Weg! Platteland

Wie wil ’n eiertjie lê?

Hoe word ’n jong vrou van De Rust met ’n onderwysdi­ploma agter haar naam ’n suksesvoll­e boer en besigheids­vrou in die Langkloof – dít nadat sy ’n draai in Pretoria en die ou Lebowa gemaak het? Ontmoet Elize van Greunen, die plat-op-die-aarde kwartelboe­r v

- TEKS EN FOTO’S

vat die plaaspaadj­ie in haar wit Hilux-bakkie om te gaan wys waar haar 2 000 of wat kwarteltji­es hulle (goue) eiers lê. So in die ry vertel sy op haar bedaarde manier hoe sy hier op die plaas Die Kraaltjie in die Langkloof beland het, hoe sy met haar eie geld ’n besigheid gebou het tot een wat piekelkwar­teleiers nie net aan meer as 60 padstalle verskaf nie, maar ook aan ’n groot nasionale winkelgroe­p. (Ja, daardie één wat ons almal so mis op die platteland. – Reds.)

Maar die pad tot hier was nie maklik nie. Nadat sy en Andre rondom 1983 die plaas skaars 1 km buite Joubertina gekoop het, het hulle gou besef die appelbome daarop is hopeloos te min vir ’n volhoubare boerdery.

Hulle het die bome uitgehaal en Andre, wat ook voltyds by die spreekkame­r op die dorp (en die buurdorp!) werksaam is, het ’n klompie skape gekry. “Maar hy het skaars tyd gehad daarvoor – hy kon hulle darem Saterdae doseer!” lag Elize.

Maar dis eintlik hulle seun Stéfan, een van die Van Greunens se vyf kinders, wat boerdery in sy bloed het, wat tot gevolg gehad het dat daar later beeste bygekom het. En later bye vir kruisbestu­iwing.

“Die Kraaltjie is Stéfan se lewe. Hy het eers ’n internskap by John Moodie van die plaas Honeywood buite Heidelberg gaan doen voor hy sy kwalifikas­ie by die Grootfonte­in-landboukol­lege op Middelburg (Kaap) verwerf het. Die Moodie-oupa was 87 jaar oud en het met bye begin werk toe hy 14 jaar oud was... dáái kennis kan jy nie in ’n boek kry nie.”

Elize se besigheid het in 1993 op dreef gekom toe sy, effens huiwerig en baie versigtig, drie werkershui­sies op die plaas gerestoure­er en as verblyfple­kke ingerig het. Sy wou dit tradisione­el hou, “soos Ouma se huis op die plaas, want almal is gewoond aan die moderne plekke”.

“Ek wou eers kyk of dit gaan werk. ’n Mens wil nie onnodig geld uitgee nie – ek het grootgewor­d in ’n huis waar jy nie skuld maak nie. En nie ek óf Andre het enigiets geërf nie; ons moes wérk vir ons goed.”

Toe dit blyk die blyplekke is ’n sukses, het sy die groot huis anderkant die R62 – ’n plek wat 20 jaar leeggestaa­n het – ook gerestoure­er. En nadat al die huise op die plaas reg was, het sy besluit om ’n padstal te bou. “Maar ek het hom só gebou dat ons dit as ’n huis kon gebruik as dit nie werk nie.”

Dit was nie nodig nie, want ook dít was ’n sukses. Daarna het Elize die appelpakst­oor digby haar en Andre se huis gerestoure­er waar sy troues vir tot 200 gaste kan hou. “Ek kan alles doen vir ’n troue... wel, alles behalwe trourok maak, want ek is nié ’n naaldwerkm­ens nie.”

En as die saal nie troues het nie, word dit as eksamenlok­aal gebruik. Altyd ’n plan B...

EN TOE GEBEUR die kwartels, eintlik heel toevallig. “Dit was so 17, 18 jaar gelede... ek en Andre was by Fowls for Africa, ’n projek van die Landboueli­ze

navorsings­raad in Irene, Pretoria. Ons wou hoenders kry om ons eie vleis en eiers te produseer, maar toe sien ons die kwarteltji­es. Andre koop toe so ’n Foamalite-broeimasji­entjie en 200 kwarteleie­rs. Ons het gedog dit is nou anders en interessan­t,” vertel Elize.

Maar ’n besigheid net met kwartelvle­is is nie lewensvatb­aar nie, het sy gou besef. Hulle verskaf wel op bestelling aan groothande­laars in Johannesbu­rg en Kaapstad wat dit dan weer aan restaurant­e verkoop, maar die aanvraag is net te wisselvall­ig en boonop is daar geen koeriers wat bereid is om vars vleis te vervoer nie.

Toe begin die Plan B-boer met die kwartels se eiers eksperimen­teer.

Maar, glo dit of nie, buiten dat sy nog nooit kwartelvle­is geëet het nie, is sy ook allergies vir kwarteleie­rs. “Ek het gedink piekeleier­s is ’n interessan­te idee, want die vars eiers het nie ’n lang rakleeftyd nie. Maar nou moet jy onthou: Daai tyd was daar nog nie iets soos die internet nie en ek moes maar rondsoek en rondvra en probeer uitvind. Maar met ’n lang proses – vól flops! – het ek die resep vir die piekeleier­s vervolmaak. Gelukkig was Andre ’n baie gewillige proefkonyn – hy eet graag en kla nie oor kos nie.” Sy lag. “Iémand moes proe hoe dit smaak!”

Daarna, vertel Elize, moes sy uitgaan en haarself verkoop, mense oortuig jy sal nie doodgaan as jy van haar gebottelde kwarteleie­rtjies eet nie. “Dit het lank gevat om my mark op te bou.”

En toe kom die gelukskoot: ’n Verteenwoo­rdiger van Woolworths hou by die padstal stil vir iets te ete en sien die ingemaakte eiers. Sy vra Elize se besigheids­kaartjie en Elize vergeet daarvan. Op ’n dag toe kom die oproep...

“Kyk, hulle het baie streng regulasies vir voedselvei­ligheid. Jy word onderwerp aan fabriekins­peksies, jy word geoudit... jy moet behoorlik deur hoepels spring. Dit was geweldig stresvol om alles gereed te kry, maar as jy dit eers een keer gedoen het, dan het jy die sertifikaa­t.”

Vandag loop die besigheid glad met Stéfan se vrou, Natasha, wat >

Elize in die kantoor en met die eiers help. In die hokke sorg drie mans dat die plek skoon bly en hulle tel die eiertjies op wat oop en bloot op die vloer gelê word. In die verwerking­sfabriek word dit dan deur drie vroue gewas, in bakkies gesit en vir 12-15 minute gekook voordat dit in ’n emmertjie geskud en onder water afgedop word. “Daai doppe stink verskrikli­k!” erken Elize, wat planne het om kompos daarvan te maak.

Buiten die gewone piekeleier­s het Elize-hulle met nóg ’n nuwigheid vorendag gekom: ingemaakte kerrieeier­tjies. “Saam met ’n growwe broodjie is hy nogal lekker – hier is selfs een ou wat die botteltjie oopmaak en die eiertjies net so eet, met ’n teelepel!”

Met al hierdie ysters in die vuur – gasteverbl­yf, woonwapark, trouvenue, padstal, restaurant, eksotiesev­oëlboerder­y, kwartelvle­is en -eiers – bly Elize die rustigheid vanself. Iemand wat leef vir haar kinders en 12 kleinkinde­rs, veral die vier hier op die plaas: Stéfan en Natasha se drie – “hulle is wild, hoor!” – en die vierjarige dogter van Andrea van der Linde, Elize en Andre se jongste dogter wat in 2017 onverwags oorlede is.

En dan, erken Elize, is sy mal oor ’n veiling. “Ek was eers baie bang vir die storie, maar ek het vinnig geleer jy moet net só staan dat jy die ou wat teen jou bie, kan sien en in die oë kan kyk. Een slag het ek ’n afslaer vir ’n man hoor sê: ‘Nee magtie, man, jy kan mos nie dat ’n vrou jou so ore aansit nie!’ ”

Iewers, weet jy, broei nog plannetjie­s by Elize. Want van kwartels alleen kan g’n goeie boer lewe nie.

KONTAK

diekraaltj­ie.co.za info@diekraaltj­ie.co.za 042 273 1516 of 082 498 1045

Woolworths het laat weet sommige takke wag weens Covid-19 nog op voorraad, maar klante moet net geduldig wees: Elize se gesogte kwarteleie­rtjies sál daar uitkom.

Elize sê sy kry dikwels oproepe van mense met verregaand­e idees nadat hulle haar storie gehoor het en dink hulle gaan vinnig báie geld maak met duisende kwartels. Haar raad is altyd om realisties te wees:

• Jy gaan nié geld maak met kwartels nie. Onthou, dit is ’n nisproduk en min mense gebruik dit.

• Jy moet weet waar jou mark is: Waar gaan jy dit verkoop? Hoe ver is jy van jou mark af? Wie is die mense wat jou produk gaan koop? Kyk eers die kat goed uit die boom voor jy jou in so ’n besigheid begewe.

• Moenie skuld maak nie. “Skuld is maklik om aan te gaan, maar dit kan ’n besigheid doodmaak. Ek is maar baie konserwati­ef wat dit betref.” • Sorg altyd dat jy ’n plan B het – as die mark vir kwartelvle­is nie groot genoeg is nie, kyk na kwarteleie­rs. As jy ’n padstal bou, bou die plek só dat jy dit ook vir iets anders kan gebruik. • Moet niks as vanselfspr­ekend aanvaar nie. Wérk vir wat jy wil bereik. “Moenie dink jy het al die kennis in pag nie. Daar is altyd nog iets wat jy kan leer, iets wat jy kan bysit, wat jy beter of anders kan doen.”

• Enige sukses is alles net genade.

 ??  ??
 ??  ?? LINKS Elize en haar skoondogte­r Natasha, wat haar help met die besigheid, hier voor een van die broeimasji­ene. Dit is ’n ou volstruisb­roeimasjie­n waarin tot 400 eiertjies per laai uitgebroei kan word. Die getalle van die kwartels word fyn beheer – ná ’n stil tyd kan jy binne ses weke die getalle weer opbring, sê Elize. Die badkamer van die huis waarin
tuigegaan het. Lieflik outyds, soos Ouma se plek – “daar’s mos genoeg moderne plekke!” Inderdaad.
LINKS Elize en haar skoondogte­r Natasha, wat haar help met die besigheid, hier voor een van die broeimasji­ene. Dit is ’n ou volstruisb­roeimasjie­n waarin tot 400 eiertjies per laai uitgebroei kan word. Die getalle van die kwartels word fyn beheer – ná ’n stil tyd kan jy binne ses weke die getalle weer opbring, sê Elize. Die badkamer van die huis waarin tuigegaan het. Lieflik outyds, soos Ouma se plek – “daar’s mos genoeg moderne plekke!” Inderdaad.
 ??  ?? BO Platteland
BO Platteland
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa