Weg! Platteland

TESSELAARS­DAL Die dal van naastelief­de

- TEKS EN FOTO’S

Tesselaars­dal is ’n gehuggie uit die ou dae wat op partry Gps-apps nie eens registreer nie, en in die jongste padatlas sal jy ook nie die naam kry nie. Tog woon bruin en wit al by die 200 jaar in harmonie saam hier in die berge tussen Caledon en Hermanus.

Grondpad. In die moderne tyd is dít iets wat ons te min aan ons bas voel. Dit laat jou stadiger ry, die hobbels in die pad vóél. Jy wil ruit oopdraai, die radio afsit, dieper asemhaal, beter ruik, fyner kyk... ligter voel.

Hier, op die grondpad nadat jy van die R320 – die Hemelenaar­depad tussen Caledon en Hermanus – afgedraai het en die rûens en holtes van die Overberg in verdwyn, is die ervaring soveel intenser, die gevoel van rustigheid soveel meer voelbaar.

Dit is die middel van die winter, in die tyd van Covid19, en die koring staan groen en geil met die geel van canola wat kop uitsteek. Die lug is fletsblou met wit wolkstrepi­es, die dammetjies vol en roerloos en blink. Al moet jy jou oë oophou om hier en daar ’n slaggat te systap, sien jy soveel meer. Jy gewaar groepies vet skape langs die pad, ’n paar ongeërgde beeste en, as jy gelukkig is, ’n bloukraanp­aartjie wat die wêreld langneksta­tig bespied. En groen, groen, groen, so ver as wat die oog kan sien.

Dan, 18 km en enkele wuiwende verbygange­rs verder, spoeg hierdie grondpad jou uit in ’n holtetjie aan die voet van die Kleinrivie­rberg. Net ’n paar huise, die meeste van hulle uit ’n ander era, lê hier uitgestroo­i tussen fynbos en bloekoms en akkerbome.

Dit is Tesselaars­dal. Die plek waar slawerny ’n vroeë dood gesterf het, waar die wreedste van apartheid se tentakels – gedwonge verskuiwin­gs – nooit vatplek kon kry nie.

’n Plek van geloof, hoop en liefde.

DIT IS ALLERMINS ’n perfekte prentjie wat jy voor jou sien wanneer jy die gehuggie binnery. Hier is nie erwe te bespeur met netjiese draad of paaltjiesh­einings nie, maar eerder losserige plasies, party van hulle met ’n huis of twee, ander met sinkbousel­s en dalk ’n ou woonwa of afgeleefde bakkie langsaan. Geen oulike pophuisies met grasperke en roostuine en tuinbeeldj­ies nie.

Uit die klein stukkie teerpad – die plek se hoofstraat – vertak grondpaadj­ies die heuwelagti­gheid in. Jy sien wasgoed wapper. ’n Man met ’n kruk. Veld. Water. Ganse wat uitbundig vlerkklap en watervuurw­erk maak. In ’n landerytji­e ’n trekker waarvan die agterwiele halfpad in die modder weggesink het met ’n man wat kopkrappen­d staan en toekyk. Elders iemand wat boomtakke afsaag. Tarentale wat onbeholpe uit ’n varkhok opvlieg as hulle meen hulle rus word versteur deur jou bakkie wat aankom. ’n Trekker met sleepwa wat die dorp binnegekru­ie kom.

Hier en daar verrys ’n nuwe bousel, op ander plotte werskaf mense om fondamente te grawe, maar die meeste woonplekke is oud met dik mure, met ’n sinkdak en aan die een kant ’n vuurherd. Tipiese ou Overbergse boustyl. Sommige mense sou dalk aanvoer dat baie van die huise ’n vars laag verf kort, maar dit is asof dit hier reg voel.

Want hierdie is ’n spesiale plek. Mense in die straat wuif vriendelik vir jou, al is jy ’n vreemdelin­g en al kom iemand die hoeveelste keer op dieselfde dag verby. Tesselaars­dal se mense, hoor

jy as jy begin gesels, ken van saamstaan, mekaar help, vir mekaar omgee. Jy hoor hoe Cameron Stewart haar vriendin Dondrey Julies omgepraat het om haar werk as naaldwerke­r by die Fochini-groep op Caledon te laat vaar om in haar J&S Store te kom werk. Want Cameron sien nou voltyds om na haar ouma Riena, wat op 12 Junie haar 105de verjaardag gevier het.

By die netjiese biblioteek hoor jy by Jonelda Williams en Chandré Stewart, wat vandag hier aan diens is, hoe dié biblioteek ’n spilpunt van die gemeenskap en ’n belangrike hulpbronse­ntrum geword het.

Chandré, die stiller vrou van die twee, verdwyn om tee te maak, maar Jonelda kan nie uitgepraat raak oor alles wat hulle hier vermag het sedert hulle op 15 Junie 2018 die laaste boeke uitgepak en amptelik die deure geopen het nie.

“Van klein kinders tot bejaardes kom neem hier boeke uit. Jy leer almal intiem ken, jy weet van watter soort boeke elkeen hou.” Sy raak byna uitasem. “Van die 11 biblioteke van die TWK [die Theewaters­kloof-munisipali­teit]

is Tesselaars­dal s’n die kleinste, maar ons het die heel hoogste sirkulasie. Ons sukkel ook nie met stukkende of nat boeke nie, want die mense is trots op hulle biblioteek!”

Aangrensen­d aan die boeke-afdeling is boonop ’n saal wat gereeld gebruik word om mense se lewe beter te maak. “Ons het al vir die kinders pakkies gemaak en uitgedeel. Ons bring vroue byeen– dikwels vroue vir wie die lewe maar moeilik is, wat baiekeer abuse of aangerand word. Baie ma’s verval in wyn en hulle drink om van die harde werklikhed­e van hulle lewe te vergeet… Maar ons het vir elkeen ’n invitation gemaak met hulle naam op. Hulle moet spesiaal voel, want só begin jy aan selfbeeld werk en die destructiv­e cycle breek. Eintlik het ons ’n groepie baie kreatiewe dames hier – party kan naaldwerk doen, dié een kan goed vetkoek bak, daai een kan die kinders se hare vleg of mosaïekwer­k doen.

“En dan het ons al mense leer lees, en vir die ouer mense wat nie kan lees nie, is hier oudioboeke.” >

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa