En nog altyd is daar hoop...
Manjifiek! Sielsroerend – die mees besonderse voorbladfoto nóg.
Ek praat van daardie fassinerende windpomp op die Herfs 2020-uitgawe van Platteland. Dit het my terstond die tydskrif laat koop. Sing ’n windpomp dan nie al die pad, met elke draaislag van die wiel, “myhart-is-affie-platteland” nie? Hoe nostalgies!
Baie dankie aan Chrismari van der Westhuizen vir haar meesleurende foto-essay “Ons wag op die reën...” Iets in haar foto’s en woorde wil die verdriet en weerlose magteloosheid verdra en besweer. Dis vreemd mooi, maar ook skrikwekkend. Kleurryk dog pynlik. Angswekkend ook... daardie dooie skaap. Dit is só hartsaangrypend dat dit aan jou siel torring. Jy raak skoon aamborstig, en dis nie net van die stof nie. Jy snak na jou asem, tussen jou tande proe jy die grint. ’n Onwerklikheid, die swak springbok; die droë, kaal veld; die fel son. Hoe oorleef ’n dier hier waar geen boom of groen graspol is nie? Waar kry mens en dier die asem vandaan om verder deur hierdie helse droogte te swoeg?
Jy begin soek vir tekens wat moontlik daarop kan dui dat die reën op pad is. Reëngelowe. Het die skilpad oor die pad geloop? Sien, die duwweltjie blom. ’n Koggelmander staar in die lug. Dan gaan dit kom reën... Jy aanskou die landskap wat in goud gebaai is, die wolke in die lug, die weerlig. Ja, sy beeld nie net die groot hopeloosheid, verlatenheid en moedeloosheid uit nie, maar ook hoop. Kyk, die lammers huppel dan sowaar, ’n bokkie se oog blink, ’n dogtertjie staar verwonderd op na jou toe...
Die gehardstes het oorgebly. Bittereinders. Maar die harte is nie te versteen om ’n skilpad te voer nie, en die hande nie só hard dat dit nie die laaste druppels uit die waterbottel op vier duwweltjieblommetjies kan drup nie. Vir soveel erbarming en
sulke ontferming moet daar eenvoudig net oneindige genade wees.
Platteland, julle het my hart geroer met die Herfsuitgawe. Ek sien reikhalsend uit na die volgende uitgawes – en ook Chrismari se volgende foto-essay, met bokspringende lammers en ’n welige groen landskap wat verder strek as wat die oog kan sien.
En ’n windpomp wat ’n vol bek water uitspoeg. Marie du Plooy LANGENHOVENPARK, BLOEMFONTEIN