Daardie toeka-tot-nou-gevoel
Hier in die Swartland diep jy nie net lagstories op nie, maar ook hartroerende gebeurtenisse en hartsmense. Selfs uit my versameling resepteboeke uit my oumagrootjie se plaaskombuisdae kom jy af op halftoegegroeide voetpaadjies van gister en eergister se swaarkry – en elke spoor vertel ’n storie.
Blaai ek deur al my gisters en skuif eergister se vensterraam op, verbeel ek my dat ek Ouma se anysbeskuit, varsgebakte potbrood en hoenderpasteie ruik. Ek hoor in my verbeelding nog die ou staanhorlosie se tik-tak... en die geknars van die windpompwiel in die suidewind.
Wanneer die misbank hier teen Zebraskop aftuimel soos ’n spierwit waterval; wanneer die trop tarentale teen die koppie mekaar luidkeels die ewige saligheid belowe en die ibisse rustig op die grasperk wei, dink ek aan die bekende Afrikaanse letterkundige wyle dr. Anton Prinsloo se woorde toe hy hier deur die Swartland gereis het vir ’n Tv-opname: “Híér het die Skepper Sy tyd gevat om alles so volmaak te skep. Soveel rustige skoonheid kon onmóóntlik nie in ’n ommesientjie geskep word nie...”
Trots Suid-afrikaans, dis my mense dié; my hartland, die solder-vandie-swartland. Dit is ook al asof ek my voorgeslagte kon hoor bid (soos Moses in Ps. 90:17): “Hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.”
Met die deurblaai van ons Platteland-tydskrif kry ek dieselfde toeka-tot-nougevoel en ruik ek steeds Ouma se plaaskos – dis dan wanneer ’n mens al die stres, spanning, kommer en sorge vergeet. Dankie dat julle ons plattelandse pot heerlik stomend aan die kook hou. Dis ’n ongelooflike reis saam met julle! Annette van Tonder, PIKETBERG
’n Hele stapeltjie van Annette se briewe het op een slag in ons posbus aangekom – ja, ’n klompie handgeskrewe briewe wat uiteraard oor ’n lang tydperk gestuur is, maar eers iewers in ’n Poskantoor-pakhuis stof vergaar het. Oor die volgende paar uitgawes deel ons nog van Annette se vertellings. – Reds.