Weg! Ry & Sleep

NUWE RYGOED

BMW is bekend daarvoor dat hy ’n modelreeks vir elke nis het. Tot dusver werp dit vrugte af... en die splinternu­we X4 is geen uitsonderi­ng nie.

- Teks Kyle Kock

Dié Beierse motorverva­ardiger was ’n baanbreker toe hy 20 jaar gelede begin het om luukse sportnutsv­oertuie – die X-reeks – te bou. Maar daardie eerste X5 en latere X3 was konserwati­ef en het grotendeel­s ’n tradisione­le sportnutsr­esep gevolg.

Omdat sportnutse wêreldwyd gewild is – en mededingin­g onder vervaardig­ers straf – moet hierdie vervaardig­ers deurentyd met unieke eienskappe vorendag kom vir hulle sportnutse. BMW is bekend dat hy vernuwing voorstaan, ’n ingesteldh­eid wat hom ’n groeiende reputasie van vindingryk­heid gegee het.

Die X-reeks het in 2017 meer as ’n derde van BMW se totale verkoopsyf­er verteenwoo­rdig, met die X4 wat sedert 2014 meer as 200 000 eenhede reg oor die wêreld verkoop het. Maar die maatskappy rus nie op sy louere nie, en skaars vier jaar vandat die eerste geslag X4 plaaslik bekend gestel is, kan jy nou sy opvolger koop.

Ons het die jongste model in KwaZuluNat­al getoets om uit te vind wat jy te wagte kan wees.

Vorm en funksie

Die nuwe X4 se voorkoms gaan beslis verdeeldhe­id saai. Hy’s óf vir jou mooi óf jy gaan dink hy’s skreeuleli­k. Maar een ding is seker: Jy gaan vir langer as net ’n paar sekondes na hom staar. Dis duidelik dat BMW se stileerder­s dit geniet het om dié ryding te ontwerp. Die langer asafstand en bakwerk het hulle in staat gestel om sterk horisontal­e lyne te gebruik om ’n dinamiese voorkoms te skep wat die X4 vinnig laat lyk, selfs wanneer hy stilstaan.

Die glashuis se profiel is smaller as sy voorganger s’n en die algehele indruk is dat die nuwe X4 platter, breër en langer is. En dit is inderdaad so.

Die nuwe stilering is nie net kosmeties nie; dit verlaag ook die X4 se sleursyfer wat om die beurt sorg vir laer brandstofv­erbruik. En dít is altyd welkom.

Slim en knus kajuit

Binnelangs lyk hy presies soos wat jy van ’n BMW verwag. Die fokus is op die bestuur-

der en die afwerkings­vlakke is van puik gehalte. Jy kan uit drie afwerkings­vlakke kies: Standaard, M Sport en M Sport X. Ons het by die plaaslike bekendstel­ling die M Sport-pakket getoets. Dié weergawe kry ’n dikker stuurwiel as die standaardm­odel, wat te kenne gee die bestuurder wat hom kies, is ’n entoesias wat motors ernstig opneem. Die sitplekke is tipies van die BMW M-reeks met dik stoffering aan weerskante van jou rug en bobene sodat jy die X4 ywerig deur die draaie kan stuur sonder om uit die stoel gegooi te word.

Jy’t ook toegang tot ’n ooraanbod van lekker katoeters, soos BMW se Connected Drive-stelsel wat ’n app insluit waarmee jy onder meer die X4 se deure kan oop- en toesluit. Die app leer ook jou gewoontes aan en sal ná ’n ruk begin voorspel waarheen jy wil ry en aanwysings gee.

Die raak skerm dui verkeersto­estande aan, en as jy ’n Apple-slimfoon het, kan jy Apple CarPlay bestel teen R4 300. As jy régtig wil spog met jou X4, moet jy die opsionele digitale sleutel (R3 650) oorweeg wat ’n klein skermpie het waarop jy onder meer kan sien hoeveel brandstof in jou X4 se tenk oor is en hoe ver jy daarmee kan ry.

Vinnig en vloeibaar

Daar is drie enjins om van te kies: Die 2 ℓ-turbopetro­l in die X4 xDrive20i (135 kW en 290 Nm), die 2 ℓ-viersilind­er-turbodiese­l van die X4 xDrive20d (140 kW en 400 Nm), en die vlagskip-3 ℓ-turbopetro­l-reguitses in die X4 M40i (265 kW en 500 Nm).

Al drie modelle gebruik’ n agt spoed outomaties­e ratkas wat die wringkrag verdeel n aal vier wiele deur middel van BMW s ex Dr i v e-alle wiel aandrywing stelsel.

Dié stelsel is nie gemik op veldryverm­oë nie, maar eerder om die padhouverm­oë te verbeter.

Die jongste X4 is ongeveer 50 kg ligter as sy voorganger, en dít, saam met die aanpasbare stuur aksie en aanpasbare M-reeks veringstel­sel en-ewenaars, sorg dat die nuwe X4 lekkerder (en veiliger) as ooit tevore teen ’n bergpas kan uitjaag.

Slotsom

Die X4, nes die ander X-modelle met ewegetal-modelname, is ’n pionier in dié baie spesifieke nismark, maar hy’s nie meer die enigste voertuig in daardie nis nie. Waarom sal jy dus ’n X4 bo ’n mededinger kies? As jy effens weg van die norm wil staan en ’n groter waardering het vir spoed as die deursnee-sportnutse­ienaar, dan is die X4 so reg in jou kraal.

 ??  ??
 ??  ?? IN BMW SE AARD. Die sitplekke is tipies van die M-reeks, met dik stoffering aan weerskante van jou rug en bobene. Hier is ook ’n magdom katoeters.
IN BMW SE AARD. Die sitplekke is tipies van die M-reeks, met dik stoffering aan weerskante van jou rug en bobene. Hier is ook ’n magdom katoeters.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa