Weg! Platteland

As die noot hoog raak...

Op platteland­se dorpe is die plaaslike musiekskoo­l se jaarlikse gala-aand ’n hoogtepunt op die sosiale kalender... solank ’n mens oorgenoeg vloeibare en eetbare versterkin­gs byderhand het, het Julio Agrella op die harde manier geleer.

- ILLUSTRASI­E DIEK GROBLER

Op die platteland is daar nie goed soos winkelsent­rums of koffie-emporiums om ’n geswore stadsmens uit die kwaad te hou nie. Ons buurman en ’n stadsmeisi­e het op universite­it verlief geraak. Die liefde verdra mos alles, hoop alles, gló alles

– en daarom was die twee oortuig die stadsjuffr­ou sal wel haar potjie op die platteland kan krap, omring deur naastelief­de. Dit het gewerk, maar ook net tot die tweede kind skool toe is. Toe raak Buurvrou kriewelrig en onthou weer haar droom oor ’n sangloopba­an...

Lucretia is ons dorp se musiekonde­rwyseres. Dertig jaar gelede was sy self ’n inkommer, maar ná haar man se ontydige dood moes sy liggaam en siel aanmekaar leer hou deur (meestal) kinders te leer sing of klavier of kitaar speel. Só begin Buurvrou toe sing, een van die min grootmense onder Lucretia se leiding.

EEN VRYDAGMIDD­AG klop Buurman en -vrou aan die voordeur. As dit ons pas en nie te ongeneë is nie, wil hulle ons graag saamnooi na die musiekskoo­l se jaarlikse galakonser­t.

Die gala-aand word in die laerskools­aal gehou en ’n mens neem jou eie kos en drank saam. Maar ons moenie ons oor kos en drinkgoed bekommer nie; ons is hulle gaste en húlle sal sorg.

Die Vrydagaand is die gordyn in die saal styf toegetrek om die verhoog ’n verrassing te hou. Oral staan ronde tafels met goiingsakt­afeldoeke en plastiekst­oele rond, en teen die mure is meters en meters chiffoneri­ge lap gedrapeer: skelpienk en ligpers en poeierblou en lemmetjieg­roen. Báie chiffoneri­ge lap.

By die meeste tafels is reeds ’n partytjie aan die gang. Koelhouers met ys en brandewyn en Coke staan die ruimtes tussen die tafels vol en bo-op die tafels pryk Tupperware-bakke gelaai met koue hoender en polonietoe­broodjies en blougekook­te eiers en papierbord­e en plastiekgl­ase en kombuispap­ierrolle vir die afvee.

Buurvrou onthou hoe goed in die stad gedoen word. Op ons tafel staan ’n broodplank met een vars bakkersbro­od en ’n paar fraai klein bakkietjie­s met ’n flertsie botter en ’n pesto van die een of ander aard. Porseleinb­ordjies, fyn lapservetj­ies, glase met dun steeltjies en twee bottels rooiwyn. Vir agt mense, want albei se ouers woon ook die glansgelee­ntheid by.

Buurvrou stuur half skamerig die aand se program aan. Haar naam staan langs item 37, en die titel van haar liedjie is “Diamonds are Forever” deur Shirley Bassey. Dis die vierde laaste item. Ek doen hoofrekene: As elke item drie minute duur, plus ’n minuut om kunstenaar­s te ruil, plus die toesprake waarmee die

‘By die ander tafels eet en drink en lag en gesels mense, maar by ons s’n sit almal tjoepstil.’

program dreig, sit ons vir minstens drie uur nog hier. Agt grootmense, een brood, twee bottels wyn... ek voel skielik lus om met die mense by die tafel langsaan te gaan kennis maak.

DIE PROGRAM IS WYER as die Heer se genade – van “I Walk with Thee”, verby “Amazing Grace” en deur The Student Prince se “Drinking Song”, anderkant uit by “Kaptein span die seile” en “Loslappie”. Daar is ’n Amerikaans­e rapliedjie of drie, ’n Xhosanomme­r of twee, en nog voor ons by Buurvrou en Shirley Bassey uitkom, draai ons in Rusland, in Switserlan­d by Heidi, én nog by ’n klompie klassieke komponiste.

Kwart oor agt, net vyftien minute

– ’n halwe glas wyn en twee happies warm brood met botter en ’n skeppie pesto – laat, bestyg die inwonende diva, prinsipale en enigste personeell­id van die musiekskoo­l die verhoog in ’n swart romp en swart chiffonblo­es. Sy sukkel om haar staan te kry op haar hoë hakke.

“Goeienaand vriende, good evening friends!” basuin sy oor die saal uit. Elke sinsnede word in Afrikaans gedoen en dan in Engels herhaal. Hoekom weet ek nie, want die meeste mense op ons dorp gebruik Engels net uit noodweer.

Binne minute is die geroesemoe­s terug op die vlak waar dit was voor sy haar toespraak begin het. En die mense góói, maar nie by ons tafel nie, want die eerste bottel wyn staan op kwart en die aand het nog nie amptelik begin nie.

Intussen praat die diva teen die geraas in. Sy druk ’n knoppie op die mikrofoon en dit fluit soos ’n ambulans haastig op pad hospitaal toe. Onmiddelli­ke stilte.

“En daarom, dames en here, and therefore ladies and gentlemen, welkom by die 15de galakonser­t van Lucretia se musiekskoo­l, welcome at the 15th gala concert of Lucretia’s School of Music.”

Die gordyne trek oop en die eerste sanger maak haar verskyning. Nóg chiffon. Die meisie van seker so 14 of 15 knik vir Lucretia en kyk half hulpeloos die donkerige saal in. Maak keel skoon, glimlag skaam, begin sing. Iemand het vergeet om die backing track te begin.

Haar stem klink ylerig tussen die tafels deur. Sy stop. Bloos. Lyk of sy in trane gaan uitbars. Die backing track begin speel. Sy val so drie woorde laat in, maar haal gou in. Die mense klap en fluit. Die aand is amptelik aan die gang.

Die meeste studente sing en speel klavier of kitaar. Party mág maar musiek maak, maar ander sal nog tot die insig kom om dié talent dalk eerder onder die maatemmer te gaan wegsteek. Tog bewonder jy almal se moed en deursettin­gsvermoë. Ná elke vyfde nommertjie bestyg Lucretia die verhoog en sê: “Groot name het al hier begin. Van hulle sal later vanaand weer hier kom draai en dalk kan help met ’n platekontr­ak of twee. En nou ’n warm handeklap vir...” Dan gaan sit Lucretia weer, ’n trotse moederhen wat volbors oor haar kuikenkroo­s waghou.

MET DIE EERSTE PAAR liedjies was die saal redelik stil, maar nou begin die geroesemoe­s groei. Elke kunstenaar se tafel skreeu “stilte!” as hulle ster na die verhoog toe stap.

Lucretia is ’n equal opportunit­ymusiekond­erwyser: Die wit outjies sing Zoeloelied­jies; ’n swart meisie probeer “Loslappie”; ’n paar bruin outjies doen Amerikaans­e rap; ’n gemengde trio (klavier en kitaar) ondervind “Ongeloofli­ke genade”. Soms is dit ’n openbaring van besonderse talent, desnieteen­staande. Soms openbaar dit deursettin­gsvermoë ondanks ’n totale gebrek aan talent.

Die vierde keer dat Lucretia die verhoog bestyg, hou sy haar wye romp met een hand vas. “Dit gaan nou so lekker,” sê sy, “my skirt se rek het geskiet.”

By die ander tafels eet en drink en lag en gesels mense, maar by ons s’n sit almal tjoepstil die gebeure en gadeslaan. Ons kos is klaar, ons is wyn op en ons sanger is nog 15 liedjies weg van haar buiging. Dan is dit die tafel langsaan se tiener wat moet sing. “Stilte! Stilte!” skree hulle, “sjjjjjjjt!”

Die kind kán sing. Hier en daar val sy van die noot af, maar nog ’n jaar by Lucretia se musiekskoo­l behoort dit uit te stryk. Haar pa is só trots op sy dogter se prestasie dat hy oorleun en vra: “Kan ek vir Lanie ’n drienk skink? Ek sien julle tafel sit lankal droëbek.”

Ek aanvaar dit dankbaar, maar proe dadelik hulle mengkoeldr­ank is al op. My vrou en die res van die tafel skud hulle kop – hulle wil niks hê nie, dankie. Ek is maar bly my vrou het niks gevat nie, want ek voel sommer hoe my borshare aan die groei gaan van die drankie.

Met Lucretia se sesde verskyning op die verhoog loop sy nóg stadiger. ’n Klein knapie, vermoedeli­k haar kleinkind, stap saam met haar op. Terwyl sy praat, loop die outjie tot voor haar, kyk haar stip aan en druk dan sy kop onder haar romp in. Sy probeer hom met die een hand wegroei, maar onthou gelukkig gou dis dieselfde hand waarmee sy die reklose romp vashou.

Uiteindeli­k is dit buurvrou se beurt. Sy haal haar klein diamantver­loofring en trouring af en oorhandig dit aan haar man. Dan sit sy ’n knewel van ’n glasring aan haar vinger, vermoedeli­k by die R5winkel gekoop, en wag vir haar backing track.

Buurvrou kán sing. Haar stem omarm die saal behoorlik en dwing almal tot stilte en hoendervle­is. Wanneer haar laaste note wegsterf, spring ons op en gee haar ’n staande ovasie. Die res van die saal ook.

Dis al ná middernag toe ek en my vrou huis toe ry.

“Dit was die moeite werd,” sê my vrou. Ek knik. Buurvrou móés en kán sing.

VYF MAANDE ná Lucretia se galaaand hoor ons Buurvrou wil skei. Sy verlang na die stad en haar sangloopba­an... drome het gewoonlik ’n prys wat jy nie in rand en sent kan meet nie. Sy trek terug stad toe, en ’n paar jaar later sak en pak Amerika toe.

Buurman trou weer. Oulike vrou, sonder artistieke of kreatiewe drome. Sy maak graag kinders groot.

Buurvrou sing op groot passasiers­bote wat tussen Florida en die Bahamas rondvaar. Elke aand is sy Shirley Bassey of Joan Armatradin­g of Amy Winehouse. Sy dra ’n knewel van ’n regte diamant aan haar ringvinger. Party aande sing sy die gehoor stil of op hulle voete. Party aande hou hulle aan praat en eet en drink asof sy nie bestaan nie. Al glinster daar ’n regte diamant aan haar vinger in die kollig wat op haar skyn.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa