Só moet ’n vet skaap mos lyk!
Wat doen ’n boervrou wat midde-in die knellende droogte in die Karoo sien hoe hulle troppie skape ál maerder en hulle beursie ál leër word? Sy maak ’n plan, natuurlik, en begin skapies prakseer – vét en gesonde skapies wat vir boere weer hoop kan gee – en dít met wol en haar hekelpen.
Chrisma van der Merwe van die plaas Middelkop in die Murraysburg-distrik noem hierdie baldadige bobbelskapies kort en kragtig Fat Sheep – en hulle is deesdae net so in aanvraag soos die geurige lamstjoppies waarvoor die streek so beroemd is. Wat verlede jaar begin het as ’n poging om die inkomste van haar en haar man, Dirk, ’n angoraen-merinoboer, aan te vul en voer vir hulle honger diere te koop, is nou ’n suksesvolle gemeenskapsopheffingsprojek met altesame 24 boervroue en pensioenarisse (én een man) uit Murraysburg, Elim, Beaufort-wes, Loxton, Kimberley, Victoria-wes en selfs Vanderbijlpark wat Chrisma help om voor te bly met die bestellings.
Die Fat Sheep-speelgoedreeks het intussen uitgebrei en bestaan nou uit 8 skapies van verskillende groottes (die pryse wissel van R150 tot R300 elk) asook vier kombersies van 54 x 54 cm (R230 elk).
Hoekom dink jy is die projek so suksesvol? Hoekom roer dit mense se hartsnare so?
Ek glo dis omdat dit vir my ’n geloofsaak is. Die droogte is ’n feit, maar die Liewe Vader het my talente en uithouvermoë gegee – en ook nie net om in ons gesin se behoeftes te probeer voorsien soos wat oorspronklik die plan was nie. Ek het ’n groter verantwoordelikheid, want almal wat skapies hekel, verdien nou ’n inkomste daaruit.
Wat sê jou man en ander boere oor dié nederige projek van jou wat so mooi uitgekring het?
Dirk sê hy is baie trots omdat hy weet waar ek begin het: met niks. Ek hoor maar via hom die ander boere sê hulle haal hulle hoed vir my af oor hoe ek my man ondersteun. Van die vroue sê die projek vat hulle gedagtes weg van die droogte en hou hulle – en hulle mans – meer positief.
Hoe word die inkomste uit die projek gebruik of versprei?
Die besigheid is nog in sy kinderskoene en daar is glad nie groot winste ter sprake nie. Almal wat hekel, word vergoed volgens hulle uitset en die meeste het die inkomste nodig om aan die lewe
te bly. Ek verskaf die wol en betaal ook die vervoerkoste om die voltooide items of dele by my te kry.
Omdat die werkloosheidsyfer op ons dorpie hemelhoog is, wil ek baie graag uitbrei om mense te help om kos op die tafel te sit. Dit is nie ’n onderneming waarmee ek myself wil verryk nie; dit gaan oor my medemens.
Sien jy ’n verskil in jou gemeenskap?
Nie net in die gemeenskap nie, maar in elke vrou wat deel is van die projek. Die lekkerste is as mense wat skape gekoop het, foto’s of video’s stuur van Boetie of Sussie met hulle skapie.
Wat is jou raad aan mense wat op moedverloor se vlakte sit en dalk ’n soortgelyke projek wil begin?
Begin by iets wat uniek is en wat pas by die streek of tema. Bid, hou moed, druk deur, hou aan... my man sê altyd ’n mens ’n mens se planne moet net nooit opraak nie.
Wat is julle topverkoper? En hoeveel verkoop julle min of meer per maand?
Vir seker ons Vettie, die oorspronklike skapie! Ons verkoop 100-200 skapies per maand – die bestellings was maar min in die grendeltyd – ek glo almal moet maar die sente omdraai.
Het julle voorraad of hekel julle slegs op bestelling? Hoe lank wag mense vir hulle skapies?
Ek is baie gelukkig, want die mense ondersteun ons pragtig omdat hulle graag mense wil help wat sukkel in die droogte. Ons kan nie voorbly om skapies te maak nie, maar die plan is wel om voorraad op te bou. My wens is dat ons met ons unieke Fat Sheep-etiket in elke oor aan winkels reg oor die land kan voorsien.
Gedurende die inperking het mense soms lank gewag vir hulle skapies – óf ons kon dit nie versend nie óf ons kon nie wol of ogies koop nie. Gewoonlik wag mense hoogstens 4-6 weke vir hulle bestelling, veral as dit ’n groot bestelling is.
Enige nuwe planne vir die toekoms?
Hope! Dit sal wonderlik wees as meer plaaslike winkels ons produkte op hulle rakke wil uitstal. My pad het ook intussen gekruis met dié van Hectic-promosies, ’n fietsry-organisasie in Pretoria wat in die toekoms fietswedrenne as deel van hulle welsynsprojekte wil aanbied. Ons het almal se hulp nodig, want die projek is lankal nie meer beperk tot Murraysburg nie.
Laastens: Het dit al gereën by julle?
Ons is dankbaar oor die bietjie reën wat ons in Maart en April gekry het, maar opvolgreën is nodig sodat die veld behoorlik kan herstel. Maar ons is lief vir die Karoo en glo ons gebede sal verhoor word.