Weg! Platteland

Ons dorpe het jóú hulp nodig

-

Ek koop hierdie week vir die eerste keer in my lewe Platteland . Ek is baie lief vir die Karoo en wou graag meer lees oor die pragtige dorpies in die Karoo – en toe sien ek die brief “Los uit ons dorpies!”.

Nadat ek alles deurgelees het, wil ek die volgende byvoeg: Ek dink ’n baie belangrike debat is begin met die oorspronkl­ike brief, “Dorpies wat ’n mens laat huil”. Ek het ook al die verval gesien in van die pragtigste dorpies en dit het my ook al baie hartseer gemaak. Daardie verval is egter nie net in die platteland­se dorpies nie, maar ook in die groot stede. Hier waar ek woon in die ooste van Pretoria is daar huise wat glad nie meer onderhou word nie. Koerantpap­ier en swartsakke word voor die vensters geplak. Die huise word nie meer geverf nie en van ’n tuin is daar nie sprake nie. ’n Paar kilometer van waar ek woon, is daar sink-en-plastiekhu­isies wat soos paddastoel­e op ’n oop erf opgeskiet het, en daar word absoluut niks aan gedoen nie.

Die probleem is dus landwyd, en ek dink dit is tyd dat ons ophou om ons kop in die sand te steek soos ’n klomp volstruise. Ons moet hierdie probleem nou aanpak.

Vir Johan en Irma – en al die ander mense wat so kla oor die verval – wil ek uitdaag om betrokke te raak in ’n dorpie en te kyk waar jy kan help. Ek, my broer en suster is besig om ’n amper 200 jaar oue huisie op Richmond te restoureer. Dit is vir ons belangrik dat daardie juweel vir ons nageslag behoue bly sodat ons kinders kan sien hoe mense destyds gelewe het.

Mense, moenie net deur ’n dorpie ry en dink jy weet wat daar aangaan nie. Bly vir minstens ’n dag oor en kyk rond. Praat met die mense. Johan en Irma het baie uitgemis toe hulle deur Richmond is, en ek is seker dit is met ’n hele paar ander dorpies ook die geval.

Aan die platteland­ers wat so ongelukkig is oor Johan en Irma se brief wil ek sê: As jou dorpie so goed is soos wat jy sê dit is, dan hoef jy nie bekommerd te wees oor hierdie brief nie. “Word of mouth” (Platteland­ers noem dit die riemtelegr­am. – Reds.) is baie sterker as dit kom by aanbevelin­gs van oorbly- en deurryplek­ke. Die brief is in Platteland geplaas, wat deur mense gelees word wat lief is vir die platteland. Ek is seker die lesers weet van beter. Antoinette Schaafsma-strydom PRETORIA

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa