Weg! Wilde Plekke

Stap die Makuya Primitive Trail

- – Leilani Cronjé

In November 2021 meld ek en sewe vriende aan by die ingang van die Makuya-natuurrese­rvaat. Ons twee gidse van Lowveld Trails gee ons ’n vinnige oriëntasie.

Die doel van die Makuya Primitive Trail is om jou ’n deelnemer eerder as ’n toeskouer van die natuur rondom jou te maak. Ons word gevra om so min as moontlik te praat – en skaars ’n kilometer nadat ons begin stap, sien ons hoekom. ’n Trop olifante kruis die rivier reg voor ons en dwing ons om so stil soos standbeeld­e te staan. Te voet is ’n ontmoeting met ’n olifant iets heel anders as wanneer jy dit van ’n voertuig bekyk!

In die dae wat kom, word dié noue band met die natuur ons nuwe werklikhei­d. Ons volg die kloof wat die Luvuvhuriv­ier in hierdie deel van Limpopo maak. Teen laatmiddag bereik ons ons oornagplek op die oewer van die rivier. Dis vrekwarm, en ons gaan spoel vinnig af in ’n sylopie water – die gidse maak eers seker daar is geen krokodille naby nie.

Dit is die eerste keer in my lewe wat ek onder die sterreheme­l slaap. Ek voel vreedsaam. Saans kry elkeen ’n beurt om ’n uur lank wag te staan net vir ingeval ’n gevaarlike dier naby die kamp kom. Dié uur is kosbaar: Jy het tyd om die dag se gebeure op jou eie tyd te verwerk.

Niks berei jou voor op die landskap wat jy sien nie.

Berge, kranse, enorme kremetartb­ome. Doer in die verte ’n olifant. Luiperdspo­re. Kort-kort stop die gids en vertel jou iets interessan­ts oor die bos rondom jou. Elke dag net ná middagete rus ons – ’n middagslap­ie op riviersand, wie sou kon raai dis net wat ’n moeë lyf nodig het?

Die derde dag van ons stap is die taaiste – maar ook die een wat ek die langste sal onthou. Ons fiksheid word beproef. Ons klim en klouter bo-oor en onderdeur rotse.

O, ja, en die glyery! Dit het gereën en ek maak weer kennis met modder soos toe ek klein was. Wat dié stap so spesiaal maak, is dat net ’n handjievol mense ooit die Luvuvhu-ravyn sien. En dié keer was dit ons.

Hoe werk dit? Dit is ’n begeleide roete – jy stap saam met twee gewapende gidse van Lowveld Trails. Jy los jou voertuig by die Singo Camp in die noorde van die Makuyanatu­urreservaa­t. Jou groep kan kies om enigiets van drie tot ses dae te stap. Groepe word tot agt mense beperk.

Wat moet ek saamvat? Alles – jy maak jou eie kos. Dra ook jou verkyker saam – al is dit swaar!

Wat kos dit? Ons het die driedag-opsie teen R31 900 vir ’n groep van 8 gekies. Per persoon is dit dus sowat R4 000. Hoe langer jy stap, hoe duurder word dit.

Bespreking­s www.lowveldtra­ils.co.za

 ?? ?? Die Luvuvhu-ravyn op die Makuya Primitive Trail.
Die Luvuvhu-ravyn op die Makuya Primitive Trail.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa