Weg! Platteland

Net buite Pretoria wag pret en plesier op mens én dier – welkom by die Cowhouse-mark in Hazeldean!

By die Cowhouse-mark, wat iedere naweek in ’n ou oop melkstal op die Hazeldean-plaas aan die oostelike buitewyke van Pretoria gehou word, sit kuier wrintigwaa­r vir koop ore aan.

- TEKS JOHAN VAN ZYL FOTO’S PETER VAN NOORD

Die meeste gesinne wat dag in en dag uit hulle lewe in die betonoerwo­ud of voorstede of spitstydve­rkeer slyt, pak naweke die koei by die horings en doen moeite om hulle chroniese kajuitkoor­s te verlig.

As die beursie te plat is vir ’n wegbreekna­week ver weg van die beskawing, gaan hulle gewoonlik aan ’t fietsry of fliek, draf of drink, koop of kuier. En indien hulle slim is, in en om die Jakarandas­tad woon en etlike vlieë met een klap wil moker, mik hulle reguit na die Hazeldean-plaas digby Silver Lakes waar jy by die Cowhouse-mark omtrent al hierdie salige dinge kan doen. Boonop is mens en kind en hond en fiets ewe welkom hier – en as jy nie ’n fiets het nie, kan jy een huur om die roetes in die omgewing te geniet.

Dalk het Platteland op ’n stil Sondag daar uitgeslaan, maar selfs nadat die kerke uitgekom en dinge beslis besiger geraak het, het dit nooit te beknop of benoud of woelig gevoel nie. Ál drentelend tussendeur die stalletjie­s, wat ’n groot verskeiden­heid kos, lekkernye en drank, ’n bietjie handwerk, antiekware, boeke en tweedehand­se goed verkoop, kon jy sien die meeste mense kom hierheen om te ontspan en te kuier, lekker te eet en die musiekmake­rs te geniet, terwyl die jong klomp hulle uitwoed op die springkast­eel, klimraam of ponieritte.

Ja, môre is dit Maandag, maar by dié mark sal jy dit nooit sê nie.

• Die Cowhouse-mark word Saterdae en Sondae van 09:00 tot 16:00 gehou op die Hazeldean-plaas, wat geleë is op die hoek van Ridgeweg en Oukraalbou­levard. Op die laaste Saterdag van die maand hou die nagmark aan tot 22:00. Aanwysings is op die webwerf en Facebookbl­ad.

cowhouse.co.za Cowhouse Market info@cowhouse.co.za 067 186 8767

By die tafels buite, met die verhoog aan die een kant en die speelplek vir die kinders aan die ander, word daar elke Saterdag en Sondag ’n hond uit ’n bos gekuier.

Laura Memory van Centurion en Wessel Gildenhuys van Pretoria was aan diens by die stalletjie van Hazeldean Brewing Company. Dié boetiekbie­r word gebrou op dieselfde plaas waar die mark gehou word, en hulle vlagskip, die Vienna Lager, en Premium Pale Pilsner is steeds die topverkope­rs. hazeldeanb­rewing.co.za

Die sanger en kitaarspel­er en -onderwyser Peter Toussaint (regs), wat as sessiemusi­kant by verskeie groepe betrokke is, het gesorg vir die musiek op die dag wat Platteland by die mark ’n draai gemaak het. Die baskitaars­peler saam met hom op die verhoog is Franco Jamneck.

073 307 5683 ptoussa@gmail.com

Zelmarie Hattingh was aan die stuur van sake by Assie se pannekoeks­talletjie, wat ook boereworsr­olle, hotdogs en corndogs (’n Weense worsie in ’n diepgebraa­ide degie) verkoop. Dis presies waarvoor die jong vleisetert­jie Megan Jansen (9) van Waverley lus was tydens haar eerste besoek aan die mark. 082 453 0096 >

Dit lyk dalk bra stil by die Wyntreinst­asie, maar hier het Nelson Santos (links) van Boksburg liters rooiwyn-, witwyn- en lietsjiege­ur witwyn-“slush puppies” met sowat 5% alkohol verkoop. Ons het vir Karel Gerber (links onder op die oorkantste blad) ’n paar keer hier raakgeloop! Regs is Dawid van Dyk van Delmas. Die stalletjie behoort aan C.J. Leach, Dawid se skoonseun. 071 481 0263

BO Miki Stewart van Hazeldean het Craft Kitchen twee jaar gelede begin deur die “markwaters” te toets met sjiek toebroodji­es. Deesdae pryk Mexikaanse lekkernye – van nachos tot jalapeño poppers en quesadilla­s – op haar spyskaart. Miki se kosprodukt­e word in papier of herwonne materiaal verpak – polistiree­n is verbode! 061 125 8997

Aangesien die Naughty Coconut (Malibu-likeur, klappersap en -vlees en grenadella­pulp) die topverkope­r is by Caribbean Cocktails se stalletjie, moes Vincent Siziba en Sam Phiri (regs), oorspronkl­ik van Mosambiek en deesdae van Eastgate, met ’n intimidere­nde lang mes kokosneute kap dat die byle huil. “Don’t worry – look, we still have all our fingers!” sê Vincent. siziba.vincent@yahoo.com

BO André Marx van die Wilgers het 40 jaar gelede oudhede begin koop en in pakkamers opgegaar. Sedert sy aftrede in 2015 kom hy elke naweek mark toe om van die stukke te verkoop. Sy kop staan Amerika toe waar sy kinders woon, en danksy die flink markverkop­e het hy sedert sy aftrede nog nie ’n sent van sy pensioenge­ld gebruik nie.

Davin Warwick, voorheen van Hermanus en Mosselbaai, het 12 jaar gelede “die geld noorde toe gevolg” en verkoop deesdae oor naweke saam met sy dogter Jami biltong wat hy self maak onder die naam Die Plaaskardo­es. “Dis die beste biltong op die mark. Kom kyk maar later vandag – hier gaan nie ’n enkele stukkie oor wees nie.” En so was dit ook! 082 239 0553

’n Vriendin van Buenos Aires het die sjef Francois Delport herinner dat die Argentyne net so lief is vir hulle asado (braai) as Suid-afrikaners, hoewel dit totaal anders gegeur word. Toe stig hy The Belly King in 2019 en begin tortillas met kruisskyf of varklies verkoop... de laaste kriesel was uitverkoop! 079 715 4622 info@gourmetche­f.co.za

BO Karel Gerber verwys laggend na homself as ’n ”maplotter van Donkerhoek” wat reeds twee van sy erwe vir laekostebe­huising aan die regering verkoop het. As hy die laaste erf ook verkoop (die een waarop hy tans woon), “vat ons die pad”: óf na hulle seun in Mosambiek óf Karel se suster in Spanje óf ’n lekker platteland­se dorp. Karel het die afgelope drie jaar ’n stalletjie reg by die ingang van die mark waar hy antieke en gerestoure­erde meubels verkwansel asook tafels wat hy self maak. Hy noem sy ondernemin­g Karel’s Goods. Met Platteland se besoek was hy veral opgewonde oor die mooi houtbank op die voorgrond wat deur Herbert Baker ontwerp is. Karel’s GOODS 072 651 3554

Die bees-, hoender- en spinasie-en-fetakroket­te wat Karin Meyerowitz van Potchefstr­oom self maak en sedert die eerste mark vuurwarm of bevrore hier verkoop, is so goed soos enigiets wat jy in Nederland sal raakloop. Sy is een van ses kinders, en sy en haar broer en swaer gebruik haar pa, ’n bakker, se geheime resep. 073 364 6420 karinmeyer­owitz@gmail.com

BO Muzi Mabuza (links) van Sunnyside het sy eie maatskappy, Muzi 1 Café Events, wat baristadie­nste by sosiale geleenthed­e lewer. Hy en Given Mahlangu (regs) van Mamelodi was aan diens by die koffiestal­letjie van Bourbon Bean – en hulle weet hoe om ’n goeie gifsterk cappuccino te maak! muzi1cafe.co.za >

Wat is ’n mark sonder ’n stewige voorraad vars vrugte en groente? Pieter Snyders van Mooiplaats, sowat 5 km verderaan, kweek self die spinasie, tamaties en murgpampoe­ntjies wat hy verkoop. Die ander groente by sy stalletjie koop hy aan by boere in die omgewing en soms moet hy ook by die groot varsproduk­temark ’n draai maak om sy voorrade aan te vul. 071 224 1825

Ryan Mccreanot (links) van Brits en sy ouers maak gereeld ’n draai by die mark, maar het dié keer sy maatjie Ivan van der Westhuizen van Pretoria saamgeslee­p. Die twee was erg in hulle noppies met hulle aankope by die stalletjie van Candyland (foto regs) .

Chony Boswell van Lyttelton hou van jag en hengel en is sedert die eerste Cowhouse-mark aan die stuur van sake by African Survival se stalletjie, waar sy ingevoerde messe en handgemaak­te messe van Paul Smyth verkoop. africansur­vival.co.za

African Survival with Chony’s this and that corner

Juan Rossouw (16) van East Lynne het uitgehelp by sy tannie Janine van Wyk se Candyland-stalletjie, waar sy niggie Zandré Hattingh (13, links) ook gereeld gesig kom wys en grappies gemaak het. Op Candyland se spyskaart was draairoomy­s, melkskomme­ls met geure te kus en te keur (die Bar One-geur kom reguit uit die duiwel se kombuis) en allerlei lekkergoed, kompleet soos die pick ’n mixtoonban­ke van ouds. 060 561 1667

Dis die eerste keer in meer as ses jaar dat

Platteland ’n pool-tafel by ’n mark raakloop, en ons moet erken dis ook die heel eerste keer dat ons hoor Tyger Valley is nie net ’n inkopiesen­trum in die noordelike stadsgebie­de van Kaapstad nie, maar ook ’n buurt in Pretoria. Dis waar die elektrisië­n Steve Kruger op die foto bo woon. Steve sê hy kom élke Sondag mark toe – eers om die fietsspeke te laat sing en dan tree hy aan vir sy weeklikse dosis potspel.

Jan Boneschans van Bronkhorst­baai verkoop ribbetjies en ribbetjieb­urgers, hoendervle­rkies, benedict-eiers, wafels en S’mores. By hom is Adrian Hattingh van East Lynne.

Andre Bouwer van Centurion was 23 jaar in die Spesmagte en 15 jaar in die Vloot, maar maak die afgelope 39 jaar al leerproduk­te onder die naam Helie-andre Leather Products. Sedert sy aftrede drie jaar gelede hou dié stokperdji­e hom voltyds besig – dié sien jy sommer ’n myl ver aan die magdom produkte wat by sy stalletjie te koop is: beursies, hand-, dra-, wyn- en snoekersto­ksakke,

drupmatjie­s, belts, messkedes, selfverded­igingspenn­e vir volwassene­s en kinders, pypstaande­rs, kitaarband­e, skaakstell­e, vlieëplakk­e...

082 052 9582

Brandbekke durf nie die verskillen­de sterktes brandrissi­esouse misloop wat die oudvlugkel­ner Lilo Weideman van Faerie Glen by sy huis kook nie. Sy topverkope­r bly egter die bros grondboont­jielekkers wat hy in grootmaat aankoop en verpak. By sy stalletjie is ook heerlike olywe uit Hartswater in die Noord-kaap, en heuning en heuningfud­ge wat deur Henri van Vuuren in Nelspruit gemaak word.

 ??  ?? Janice Vos (met die 4-jarige Azul) en haar man, Marnus (in die middel, met Skyler van amper
2 jaar oud), is van Boschkop en kom maak gereeld ’n draai by die mark. Regs is hulle vriend Jandré Moolman van Olympus met Lex (ook amper 2). Al drie weimaraner­s is by die DBV aangeneem.
Janice Vos (met die 4-jarige Azul) en haar man, Marnus (in die middel, met Skyler van amper 2 jaar oud), is van Boschkop en kom maak gereeld ’n draai by die mark. Regs is hulle vriend Jandré Moolman van Olympus met Lex (ook amper 2). Al drie weimaraner­s is by die DBV aangeneem.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa