Ontmoet die mense
Clint Mantle
Toe hulle die besigheid begin het, het hulle op die naam Khanyakudze besluit, wat “savanneboom” beteken. Maar hulle het later op hulle eie name besluit om dit eenvoudiger en meer persoonlik te maak. Die boom as logo is wel behou.
Hulle hooffokus is markte, aanlynverkope en lodges. Nick & Nichol’s het ook hulle vlerke oorsee gesprei en kry nou bestellings van winkels in Kanada, Australië en Duitsland. Die grootste uitdaging is om materiaal in die omgewing in die hande te kry – nie noodwendig binnebande nie, maar sterk ritssluiters, gespes en materiaal vir die voering.
Hulle voel veilig hier op Witrivier, en hulle twee kinders, Afrika en Kenya, is baie gelukkig by die Freerange-opvoedingleersentrum op die Plastonpad. Hier fokus die kinders volgens die Cambridge-kurrikulum op selfgerigte leer.
Die egpaar sê die mense op Witrivier is baie ondersteunend. “Ek dink nie daar is ’n enkele huishouding sónder een van ons sakke nie,” sê Nick. “Ons het ook nie ’n motor nie, maar mense leen vir ons hulle s’n om materiaal te gaan soek.”
AS JY DIE DORP uit Mbombela binnery, is daar by die eerste verkeerslig ’n nuwe inkopiesentrum. Witrivier Crossing, wat in Augustus laasjaar oopgemaak het, spog met al die groot winkelgroepe – van die inwoners was uit hulle vel omdat hulle nie meer na Nelspruit se Woolies toe hoef te ry nie, maar ander meen die dorpsatmosfeer is daarmee heen.
“Groei en ontwikkeling moet op ’n organiese manier gebeur – daarsonder sal ons soos baie ander dorpe word wat mooi van buite is, maar eintlik ineenstort,” sê Tiffany Biggs. “Ons wil die kleindorpiegevoel behou. Dit is fantasties dat Nelspruit so naby is – dit keer dat Witrivier te groot word.”
Tiffany is die bemarkingshoof van Mfafa-safari’s. Nadat sy soölogie gestudeer het aan die Rhodes-universiteit en toe op seiljagte gaan werk het, het sy teruggekom na haar grootworddorp. Tans werk sy aan ’n inisiatief om die Witrivier-natuurreservaat te red en ’n groen ruimte vir die dierelewe te bewaar. In Danie Joubert-straat, langs die Witrivier-rugbyklub, lê ’n beskermde vleiland en natuurreservaat van 21,4 ha wat die tuiste is van die endemiese en bedreigde Aloe simii. “Baie wild hou hier, soos ystervarke, bosvarke, duikers, kommetjiegatmuishonde, vlermuisvalke en kolonies byevreters. Met die ontbossing weens nuwe macadamiaplase het die diere ’n groot deel van hulle habitat verloor,” sê Tiffany.
Mense het springbokke en rooibokke geskenk, en die plan is om die plek te omhein en verhewe voetpaadjies te bou – en ’n ou gebou in ’n opvoedingsentrum en eetplek te omskep. Tiffany sê die dorp ondersteun haar fantasties. “Ek het nog altyd geweet Witrivier kan die wa deur die drif trek, maar mense het hulle oortref met hulle tyd en dienste.”
Dit is vir haar lekker om weer by die huis te wees. “Jy bly in die bos, maar jy is naby al die stadsdinge. Ons gaan stap en soek watervalle by Graskop en Sabie; ons gaan dikwels Krugerwildtuin toe; en nou onlangs was ons vir ’n naweek Mosambiek toe. Hierdie is soos die middelpunt van ’n speekwiel; dit voel of alle paaie Witrivier toe lei.” >