Hier’s ’n nuwe boek met die A-Z van dié waterslim staatmakers
Ons woon in ’n land waar water weens klimaatsverandering al hoe skaarser en duurder gaan word. Daarom maak dit soveel sin om waterslim vetplante in jou tuin te plant. Met Gideon F. Smith en Ben-erik van Wyk se nuwe boek Tuinvetplante onder die blad sal jy al die kennis in pag hê.
Ongeveer 4% van die blomplante op aarde – sowat 12 500 spesies – is vetplante wat hulle vlesige blare, stingels of wortels as ’n strategie gebruik om kort of lang tydperke van droogte te oorleef. Meer as ’n derde van dié plante – ’n stewige 4 500+ spesies – kom voor in Suiderafrika, waar dit sowat 25% van die totale flora uitmaak. Hierdie ryk verskeidenheid vorms, groottes en beskrywings is oor meer as 80 verskillende families en amper 700 genusse versprei (met ’n beduidende konsentrasie in omtrent 15 families).
Ander streke met hoë konsentrasies vetplante sluit in dele van Suid-amerika, Mexiko en die suidelike VSA in die Nuwe Wêreld, en die Kanariese Eilande en Mediterreense Europa in die Ou Wêreld.
Maar wat is ’n vetplant?
Die definisie van sukkulensie is effens meer ingewikkeld as wat dit aanvanklik lyk. Een lui: “’n Vetplant is ’n plant wat water in sy weefsel berg as ’n meganisme om periodes van droogte in die groeifase te oorleef (dit sluit dus knolen bolplante uit, wat droogtes oorleef in hulle dormante fase).”
Ander wetenskaplikes definieer dit soos volg: “Sukkulensie behels die berging van bruikbare water in lewende weefsel in een of meer plantdele, op só ’n manier dat die plant tydelik onafhanklik van eksterne waterbronne is, maar steeds in ’n mate fisiologiese aktiwiteite behou.”
Om ’n volledige identifikasiegids vir hierdie swetterjoel plante te skryf is ’n onbegonne taak, tensy ’n mens jou beperk tot vetplante wat algemeen in tuine voorkom.
Die eerste stap om tuinvetplante te identifiseer is om die hoofgroepe (families en genusse) te leer ken. Gelukkig is die meeste vetplantfamilies só uniek dat ’n mens hulle maklik uitken – jy hoef nie ’n opgeleide plantkundige of tuinboukundige te wees om tussen ’n kaktus en aasblom of ’n aalwyn en garingboom te onderskei nie. As jy eers die groot verskille tussen die families of genusse ken, raak dit makliker om die plant tot op spesievlak te identifiseer.
Vir leke is dit die maklikste om vetplante te klassifiseer volgens die plantorgaan (blare, stingels of wortels) wat vlesig is. Daarom word gereeld verwys na blaarvetplante, stingelvetplante of caudiciform-vetplante (waar die waterstorende weefsel in die stamwortelkompleks is). Maar ander minder konvensionele plantdele kan ook vlesig wees, soos die draadagtige dog vlesige slingerende bloeiwyses van die knolklimop (Bowiea volubilis). Verskillende tipes vlesigheid is ook nie tot een tipe per plant beperk nie, en plante wat blaar- en stingelvlesigheid kombineer, kom algemeen voor.
Vir dié doel word die plante in Gideon F. Smith en Ben-erik van Wyk se boek Tuinvetplante in 10 hoofgroepe verdeel (sien bl. 96).
Die 3 goue reëls
Vetplante is van die robuusste en sterkste groeiers in die planteryk, en vir die meeste soorte het jy glad nie groen vingers nodig om dit suksesvol te kweek nie. Solank jy enkele goue reëls oor vetplante nakom, is jou kop deur.
GROEIMEDIUM Maak seker die plante word nie in hulle dormante fase aan nat voete blootgestel nie. As daar een ding is wat vlesige plante oor die algemeen nie kan hanteer nie, is dit stilstaande water in die “buiteseisoen”, wat gewoonlik met hulle rusfase ooreenstem. Na gelang van die spesie en die toestande wat in hulle natuurlike habitatte voorkom, kan dit in die somer of winter wees. Daarom sal die waaieraalwyn (Kumara plicatilis) uit die Mediterreense winterreënvalstreek van Suid-afrika byvoorbeeld slegs suksesvol in die somerreënvalstreek kan groei as dit relatief droog gehou word in die somer deur dit in potte in ’n kweekhuis of op ’n stoep te kweek.
Hou ook in gedagte dat vetplante oor die algemeen nat toestande meer doeltreffend kan hanteer in oop grond as in potte, waar die grondoppervlak dikwels met klippies bedek is om lelike grondspatsels op die plante te vermy. Net so het ’n anorganiese of organiese deklaag – wat noodsaaklik is – nie dieselfde soms verwoestende effek op plante in die oopte nie. Een van die veiligste maniere om goeie dreinering in potte én oop beddings te verseker is om seker te maak die grondmengsel is korrelrig genoeg – voeg eenvoudig genoeg growwe riviersand by die potgrondmengsel.
LIG Vetplante floreer gewoonlik in helder ligtoestande, met die uitsondering van klein, sagvlesige spesies wat effens gefiltreerde dog steeds helder lig verkies. Slegs wanneer vetplante aan helder lig blootgestel word, sal ’n mens in die tuin dieselfde pragtige blaar- en stingelkleure soos in hulle natuurlike habitat sien.
In die natuur maak vetplante dikwels gebruik van skutbome, oftewel ander nie-vlesige plante, wat meermale die mees intense en skadelikste sonstrale uitfiltreer of skaduwee verskaf – jy sal byvoorbeeld sukkel om sekere soorte aasblomme en miniatuurvygies te kweek tensy hulle ’n mate van beskerming teen direkte sonlig het. Ook plante wat eers in ’n kweekhuis gegroei het, sal in direkte intense sonstrale vir seker skade opdoen, dit maak nie saak hoe laag die persentasie skaduwee in die kweekhuis was nie.
Plante wat weer gewoond is aan volson, sal lelike, dun stingels kry en misvorm raak as jy hulle skielik na skaduwee toe verskuif.
KOS Vetplante, veral dié wat in potte groei, het gereelde aanvullende voeding nodig omdat die voedingstowwe in die potgrond gaandeweg uitloog. Oppas vir anorganiese kunsmis wat baie sterk kan wees en probeer een van die vele organiese opsies wat beskikbaar is. Daar is natuurlik niks fout met doodgewone goeie kompos nie – kleiner hoeveelhede meer gereeld is die beste. >