’n Pretorianer se groentetuin vat haar ver terug na haar jeug op die platteland
In die hartjie van Pretoria het ’n rekenmeester en belastingkonsultant ’n groentetuin gemaak wat nie net kos op die tafel sit vir haar gesin, haar vriende én haar bure nie, maar haar ook terugneem na haar plattelandse wortels.
Ek het in die platteland grootgeword – in Rustenburg, Noordwes, om presies te wees – en was altyd mal daaroor om in die tuin te baljaar. My ouers en grootouers was ywerige groentetuinmakers en ek onthou goed watter heerlik sappige, skeloranje wortels ons uitgetrek het in my oupa se tuin op Bronkhorstspruit. My ma het hoenders in die tuin gehad en ek het vele herinneringe van vrypostige hane wat my daar rondjaag.
Vandag is ek ’n rekenmeester en belastingkonsultant met ’n meestersgraad in belasting. Die afgelope 24 jaar al doen ek konsultasiewerk saam met my man en sakevennoot, Kobus. Ons praktyk is by ons huis in Waterkloof, Pretoria. Ons kinders het ’n paar jaar gelede die nes verlaat en nou woon ons baie gelukkig saam met ons twee honde, Mika (’n labrador) en Snowy (’n malteserkruising). Ons kinders het dieselfde liefde as ek vir kosmaak, bak en tuinwerk – in ons familie is dit alledaags om resepte en saad uit te ruil.
OMTRENT SES JAAR gelede het ek die pad gevat na Rawsonville in die Weskaap, aanvanlik om by Jaco Brand van Picardi Place te leer hoe om pasta te maak, maar toe doen ek ook ’n eendagkursus by Kobus Kritzinger oor permakultuur en kompos.
Daardie dag het my lewe verander. Op pad terug huis toe het my kop gesing van blink gedagtes en nuwe idees.
Wat – en hoe – ons eet, kan regstreeks verbind word met hoe ons ons omgewing gebruik en wat van ons wêreld gaan word. ’n Goeie voorraad gesonde, heilsame voedsel is noodsaaklik vir die oorlewing van die mens, maar dié voorraad word bedreig deur die aftakeling van die omgewing, klimaatsverandering, stedelike ontwikkeling, die ál groter vraag en ál kleiner aanbod, en ons voortdurende drang na ingevoerde produkte. Ons moet eenvoudig leer om minder afhanklik te wees van gevestigde voedselproduksiestelsels. Deur ons eie volhoubare stedelike en voorstedelike landboustelsels te skep kan ons ons deel doen vir die omgewing én beheer neem van wat ons eet en, uiteindelik, ons gesondheid.
Met dié kwellings in my agterkop het ek in die somer van 2013 ’n groentetuin begin, hier in die hartjie van die stad. (Net mooi toe die eerste uitgawe van Platteland verskyn het – Reds.)
Die huis in Waterkloof waarin ons die afgelope 13 jaar woon, staan op
’n erf van 2 500 m² en word omring deur pragtige ou jakarandas. Ons is gelukkig genoeg om ’n boorgat te hê en daarom kan ons die tuin natlei soos nodig.
My eerste groentetuin van ongeveer 40 m² het opgeboude beddings gehad, en Kobus het die besproeiingstelsel gebou en geïnstalleer.
Nog ’n hele paar kursusse in organiese groenteverbouing het gevolg, en dit was nie lank nie voor ek besef het ek het te veel saailinge en nie genoeg beddings nie. Ons het die deel rondom ons swembad skoongemaak en nóg groentebeddings gebou met terrasblokke van sement. En nou is my groentetuin ongeveer 150 m² groot. >
EK GLO ORGANIESE boerdery is baie meer wenslik as konvensionele boerdery, omdat die omgewing nie geskaad word nie en die grond nie op langtermyn uitgeput word nie. Van die oomblik dat ek my groentetuin begin het, het ek weggebly van gifstowwe om peste te bestry. Ek pas eerder wisselbou toe en plant eetbare blomme en kruie as metgeselplante vir my groente om ’n pragtige, gesonde tuin te hê – ek is regtig gaande oor al die bye en ander voordelige insekte wat die blomme van dié plante en van my groente en kruie lok. Echinacea, stinkafrikaners, rose, laventel, viooltjies, kappertjies, komkommerkruid en eetbare krisante blom almal te mooi tussen my groente.
Die gereelde toediening van kompos is noodsaaklik vir ’n gesonde groentetuin – ek verkies dit om elke 4-5 weke kompos te gee, en baie beslis ná elke oes. Ons het ’n geenafvalbeleid in ons huis: Alle rou kombuisafval gaan komposhoop toe, terwyl enkelgebruikplastieksakke, -bakkies en -bottels verbode is. Koerante, papierkardoese, plantsnysels, gesnyde gras en bruin blare word alles op die komposhoop gegooi – ons gebruik gelyke hoeveelhede groen en bruin materiaal met daarby baie water en daaglikse sonlig. Ná ses weke word die kompos gesif en onder ’n seil bedek – reg vir gebruik in die groentetuin.
Ek gebruik slegs organiese erfenissaad om saailinge te kweek. Ek saai ’n verskeidenheid van groente-, kruie- en blomsaad in saadbakkies en gebruik ’n mengsel van bogrond, vermikuliet en erdwurmmis. Wanneer die saailinge sterk genoeg geword het in die son, word hulle in die tuin uitgeplant as die weer reg is. (Min dinge kan ’n mens se moed so breek soos wanneer jy weke in die son deurbring om die outjies kos en water te gee en dan moet toekyk hoe hulle verlep en verdor nadat jy hulle uitgeplant het!)
’n Deklaag is noodsaaklik om die jong saailinge te beskerm, maar ook nodig om die vog in die grond te hou en onkruidgroei te beperk. Ek strooi boombasstukkies in my groentebeddings sodra die saailinge sterker is en in die beddings aangepas het.
Ek speel met verskillende variëteite groente en kruie. Pers aartappels, swart nebulawortels, veelkleurige bete en spinasiebeet – dit is behoorlik ’n reënboog van kleure en geure wat uiteindelik in my kombuis beland waar ek graag interessante nuwe geregte optower, maar ook ou bekendes.
MY REIS MET KOS het op ’n jong ouderdom begin. Ek was nog altyd nuuskierig oor geure, teksture en kleure. My eerste koek het ek vir ons kerkbasaar gebak toe ek 5 jaar oud was, waarna ek dikwels sjokolade- en sponskoeke vir vriende en familie gebak het. Die liefde vir ’n groentetuin, gekombineer met my liefde vir kosmaak, is omtrent soos ’n droom wat waar geword het.
Min dinge is so lekker as om deur jou tuin te stap en te sien hoe gesond die groente is, reg vir pluk, en hulle dan na die kombuis toe te ontbied om in ’n maaltyd gebruik te word.
Artisjokke en wortelgroente kom byeen in filodeeg, dan afgerond met tuisgemaakte fetakaas, en siedaar: ’n heerlike middag- of ligte aandete. >
Pleks van gewone wortels gebruik ek swart nebulawortels om ’n watertand wortelkoek te bak met ’n ryk roomkaasversiersel bo-oor. Jong preie word in ’n reduksie van witwyn, tamatie en dragon gesmoor tot hulle doeksag is.
Sappige en dieprooi boomtamaties rooster ek vir ’n paar minute in die oond voor ek dit omtower in ’n heerlike soet rissieblatjang. Rabarber uit my wintertuin word gebruik vir ’n outydse Engelse frummelpoeding, voorgesit met dik room. Italiaanse tamaties word stadig in die oond gerooster saam met knoffel, uie en tiemie tot dit heerlik sag en stroperig is. Dan pols ek dit in ’n voedselverwerker om ’n lieflike pastasous te maak. Skeloranje vars borrie gebruik ek in Indiese kerries. My mond water skoon.
Die jongste toevoeging tot my groentetuin is jerusalemartisjokke, wat binne 4-5 maande gereed sal wees om te oes.
Die afgelope ruk eksperimenteer ek ook met gefermenteerde kos. Elke week bak ek suurdeegbrode waarin ek my eie wildegisplantjie saam met steengemaalde meel gebruik – hoe lekker is dit nie om met verskillende geure te speel nie, veral deur groente uit my tuin by te voeg. Ek bak geurige brode met stadiggeroosterde pampoen of geroosterde patat met kardemom.
Kombucha, ’n gefermenteerde swartteedrankie, maak jy deur ’n moeder te voeg by teesakkies, suiker en vars vrugte soos bessies uit die tuin. Dié drankie is ’n goeie bron van natuurlike probiotika, wat wondere verrig vir ’n omgekrapte spysverteringstelsel. Oorskietkool, -wortels en -beet word gebruik vir gefermenteerde ongesoute sauerkraut – heerlik én baie gesond.
En dan is ek gaande daaroor om vars groente, suurdeegbrood, kombucha en ander tuisgemaakte skatte uit my tuin met my vriende, familie en bure te deel.
EK GLO IN ’N VOLHOUBARE leefstyl. Dit beteken jy gebruik net soveel van die aarde se hulpbronne as wat nodig is sodat jy jou koolstofvoetspoor kan verklein en die skade aan die omgewing tot die minimum beperk. Deur te deel vermors ons minder; deur te dink hoe ons leef, hoe ons koop en wat ons verbruik, kan ons meer aktief betrokke wees om te probeer begryp watter voeding ons liggaam nodig het.
Namate ál meer mense na stedelike en voorstedelike gebiede trek, word stede kultuurpolspunte met digte bevolkings, wat beteken hulpbronne kan maklik en doeltreffend hergebruik en gedeel word.
Stadsjapies kan gerus gaan kyk hoe mense in die platteland en landelike of voorstedelike gebied leef. In die platteland is dit glad nie vreemd om ’n krat vol lieflike soet perskes te kry wat deur die gemeenskap gedeel word en dan later teruggestuur word in die vorm van ’n flessie konfyt of ingemaakte perskes
‘ ’n Tuin is ’n plek waar mense tot wedersydse voordeel bymekaarkom; om die skoonheid te bewonder én die vrug van jou arbeid te geniet.’
nie. Oorvloed word versprei en geenafvalbeginsels is ’n lewenswyse.
Ek glo deur my eie organiese groentetuin te hê, uit my tuin kos te maak, kompos te maak van kombuisafval en te dink aan geenafvalbeginsels leef ek die stedelike droom.
’n Tuin is ’n plek waar mense tot wedersydse voordeel saamkom, om die skoonheid te bewonder en die vrug van jou arbeid te geniet. Wanneer die lewe moeilik is, is my tuin en kombuis my troos en my anker.
Ek hoop ek kan eendag terugkeer na die platteland – om die grond te bewerk, vars produkte met andere te deel, en ’n vol en gelukkige lewe te lei waar speel net so belangrik is as werk.
KONTAK riette@ccsbus.co.za