agterlaat nie, begin ons ’n bietjie groente plant. Die Boesmanlan­d is nou nie juis die maklikste plek op aarde om te plant nie, en as dit so droog is soos nou... wel, dan is dit ’n saak van geloof en gebed. Die honger voëltjies trek die klein plantjies by die bondels uit, want die groenighei­d is iets wat hulle nêrens anders kry nie. Alles moet toegemaak word. Die warm son en droë lug verdor dié wat die aanslag van die voëls oorleef.

Maar hoekom plant ons dan as dit so ’n stryd is? Sien, groente produseer nie oornag nie. Eers aan die einde van die somer sal ons oes. Dit is ’n vooruitsig. Dit beteken ons glo dat ons nog hier sal wees aan die einde van die somer om ons oes te pluk. Ons glo die reën sal kom en ons sal die droogte oorleef.

Vir die kinders probeer ons te midde van al die chaos en onsekerhei­d wat die droogte teweegbrin­g, alles so normaal as moontlik hou. Mia en haar ouer sussie sien elke jaar uit na die boontjies, mielies , pampoene. So plant, sal ons plant.

Later het dit plek gemaak vir ’n stille moedeloosh­eid. Elkeen het sy swaarkry in stilte verduur. Te trots om te erken dat ons swaarkry. Of miskien het dit net oor só ’n lang tydperk gebeur dat ons half gewoond geraak het daaraan om met die minimum oor die weg te kom.

En nou? Nou is ons verby die stadium waar ons ons swaar vir mekaar probeer wegsteek. Ons praat met mekaar oor ons hartseer en onsekerhei­d. Elke dag hoor jy van nog ’n vrag skape wat die Boesmanlan­d verlaat en nooit weer sal terugkom nie. Nog ’n plaas wat verlate lê. Nog iemand wat sê daar is niks meer wat hulle boerdery kan red nie. Ons raak minder by die dag en ons is bang. Bang vir die dag wanneer ons beurt aanbreek...

Ek het dikwels gewonder oor die frase “Moedverloo­r se vlakte”. Hoe bereik ’n mens hierdie plek waarna daar so dikwels verwys word? Vandag weet ek baie van ons boere staan in hierdie genadelose droogte op moedverloo­r se vlakte. Dit is daardie gevoel van magteloosh­eid wat oor jou spoel as jou planne opraak. Dit is die bankbestuu­rder wat sy kop stadig heen en weer skud sonder om jou in die oë te kyk. Dit is rekeninge waarin groot syfers in rooi gedruk word. Moedverloo­r se vlakte is waar die voerstore leeg is en die Agri-rekening vol. Dit is die plek waar jy nie weet waar daar geld vir lone of skool of kos en klere vandaan moet kom nie, want elke sent koop voer. >

ONS BOERE EN BOERVROUE is geharde, aanpasbare mense. Maar hierdie droogte sonder einde breek iets diep binne in jou. Ek was oortuig ek sal onverander­d en sterk staan. Ek sal my nie sal laat onderkry nie... tot daardie noodlottig­e dag. Ons het ook, soos die meeste boere, besluit ons moet die skaap minder maak.

Ons het weke voor die tyd begin om ’n klompie ooie bymekaar te sit wat dan einde ten laaste na groener weivelde en nuwe tuistes sou gaan. Hierdie is skape wat ons hulle lewe lank ken. Uitgekies as klein lammertjie­s om vir die res van hulle lewe in die Boesmanlan­d te leef. Ek het vir elkeen vertel dat hulle nou na ’n beter plek gaan, ’n plek waar die veld groen is. En ek was tevrede met ons besluit. Toe breek die groot dag aan waarop hulle die plaas vir ewig sou verlaat en steeds was ek sterk en onverander­d. Selfs toe ons hulle op die vragmotor laai, het dit my nie gepla nie.

Maar toe die vragmotor deur die plaashek ry, het daardie sterk boervrou binne-in my gebreek. Ek het gehuil oor ons geliefde skaap wat ek nooit weer sou sien nie. Gehuil oor die lammertjie­s wat verstoot word omdat hulle ma’s beswaarlik self kan oorleef, en oor die ooie wat ten spyte van al die voer en sorg net dood. Gehuil oor die droogtehul­p wat net leë beloftes is en die kinders vir wie ek altyd moet nee sê vir alles wat hulle graag wil hê. Geen mens kan soveel dood en ellende dag ná dag aanskou en onverander­d bly nie. >

Donderweer

Boere probeer altyd die mooi in alles sien, maar daar is drie soorte mooi wat alles oortref. Die eerste is vet, gesonde diere. Tweedens geil veld so ver as wat die oog kan sien.

Maar seker die mooiste van alles is donderwolk­e wat onstuimig met mekaar gesels. My man sê altyd ek en my pa kyk die donderweer weg. As die eerste tekens van ’n wolkie in die lug verskyn, hou ons hom dop. Raak hy groter? Verskyn daar nog? Na watter kant toe beweeg dit?

En as die weer uiteindeli­k begin saampak, doen ons oor die telefoon aan mekaar verslag. Donderweer is temperamen­teel. Die een oomblik is alles rustig en die volgende dink jy die wêreld gaan vergaan. Die laaste klompie jare het ons weining donderweer gesien, en die meeste van die tyd is dit weggedryf deur die wind voordat ’n druppel kon val.

Maar as dit reën en die reuk van nat grond vervang dié van stof, dan kry alles op die plaas lewe. Die skape speel uitbundig, die voëltjies bad in die plasse en die kinders jaag die wit skoenlappe­rs wat uit die niet verskyn. As dit reën, loop ons kaalvoet in die modder, drink vars water uit die vleitjies en jaag sommer deur die plasse net om kamstig die bosse nat te lei. As dit reën, lag ons uitbundig en geniet die oomblik. En vir daardie dag is ons bekommerni­sse eers weggewas.

Is daar lig in die tonnel?

In hierdie stadium lewe ons van dag tot dag. Ons probeer ons nie eens indink wat sal gebeur as dit nie binnekort reën nie. Die onsekerhei­d oor die toekoms is vir al die boere soos ’n donker skaduwee wat jou daagliks volg. Al sou die welkome reën môre uitsak, is dit nog lank nie die einde van die geveg nie. Dit reën nie veld nie. Hier by ons is die meeste van die bosse en gras dood. Dit beteken nuwe plantjies gaan eers moet opkom, en dit kan jare vat voordat hulle groot is – en daarvoor sal ons gereeld moet opvolgreën kry. Hulle sê altyd die meeste van boere se probleme los op in reënwater, maar ongelukkig sal boere steeds jare moet werk aan al die skuld wat hulle moes aangaan om hulle diere aan die lewe te hou. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie; ons weet nie eens of ons nog op die plaas sal wees om die eerste reën te sien val nie. Al waarvan ek seker is, is dat die emosionele letsels wat die droogte agterlaat, nog baie lank met ons sal bly.

G’n geld kan dit koop

Om kinders in die droogte groot te maak is, om die minste te sê, ’n uitdaging. Maar ons probeer die beste van die situasie maak.

Ek was self ’n kind in die droogte van die vroeë jare tagtig. My ouers het seker ook dikwels gewens daar is ’n bietjie ekstra geld vir ’n mooi rokkie, ’n lekkertjie of selfs ’n speelding.

Tog is die kinders ten spyte van min luukshede so gelukkig op die plaas. Ons maak hulle verantwoor­delik vir klein takies. Ons is almal so besig en hulle is verantwoor­delik om na hulle diere om te sien. Hou die waterbakke vol, gee die kuikens kos, maak die hoenders saans in hulle hokke toe, vat vir die ystervark sy kos, tel die eiers op... Dit is klein werkies, maar leer hulle as jy diere wil hê, het jy ’n plig om hulle te versorg.

Die deernis waarmee Mischa en haar sussie na diere omsien, verstom my elke dag, en soms as hulle so na skaapkraal ruik, kaalvoet en met hulle stokou plaasklere aan, is ek so trots op hulle. Dan weet ek dat al die geld in die wêreld nie vir kinders geluk kan koop nie.

Soveel tekens, so min druppels

Dae, weke, maande, jare... dit voel vir ons asof dit nooit weer sal reën nie. Nooit weer sal ons skape wegraak in die gras nie. Nooit weer sal die skape vet wees nie. Nooit weer sal ons ons nié hoef te bekommer oor voer nie. Nooit weer sal ons lewe net normaal wees nie.

Tog soek ons daagliks vir ’n teken dat die reën op pad is. Daar was vandag ’n koggelmand­er op die paal by die plaashek: As die koggelmand­ers so op die bosse en pale sit, is die reën naby. Weke later en geen reën nie. Ons sien ’n pofadder op die teerpad naby Loeriesfon­tein lê en bak, en dit is beslis ’n goeie reënteken. Die droogte duur voort.

Europese byvangers kom en gaan, ’n verskeiden­heid van plante wat glo net voor reën blom, blom en die blomme verskroei – en steeds bly die reën weg. Elke moontlike kansie wat ons kry, gaan kyk ons na ’n verskeiden­heid weervoorsp­ellingsdie­nste se nuutste voorspelli­ngs, net om teleurgest­eld te wag op die beloofde paar druppels wat nooit kom nie. Almal sê die reën sal op die regte tyd kom... vir hoeveel boere en diere dit te laat sal wees, weet ek nie.

O Bokkie, ek wil jou hê

’n Paar maande gelede kom vertel die sewejarige Mischa vir ons daar’s ’n steenbokki­e wat sy gevryf het toe sy die hoenders toemaak. Ek luister so met ’n halwe oor... Hier is baie steenbokki­es wat kom kos soek om die huis, en hoewel hulle redelik mak is, het die kind ook maar ’n goeie verbeeldin­g.

Een koue middag toe ek buite die huis kom, staan daar ’n bedremmeld­e ou steenbokki­e buite ons huis. Franchwa gaan tel hom op. Hy is oortrek van luise en het erge longontste­king.

Ons begin hom toe dokter. Bedags word hy buite in die sonnetjie neergesit en saans slaap hy tussen die kafbale in ons stoor. Soms as dit so verskrikli­k koud is, kry ons hom só jammer dat hy sommer die aand in die huis deurbring. Die ongeloofli­ke deel is dat hy ’n knippie in sy oor het – eens op ’n tyd was dit dus iemand se mak bokkie. Ná baie aandag en medisyne het hy nou amper volkome herstel en is steeds mak. Hy is een van die gelukkiges.

Koning van die vlaktes

Die springbokk­e wat eens op ’n tyd pronkend in die boesmangra­s gespog het, is nou ’n bejammeren­swaardige skadu van hulle ou self. Kopbene versier die Boesmanlan­dse vlaktes soos wit blomme op ’n roudiens.

Op ’n dag kry ons hierdie ram teen die pad. Hy het nie meer ’n poging aangewend om weg te hardloop nie. Die gedagte wat by my opgekom het, was dat hy dalk gehoop het op ’n spoedige dood. Eens op ’n tyd was hy ’n koning van die vlaktes, maar die droogte het sy liggaam afgetakel. Ons het al dikwels probeer om groot springbokk­e huis toe te neem en voer te gee. Maar as hulle eers so swak geraak het dat jy hulle kan optel en huis toe vat, dan het die droogte klaar gewen.

En tog, ten spyte van alles, is die droogte ook vol stories van hoop, deernis en omgee. So dikwels raak ons so vasgevang in ons eie wêreld van verdriet en moedeloosh­eid dat ons vergeet van die grootharti­ge mense daarbuite wat bereid is om ’n helpende hand uit te steek. Dikwels is ons te trots om hulp te vra, al skree dit hier in jou binneste “Help my net asseblief!” En tog is daar mense wat deur hierdie brawe fassade sien en ruimhartig vir die boere gee, sonder dat hulle hoef te vra. Daardie een sakkie mielies, baal voer, R10-donasie of toegedraai­de sepie voel dalk vir ander mense soos ’n kleinighei­d, maar vir ’n boer of boervrou maak dit ’n groot verskil. Dit gee hoop.

En sonder hoop was ons tasse lank reeds gepak en die plaashek vir oulaas gesluit...

Chrismari is ’n amateurfot­ograaf wat gereeld van haar foto’s op sosiale media laai. Volg haar gerus op Instagram – haar gebruikers­naam is @xmaryv.

’n Vlakte niks

Op die plaas waar ons skapies wei – of sal ek eerder sê voer kry – is daar feitlik geen meer plante wat lewe nie. Selfs die kokerbome is besig om een ná die ander dood te gaan.

Hier het dit in die afgelope bietjie meer as drie jaar nog nie ’n volle 25 mm gereën nie. Dit is nie 25 mm per jaar nie, maar vir die hele tydperk. En die rëenval vir die vier jaar voor dít was ook ver ondergemid­deld.

Dit is ’n gesig wat jou ’n hol kol op jou maag laat kry. Waar die uitgestrek­te vlaktes eens op ’n tyd met goue gras oortrek was, is nou nog net ’n paar swart graspolle, half versteek deur duintjies sand wat alles toewaai.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa