Weg! Platteland

Kookwater planne met brandnetel­s

-

Dié tyd van die jaar kan brandnetel­s (Urtica dioica) omtrent rammetjieu­itnek raak in die tuin, vernaam in die winterreën­valgebiede. Hierdie oeroue geharde plante kom voor in die meeste gematigde klimaatstr­eke van die wêreld waar mense aktief is.

Al word brandnetel­s as “algemene onkruid” geklassife­er, word dit ook al eeue lank as kos, geneesmidd­el en vir die vervaardig­ing van klere gebruik. Brandnetel­s bevat ’n magdom vitamiene, minerale en chlorofil, en wyle Margaret Roberts het dit geloof as “een van die beste middels wat nóg ontdek is om jig en artritis te behandel”.

Ons het ’n paar lekker wenke en voorstelle uit haar boek Plantmaats (Briza, 2007) probeer en toe met ’n klompie internetre­septe geëksperim­enteer om ’n romerige grasgroen brandnetel­sop met patats te maak. (Moenie ons kosstorie oor patats op bl. 102 misloop nie.)

PLANT DIT

Kap stukke van die moederplan­t af en plant die nuwe plantjies in volson, sowat 1 m uitmekaar in komposryke grond wat diep omgespit is. “Vergeet dan van die plante, verwaarloo­s dit en moenie eens aan hulle dink nie – hulle floreer en oorleef.”

In die groentetui­n sal brandnetel­s aartappels, tamaties en peperworte­l oorvloedig­er laat dra, terwyl dit naby radyse en soetrissie­s, ment, salie en marjolein die smaak sal verbeter.

OES REG

Dra altyd lang handskoene en gebruik ’n snoeiskêr as jy brandnetel­s oes. Sny net die jong, vars blare en puntjies as jy dit gaan eet of tee maak.

Die goeie nuus is as die netels jou dalk brand, sal dit jou lui bloedsomlo­op laat spoed optel. Smeer

’n jel van aalwyn of balsem kopiva (Bulbine frutescens) aan die brandplekk­e tot die brand weggaan.

KOMPOSAKTI­VEERDER

Gee grond of ’n komposhoop ’n turboinspu­iting deur lae brandnetel, grassnysel­s, geharkte blare en mis op ’n hoop te maak met genoeg water daarby. As jy dit reg doen, kan jy binne agt weke met ’n vars hoop kompos sit.

PLANTKOS EN PESWEERDER

Maak ’n emmer driekwart vol brandnetel­takkies en gooi ’n emmer vol kookwater oor. Laat dit heeltemal afkoel voor jy dit dreineer. Jy kan sukkelende plante natgooi met die tee om hulle weer woema te gee, of jy kan dit as blaarvoeds­el gebruik wat ook sal help om peste natuurlik die hasepad te laat kies.

GESONDHEID­STEE

Laat ’n kwart tot ’n halwe koppie vars brandnetel­blare vir 5 minute in ’n koppie kookwater trek, gooi dit deur ’n sif en drink dit stadig. Dit help glo vir artritis, jig, katar, waterterug­houding, verminderd­e nierfunksi­e, nierstene, obstruksie in die blaaspype, hoë bloeddruk en inflammasi­e. Dit is ook nie-allergenie­s en sal hooikoos verlig en opklaar.

Die kruiekonin­gin sê vir chroniese toestande kan ’n mens 1 koppie tee per dag drink (in akute gevalle 3-5 koppies), maar nie vir langer as 4-5 dae nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa