In ’n neutedo(r)p
Hoe ver van die grootstad af?
Tesselaarsdal is 135 km van Kaapstad en skaars 48 km van Hermanus af. Die naaste dorpe is Caledon (23 km) en Stanford (38 km).
Caledon- provinsiale hospitaal. Op Hermanus is daar die Medi-clinic Hermanus, Hermanus-daghospitaal en die Hermanusprovinsiale hospitaal.
Hermanus. Theewaterskloofmunisipaliteit op Caledon.
Die jaarlikse Tesfees, ’n ware gemeenskapsfees waar vriende en familie genooi word om die vrug van die dorpenaars se arbeid te geniet, word (hopelik, as Covid-19 dit toelaat) van 4-6 Desember vanjaar gehou. Aktiwiteite by verlede jaar se fees het ingesluit ’n modeparade, toutrekkompetisie, dans, trekkertoere, ’n potjiekoskompetisie en Boeresport. By die stalletjies was daar kos, drinkgoed en handwerk.
Annual Tesselaarsdal Festival
Naaste hospitale Naaste Woolies Munisipaliteit Groot gedoentes
Winkelassistent, J&S Store
Dondrey staan gemasker agter die toonbank, agter ’n skerm wat van kleefplastiek geprakseer is. Ja, ook hier is die coronavirus ’n bedreiging. Sy vertel sy is 29 jaar gelede hier op Tesselaarsdal gebore en sy was nog nooit weg nie.
“Tesselaarsdal is ’n familieplek, dis rustig, dis baie lekker hier. Almal ken mekaar. Maar dit het tog ook verander: Ek mis die ou Tesselaarsdal, voor die teerpad gekom het, toe alles nog almal s’n was. Ons was mos eintlik ’n dorpsgebied en nié ’n dorp nie. Ons het ons eie saal gehad, maar nou behoort die saal aan die TWK en jy moet ’n klomp geld betaal as jy dit wil gebruik.”
Dondrey het twee jaar gelede in die winkel begin uithelp toe Cameron Stewart, die eienaar, na haar ouma (nou 105 jaar oud) moes begin kyk. Voor dit het sy by die Fochini-groep se klerefabriek op Caledon gewerk waar sy T-hemde, tops en kindergoed gemaak het.
Waarvan sy nie hou nie, is die “tikkoppe” wat so inbreek. “Dit is jong kinders – almal ken vir almal – maar die polisie sluit hulle net vir ’n dag in die selle op en as jy weer sien, dan is hulle maar weer terug.”
Sy mis ook die berge en die blomme. “Destyds kon jy oral gaan stap – veral in die lente het ons graag die berge gaan verken en blomme gepluk, maar noudat die inkommers die grond opgekoop het, mag ons nie meer daar loop nie.”
Tog is dit haar plek. “Hier sal ek seker oud raak,” sê sy, “want al my mense is hier.”
Eienaar van Liefland
Johan het in 1994 van Polokwane af Onrus toe verhuis, maar toe 12 jaar lank op internasionale oliebore gaan werk. “Toe ek een slag huis toe kom, wou ek ’n bakkie koop. Dié transaksie het deur die mat geval, maar in die proses raak ek aan die gesels met ’n eiendomsagent wat vir my sê hy wil vir my iets gaan wys. Toe bring hy my Tesselaarsdal toe en wys vir my hierdie ongelooflike 360º-uitsigte. Ek het onmiddellik geweet hiér wil ek eendag bly.”
In 2012 het Johan besluit hy het genoeg gehad van die oliebore en teruggekom huis toe, en in Julie 2014 het hy die fondamente begin grawe op Liefland, wat vandag ’n gewilde trou-venue is.
Johan sê hy lewer ’n volledige diens. “Ek gebruik mense uit die omgewing om koek te bak, die blomme te doen, foto’s te neem, en hier is ’n klomp vroue wat die saal opmaak. Maar die kos maak ek self – boerekos. Ek kan vir tot 120 mense voorsiening maak, maar het ook al 220 gehad. Die kosmakery is iets wat ek baie geniet, ook sosiaal – baie aande slaan hier sommer mense uit vir iets te ete.”
Johan sê hy hou van die stilte en rustigheid en die mooi omgewing, die min karre en verkeer. “Dit is wat die meeste mense hiernatoe lok: Hulle wil wegkom van die stad en vir baie is dit belangrik om ook meer selfvolhoubaar te lewe.”
Met hierdie troubesigheid van hom, sê hy, is daar altyd nuwe mense en vars gesigte, maar teen Sondag is hulle weer weg.
“Die waarde van eiendom klim deurentyd omdat hier genoeg mense kom wat daaroor droom om weekend warriors te wees, al gaan party van hulle weer stert tussen die bene weg. Maar Tesselaarsdal bly ’n plaasgemeenskap en daar is gelukkig ’n goeie verhouding tussen die oorspronklike inwoners en inkommers.”