Stroom-óp… of stroom-áf?
Sir Winston Churchill het destyds gesê: “As jy deur hel moet gaan… hou net enduit aan!”
Kom ons vat die pad hier uit Piketberg, suid, verby die groot klipkasteel, om daai koppie na Suurfontein net anderkant Wittewater. My tydgenote sal nog Suurfontein se lae drif onthou (waar die wit brug vandag is).
Daardie jare was ek seker net 9 jaar oud, maar onthou die sterk reën en geweldige stroom by daardie lae drif baie goed. Aurora en Kapteinskloof se mense onthou seker nog die immergewilde en bekende oom Frikkie Voges (of “Voos”, soos hulle dit uitgespreek het) met sy weeklikse smouslorrie.
My oudste broer, Dirk, en my neef Pieter was daai jare twee hoërskoolkêrels met hulle skeefgekamde Brylcreem-kuiwe.
Dié dag, toe die riviertjie vreeslik sterk afkom, staan ons deuskant, op pad na Aurora toe, en oom Frikkie Voos met sy smouslorrie aan die ander kant, op pad Kapteinskloof toe. Nou kyk, het julle al gesien van familie se “moments-of-madness”?
In daardie jare was oom Piet Louw, beter bekend as Piet Sersant of Piet Jood, die sersant op Tulbagh. Oom Piet het die vermoë gehad om “te koop en verkoop” – hy kon jou melk uit jou koffie skep en dit verkoop... of selfs sneeu aan ’n Eskimo.
So kom hy en sy gesin daai dag ook by die sterk rivier aan. Oom Hennie Louw (sy broer) kom met sy ou vaalbruin Noagslorrie óók daar; wil óók deur die rivier, op pad Aurora toe. Daardie dag het ek gedink my pa lag hom uit sy bloedgroep uit! Hy was juis die Sandveld-grapmaker.
My pa haak toe ’n lang klappertou, eerste aan oom Hennie se ou vaalbruin Noagslorrie. Pieter en Dirk werskaf halflyf in die stroom en haak die ander punt oorkant aan oom Frikkie Voos se smouslorrie.
Oom Hennie start... dit poef-paf... poef-paf... hik en sluk, maar so steek die ou lorrie sy neus in die stroom. Deuskant op die wal skree oom Piet Jood met sy harde bry-stem: “Gee vet, Pietirg, trgap óóp, voorg die watirg te stergk worgd! Dit lyk dan virgdomp soos die Organjergivierg wat afkom! Tjouk hom, Pietirg! Tjouk die virgdomde ou Noagsgedoente! Gooi die lorggiedeurge óóp, andirgs sink die ding! Tjououk hom, Pietirg! Trgap die dêm klats!”
Deuskant op die wal skater my pa van die lag. Oom Piet skree vir my pa: “Moenie soos ’n katlagtirg staan en lag nie! Sprging innie watirg en keerg daai ou Noagsgergaamte voorg hiergdie Rgooisee vidag ammal nog see toe spoel! Pietirg! Trgap die klats en tjouk hom!!! Dit lyk dan nou soos Noag se dêm skip! Vidag spoel hy tot onnirg in Austrgalië. O Herge, hierg virgsuip ons nog almal vidag!”
Maar op die een of ander wyse is die ou Noagsgeraamte uit die water getrek. Ek het gedink my pa lag hom middeldeur. En oom Piet Jood staan met sy T-hemp aan waarop “Never again” staan en dit lyk of hy aan bomskok ly.
My familie het konstant hulle “moments of madness”. Jy hoef hulle nooit stroomaf te gaan soek nie – gaan soek hulle bó by die waterval, áltyd stroom-óp! (En ou Chrurchill was toe reg!)
Ek dink ons moet dalk almal soms “die klats intrap” en “tjouk” as die lewe te gejaag word.
Annette van Tonder PIKETBERG