Ontmoet die mense
Tillie en Pieter Steyn Pensioenarisse
Pieter en Tillie het 20 jaar gelede van Phalaborwa af na Ohrigstad verhuis om af te tree. “Ons wou op ’n plaas gaan bly, maar het nie geld gehad vir ’n plaas nie. Toe ry ons hiernatoe,” verduidelik Pieter. “Ons het in 1977 die twéé erwe vir R2 500 gekoop,” spog Tillie.
Hulle hou van die skoon lug en sê ’n mens kan lekker oud word in dié “gesonde wêreld”. “Almal is gelukkig en jy is nie gestres nie. Ons het ons Try Me Dealers, ons het ’n drankwinkel en ons het slaghuise. As ’n mens siek raak, dan bel jy net. Hier is ’n suster en daar is altyd iemand wat kan help... mense sak omtrent op jou toe.”
Boonop is daar oorgenoeg sosiale geleenthede: potjiekoskuiers of bordspeletjies by vriende. “Partymaal bring almal instrumente en dan maak ons musiek en sing,” sê Tillie.
Pieter sê die boeregemeenskap gee werklik om vir ouer mense, maar jy moet inskakel by die gemeenskap. Hulle is aktief betrokke by die kerk, maar ook by die skool. “Ons staan bekend as die oupa en ouma,” sê Pieter. As iets reggemaak moet word, is hy daar, en as daar ’n sportbyeenkoms is, bak hulle pannekoek.
Hulle bak soms ook pannekoek in hulle 1976-model Volkswagen Kombi, sommer langs die pad. “Hierdie is ’n berugte Kombi. As hy langs die pad staan, dan stop die ouens dadelik,” lag Pieter.
“Ons gaan sit in die middae hier onder ’n boom, dan kyk ons oor die vallei uit. Ons sien die kwaggas en kameelperde daar anderkant teen die berg. Hierdie is ’n plek waar jy rustig kan raak en vrede kan vind.”
Eghardt Nel en Darius de Beer Hannah-lodge
Eghardt en Darius werk en woon op Hannah-lodge, ’n wildplaas van 80 km2. Eghardt is die plaasbestuurder en werk al 18 jaar by Hannah, 17 km buite die dorp. Hy en sy vrou, Kuzette, het nie kinders nie, maar die jonger mense by die lodge – ook Darius – is soos hulle eie kroos. “Baie van die jong mense hier noem ons hulle bospa en -ma,” vertel Eghardt.
Darius is al drie jaar by die lodge. Hy was ’n projekbestuurder in Pretoria en moes Hannah toe kom om die installasie van die sonpanele te bestuur. “Toe ek klaarmaak en moes teruggaan stad toe, was ek bitterlik ongelukkig. Ek stuur toe vir die eienaar, oom Fred Kinnear, ’n e-pos oor ’n geleentheid hier.”
Fred betaal vir al sy personeel se opleiding. Darius het sy vlak 2-kursus by die Veldgidsvereniging van Suider-afrika (FGASA) gedoen en sy profesionele jagterskursus saam met Eghardt voltooi. En binnekort doen hy vlak 3, waarna hy ’n gespesialiseerde veldgids sal wees.
As Darius af is, gaan kuier hy graag vir sy vriende op Hartbeespoort. Hy is mal oor die stilte op die plaas, maar geniet dit nogtans om Pretoria toe te gaan en tussen mense te wees. “Jy kan nie heeltyd hier wees nie. Dit is lekker om ’n bietjie in ’n mall te gaan loop,” lag hy. Darius en Eghardt draf gereeld saam of oefen in die lodge se gim.
‘Almal is gelukkig en jy is nie gestres nie. Ons het ons Try Me Dealers, ons het ’n drankwinkel en ons het slaghuise. As ’n mens siek raak, dan bel jy net. Hier is ’n suster en daar is altyd iemand wat kan help.’
Ron van Zyl Beeldhouer en eienaar van Die Skoen
Op pad Tzaneen toe staan daar ’n enorme skoen aan die linkerkant van die pad. Ron van Zyl het in 1991 dié plek vir sy vrou, Yvonne (naaslinks), gebou. “Ek het al baie padstalle vir haar gebou. Ek het eers aan ’n pampoen gedink, maar toe hou sy aan oor ’n skoen. Ons het die baken nodig gehad, want dit is een van daai plekke wat jy nie kan beskryf waar is dit nie. Nou is ons adres ‘Die Skoen op die R36’. ”
Ron se reusehoutstandbeelde van rooi-ivoor, rooiysterhout, olienhout en hardekool word in Die Skoen ten toon gestel en dra Bybelse boodskappe oor.
Ron se ouers en broer het al in die vallei gewoon toe hy in 1974 hier aangekom het. Kort daarna het hy die Helkrans (“The Doomed”) gebou by die Alpha Omegabeeldhoutuin, nog ’n soort padstal op die grondpad na die Eggogrotte. Hier reik Ron se beelde op ’n natuurlike krans 16 m die lug in.
Vandag is Yvonne en hulle kinders, Aldo en Michell (regs bo), betrokke by
Die Skoen. Hier het hulle ’n kerk gestig en ’n restaurant en verblyfplekke uit dolomietklip gebou. “Die mense van die vallei bou maar self. Toe ek hier kom en ek sien hierdie berge en klippe, besluit ek ek sal maar bly – dit gee my iets om te doen.”
Ron beskryf die vallei se gemeenskap as mense wat vir jou die ruimte en vryheid gun om te wees wie jy is. “As jy hier wil bly, moet jy geloof hê. Ek het baie van geloof geleer by die boere. Jy vat al jou geld en jy saai dit in daai grond... en dan gló jy.”
Michael Mmopane Toergids by die Eggogrotte
“Ek het in 1994 begin met hierdie toere. Ek was 17 jaar oud en nog op skool,” vertel Michael, wat in die vallei gebore is en op Mokutung grootgeword het. In 2000 het hy in Johannesburg bemarkingsbestuur gaan swot, maar ná vyf jaar is hy terug vallei toe.
Hy het drie kinders en sê die skole op die platteland, veral in die “villages”, is sy grootste bekommernis. “Ek wil hê my kinders moet ’n goeie onderrig ontvang, maar onderwysers in die landelike gebiede trek nie hulle sokkies op nie,” sê hy. Michael is passievol oor die toekoms van sy land en kinders – en daarom betrokke by die plaaslike politiek.
Volgende op Michael se doelwitplan is om “sy vlerke te sprei in toerisme”. Hy en ’n kollega wil nie vir ewig gidse wees nie, maar eerder toeroperateurs met hulle eie besigheid. “Ons wil nie die grotte verlaat nie. Ons wil meer toeriste deur die grotte en die Panoramaroete lei.”
Jeff Nkuna Toergids en evangelis
Toe Jeff in 2000 hier aangekom het, het sy lewe spiritueel omgeswaai. As besigheidsman en toergids op Hazyview het hy na die vallei toe gevlug nadat hy bankrot gespeel het.
Hy wou graag ’n Pedi-kultuurdorp by Alpha Omega op die been bring, maar het gesukkel. Toe besef hy die plek lok al klaar mense met die Helkrans en Ron se beelde in die tuin. “Hierdie krans het my gelowig gemaak. Ek was soos ’n vlugteling. Ek het nie geweet wat om te doen nie en ek het ’n plek gesoek om weg te kruip.”
Jeff het die Ohrigstad-plaassending gestig en preek elke dag iewers anders: op die plaas waar hy woon, by die Laerskool Ohrigstad én by ander skole in die omgewing. Hy doen steeds toere by Alpha Omega en is ook betrokke by die Museum of Man, ’n buiteluggrotmuseum met argeologiese en paleontologiese uitstallings.
“Die Ohrigstadters – die plaasboere, die gemeenskap en die dorpie – ondersteun my. Hulle is altyd daar vir jou.”