Wat kos eiendom?
’n Hele paar eiendomsagente het ’n verskeidenheid van plekke op Witrivier beskikbaar. Hier is ’n paar op die webwerf Private Property.
Bou jou droomhuis in die Wild Fig Country Estate, 8 km buite die dorp. Dié erf van 1 ha is veilig en privaat, en die wildsbokke en sebras loop vrylik op die landgoed rond.
Dié huis met sy 4 slaapkamers en 3 badkamers is geleë in ’n mooi deel van Witrivier, naby die skole en die hoofpad die dorp uit. Hierdie deel het ook mooi groot ou bome.
Skaars 9 km noordoos van Witrivier is ’n kleinhoewe van 15,3 ha met ’n dubbelverdieping-grasdakhuis. Daar’s 3 slaapkamers, 2 badkamers en ’n motorhuis, én dan het die eiendom ongeveer 10 ha bewerkbare grond met waterregte en ’n boorgat.
“Ons soek mooigoed wat plaaslik – en met die hand – gemaak word,” sê Rowena. “Almal het altyd Saterdae die mall crawl gedoen. Toe dink ons kom ons begin iets waar jy jou brood, botter, kaas en vars produkte alles op een plek kan koop – én dan ’n biertjie geniet terwyl jy en ’n paar vriende na lewendige musiek luister.”
Die meeste stalletjies wat hulle nóg op een dag gehad het, was 78. “Jy kry enigiets hier – van juweliersware tot boetiekjenewer. Alles lieflik gemaak, met beter bestanddele, én dan is dit gewoonlik goedkoper as in die winkels,” sê Rowena. “Soms is die opkoms goed; ander kere kort mense ’n skoppie op die agterstewe... dié word nie verniet die Slowveld genoem nie!”
Buiten dat sy Zannas besit, is Sue ook aan die stuur van sake by die Casterbridge-fliekteater. “Ons wys twee flieks per week – op Woensdae gewoonlik iets kunstigs,” sê sy. Dan het hulle ook uitgaan-fliekaande waarop jy ’n bottel wyn en ’n snoepbord by Zannas kan bestel. En terwyl die mark Saterdae aan die gang is, is daar gratis flieks vir kinders.
Wat het Sue vir 20 jaar laat bly? “Die mense. Ek het altyd welkom gevoel. Ek het betrokke geraak en skielik was ek deel van die gemeenskap.” Sue en Rowena maak geen wins uit die mark nie; hulle doen dit vir die dorp. “Dis vir ons lekker as stalletjiehouers ons ’n drukkie gee en bedank vir die lieflike mark,” sê Rowena. Waarvoor kan ’n mens dan nou meer vra?”
OP PAD TERUG DORP TOE, regoor die Route 40-padstal-en-eetplek, draai ’n grondpaadjie af na ’n klompie plotte en plase toe. Nick en Nicole Nyalungu woon by nr. 6. Hulle is die baasbreine agter Nick & Nicol’s, ’n veganvriendelike toebehorereeks wat insluit drasakke, wynsakke en boekomslae van herwonne motorbinnebande.
Nick het op Witrivier grootgeword, terwyl Nicole oorspronklik van Pretoria is. Hulle het mekaar in 2008 ontmoet toe hulle bure was in Johannesburg – hy het bemarking gestudeer en sy het vir Standard Bank gewerk. In 2018 het hulle van Hazyview af hierheen getrek.
Die idee vir hulle reeks is gebore toe Nick ’n hoop binnebande by ’n bandeherwinningsdepot sien lê. >
Kunstenaar
Winston het in 2007 Witrivier toe getrek. Hy werk as kommunikasiebeampte by die nasionale departement van openbare werke, paaie en vervoer in Mbombela, maar sy groot liefde is kuns.
Hy teken konseptuele en ingewikkelde portrette wat dikwels bestaan uit elemente soos windpompe en geometriese patrone. Dit het alles begin toe hy ’n gesig geteken het wat hy op ’n foto van blomme gesien het. Hy gebruik ink en soms houtskool, en het onlangs ook litografieë begin maak by Mark Attwood by The Artists’ Press.
Die rus en vrede hier spreek tot Winston. Hy stap graag en gebruik enige kans wat hy kry om die oop ruimtes te gaan verken. “Die mense is vriendelik en die atmosfeer hier is lekker ontspanne – heeltemal anders as Evaton in Gauteng waar ek vandaan kom.
“Ek dink nie kuns is iets buite jouself nie; dit ontwikkel binne jou. Jy moet tyd deurbring met dié gawe, en dit verg ’n sekere plek waar jy kan produseer. Sommige kunstenaars is lief vir Johannesburg met sy ontploffing van geraas. Hulle absorbeer daardie energie en dit inspireer hulle. As jy na die werk en toon van die meeste kunstenaars hier kyk, is dit vreedsaam. Dit kom van die innerlike vrede wat hulle put uit die omgewing om hulle.”
Hoof van die Witrivier-galery
Dana het in Pretoria grootgeword, maar is Johannesburg toe nadat sy haar man, Bruce, ontmoet het. Hulle het albei in die bankwese gewerk, maar dit het verander toe hulle kinders gehad het. “Waarom jaag jy nie jou drome na nie,” wou Bruce weet.
Dana het vir Michael Ferreira Heyns begin werk, ’n gevestigde Suid-afrikaanse kunstenaar in Pretoria. Sy het uitstallings begin hou by haar huis in Johannesburg – en dit was ’n groot sukses. Daarna het sy pop-up-uitstallings begin hou en uiteindelik haar eie galery, Halifax Art, in Parkhurst geopen.
Die egpaar het in Desember 2015 Laeveld toe getrek, maar Dana het vir nog twee jaar Parkhurst toe gependel. In Maart 2018 neem sy die leisels oor as die hoof van die Witrivier-galery. “Elke keer as die eienaar van Casterbridge, Louis van der Merwe, my gesien het, het hy die galery se sleutels voor my opgehou en dit heen en weer geskud.”
Dana sê daar is ’n spesiale energie in die Laeveld, en dit is danksy die natuur om jou. “Soms dink ek selfs dit het iets te make met die leylyne – spesiale tonnels wat verskillende plekke op aarde met kreatiwiteitsnodusse met mekaar verbind.”
Dana en Bruce se tienerkinders was nie in hulle noppies met die skuif nie, maar ná ses maande was hulle Laevelders in murg en been. Hulle verken graag die wêreld om hulle en hou van swem en fietsry. “Hulle neem as ekstra vakke by Upland College voëlen boomidentifikasie. Kinders moet ook oral saam met jou gaan – jy los hulle nie by die huis met ’n oppasser nie.”
Dana geniet Witrivier se sosiale lewe, wat volgens haar heel informeel is. “Mense nooi jou maklik uit vir ’n drankie of iets te ete.” Behalwe die sterk gemeenskapsgevoel van die dorp is dit ook vir haar ’n diverse plek: Verskillende groepe mense woon bymekaar sonder dat hulle in ’n spesifieke gietstuk hoef in te pas.
Mede-eienaar, Van Rooyen-orgidieë
Van Rooyen-orgidieë is ’n kwekery wat al 65 jaar sake doen. Hulle spesialiseer ook in lugplante (Tillandsia) en ander Bromeliaceae . In 1987 het Sieg en Linet Hamman hulle aangesluit by die kwekery, wat begin is deur Linet se ouers, Roelie en Angela van Rooyen.
“Roelie was ’n oftalmoloog. Hy het begin met vyf plante op sy stoep in Durban. In die jare sestig het hy besef sy stokperdjie is besig om handuit te ruk en hulle het kommersieel begin plante kweek. Sedertdien ryg hulle die pryse in vir hulle orgidieë,” sê Sieg.
Volgens hom het hulle hier op Witrivier die beste klimaat op aarde. “Ons kry nie ryp nie en ek kweek al die plante in onbeheerde toestande. Hier kan jy ’n groter verskeidenheid plante kweek as in Durban; daar val die temperatuur nie genoeg deur die nag nie. Niks blom so oorvloedig nie.”
Linet se familiewortels lê hier in die Laeveld – haar oupa was Rob Ferreira, ’n LUR in die ou Transvaalse provinsiale regering. Hy het die grond geskenk waarop die Hoërskool Rob Ferreira vandag staan.
Terwyl Sieg deur die kweekhuis stap, wys hy na van die plante: “Dié een noem hulle die aaporgidee [Dracula simia]. Sien jy die oë?” vra hy en glimlag breed. “Eerlikwaar: As jy op Witrivier woon en nié ’n mooi tuin het nie, is daar groot fout met jou!” >
Bestuurder by Plantsman
Plantsman het begin as ’n aftree-stokperdjie, maar vandag, vyf jaar later, is dit ’n plaasopvoedingsentrum van 2 ha met ’n verstommende verskeidenheid vars produkte en plante plus ’n padstal (wat op die eerlikheidsbeginsel werk), teetuin, koffiewinkel en klein venue.
Plantsman behoort aan Blackie en Hettie Swart, wat al sedert 1975 in die Laeveld woon. Blackie was eers ’n tandarts, en toe hy in 2014 aftree, wou Hettie nie hê hy moet by die huis sit en tone tel nie.
Clint is ’n bourekenaar wat die grootste deel van sy lewe in eiendomsontwikkeling en konstruksie gewerk het. “Ek het hierdie geriewe vir hulle gebou en is so met die tyd ingetrek. Vandag bestuur ek saam met Hettie die koffiewinkel en help waar ek kan op die plaas.”
Die doel is om soveel as moontlik en die grootste verskeidenheid plante te kweek: macadamias, pynappels, turksvye, draakvrugte, bessies, mango’s, lietsjies, suurlemoene, pomelo’s, koffie, stervrug, koejawels, appels, druiwe, granate, perskes en slaaigoed.
Maar hulle kweek ook onder meer konings- en koninginproteas – Blackie het geleer hoe om die “arm grond na te boots” waarin dié fynbosplante in die omgewing groei.
As deel van die pesbeheer stap venda-hoenders bedags vry rond – by Plantsman word geen gif gebruik nie. Organiese afval word in kompos verander en besoekers word aangemoedig om hulle verpakkingsmateriaal terug te bring sodat dit herwin kan word. Alles in die koffiewinkel word plaaslik verkry óf vars uit die tuin gemaak: dinge soos kruieslaaisous, sitroengras-ystee, granaatsap, maroelajellie en jalapeñosous.
Die gedagte is om deel te wees van die gemeenskap en kleiner plaaslike boere te ondersteun wat ’n afsetpunt soek. “Witrivier het soveel kosbare inligting. Ons is ware plantmense,” sê Hettie.
Richard Spoor