Weg! Wilde Plekke

Die makker Richtersve­ld

-

Die |Ai|Ais-Richtersve­ld-oorgrenspa­rk is ’n goeie bestemming as jy die eerste keer hierdie omgewing wil verken. Die SuidAfrika­anse gedeelte is 162 500 ha, met

442 000 ha wat aan Namibië se kant van die Oranjerivi­er lê.

Dit maak nie saak waar in die land jy bly nie, die park lê vér. Springbok is die laaste groot dorp, of jy nou van die Wes-Kaap, Vrystaat of Limpopo af ry. Dis 255 km (waarvan meer as die helfte grondpad is) van Springbok tot by die park se ontvangska­ntoor in Sendelings­drift, maar reeds langs dié paaie sien jy landskappe wat jy nie gedroom het bestaan nie. Jou voertuig sal vir lang tye die enigste wees op die vlaktes tussen berge met roepname soos Stinkfonte­inberg, Wildeperde­rant, Torkop, Springklip­berg en Ploegberg.

By Sendelings­drift kan jy met ’n pont oor die Oranjerivi­er gaan (maak seker die grenspos is oop, want dit was toe tydens Covid-19-tye), maar daar is baie minder roetes aan die Namibiese kant van die park om te ry.

Jy kan by Sendelings­drift se ruskamp oorbly indien jy nie ’n 4x4 het nie. Sodra jy die park verder wil verken, is dit egter raadsaam om ’n 4x4 te ry.

Maak eers weer tenk vol by die vulstasie voordat jy die park invaar. Die pad na die De Hoop-kamp raak sommer vinnig tweespoor. Niks te ernstig nie. Dis klipperig, dis hard; hier is nie modder of sand vir vassit nie. In die sanderige rivierlope elders in die park kan sulke dinge maklik gebeur.

In die Halfmenspa­s is ’n paar van dié unieke halfmens-plante. Half-boom, half-mens, half versteek tussen die klippe. ’n Mens moet fyn kyk vir hulle. Aan die ander kant van die pas sit die Hand van God teen ’n rots vas. Dit lyk wraggies soos ’n reuse-hand wat óf ’n high five óf hokaai beduie. Elkeen besluit maar self wat daar vir hulle gewys word.

Die smal paadjie kronkel voort en klim met die Akkedispas deur die rante. Hier

Oorkantste blad, kloksgewys van links bo. Hondebal (Larryleach­ia cactiformi­s) in die Fluorspar-vallei, noord van Eksteenfon­tein; Twee klipspring­ers teenaan die Tatasberg; ’n Karoospekv­reter tussen Pearson se aalwyne in die Helskloofp­as. Pearson se aalwyn is genoem na prof. Harold H.W. Pearson, die eerste direkteur van die Kirstenbos­ch- botaniese tuin, wat die plant in 1910 aangeteken het.

begin voel dit behoorlik asof jy verdwyn. Net die paar witgatbome in die klofie sien jou deurry. Stop, enjin af, luister gou… Absoluut niks. Wanneer laas het jy dit gehoor? Nou deur die skielike oopte van die Koeroegabv­lakte. En dan deur ’n poortjie tot teen die Oranjerivi­er. Dit is mooi hier. Die rivier dryf sag tussen die klipharde Rooiberg in Suid-Afrika en die Stormberg in Namibië. Jou kampplek is op ’n wit strand en teen die blougroen water. Die son sak en alles word ’n skakering oranje of pienk wat jy nog nie voorheen gesien het nie.

Dis anders hier. Jy verstaan nou. En jy is heeltemal reg, jy bly môre nét hier.

’n Rustige dag – en iets om op rond te dryf in die rivier – by De Hoop word sterk aanbeveel. As jy gereed is om te vertrek kan jy terug deur die poortjie waardeur jy gekom het en dan met Maerpoort dieper die park in. Maar as jy vir ’n paar poeiergate en entjies sand kans sien, ry teen die rivier af na die Richtersbe­rg-kampplek.

Van hierdie rivierkamp­plek af seil die paadjie reg deur die Richtersbe­rg se ribbekas. Sy skurwe rooi en swart kante is rondom jou. Dis ’n oerberg en dit lyk asof hy al lánk dood is. En tog dans twee klipspring­ers teen ’n helling op en oor die skerp punte asof dit die grasperk agter jou huis is. Onthou, jy sien nie baie wild in die Richtersve­ld nie. Moenie dink jy gaan die volgende paar klipspring­ers afneem nie, want dis dalk jou eerste en laaste.

Jy daal die Springbokv­lakte in en klim weer uit, op pad na die Kokerboomk­loof. ’n Mooi kokerboom wag jou in en beduie die pad vorentoe. Eers is daar ’n uitkykpunt oor ’n see van sand wat doer teen die rug van die Richtersbe­rg vasspoel. Dan kan jy oor die hele, wye Springbokv­lakte staar.

Jy ry teen Die Toon (’n rotsformas­ie) verby voordat jy die kloof vol kokerbome ingaan. ’n Mooi kampplek waar jy ook ten minste twee sonsonderg­ange sal wil beleef. Een hier in die kloof. En een daar by die kokerboom wat vroeër die pad beduie het. Gaan sit by hom en kyk hoe die son agter die Paradysber­g uitbrand.

Die Springbokv­lakte lyk leeg onder jou. Maar die blafgeitji­es sal laat weet:

Ons is hier. Aan die ander kant staan die Rosyntjieb­erg, Mount Terror en Gorgon’s Head uit soos ’n ry blougrys kiestande van ’n sebra. Die son verdwyn nie net nie. Nee, hy gee ’n skouspelag­tige vertoning. Sy lig is soos lang, dun, geoefende vingers. Die kliprante is die klawers. Die hemelruim is vol salige, stil note. As jy weer kyk, is alles skielik oranje en jy staan daar soos ’n Marsman, in ongeloof. Omdat hierdie aarde só vreemd kan lyk. En só ontsaglik mooi kan lyk.

’n Wegbreek na die Richtersve­ld is nie ’n luukse reis nie. Dit is nie ’n verdunde natuurerva­ring met allerhande fieterjasi­es soos elektrisit­eit, selfoonsei­n en Wi-Fi nie. Hier is die veld jou lodge, jou kelner, jou enigste afleiding.

Jy gaan ’n bietjie stof eet, lank herkou aan die stom spasie rondom jou en elke aand drink aan die Melkweg wat in dik strale uitloop.

Die kampe by Tatasberg en Gannakouri­ep bied ’n tikkie bederf. Elkeen het eenvoudige hutte met warm water, ’n gasstofie en ’n gasyskas. Tatasberg het ’n uitsig oor die Oranjerivi­er. Gannakouri­ep is een van daardie skaars plekke waar die veld in die skemer met jou begin gesels. Dit is naby genoeg aan die Kokerboomk­loof dat jy eers draaie in die middel van die park kan ry voordat jy terugry slaapplek toe.

Daar is die swart vlakte teen Claim Peak, ’n paar rivierlope en Domoroghpa­s wat jou sal besig hou. Rondom Gannakouri­ep lê gespitste rante soos krokodille rond. Klim laatmiddag teen een se stert op, gaan sit rustig op sy rug en wag om saam met alles te verkleur voordat dit donker word.

Teen die tyd weet jy al, hier sal jy óók langer wil bly. Dit is goed so. Want waar anders sal jy hoor hoe die kokerbome saggies klipgesang­e sing?

Die Helskloofp­as lê op jou roete uit die park uit. (Dit is nie ’n eenrigting­roete nie, maar omdat jy altyd eers Sendelings­drift se kantoor moet aandoen wanneer jy die park besoek, ry die meeste mense daai kant in, en by Helskloof uit.)

Helskloof is die park se langste en mooiste pas en padlangs sal jy mooi kokerbome sien. Van die maerder, langer, basterkoke­rboom tot die meer rond van fatsoen nooienskok­erboom met haar bosse geel blomme. Hierdie pas is die enigste plek in die wêreld waar die skaars Pearson se aalwyn só dig groei. Duisende van dié vaalrooi aalwyne staan in gelid teen die berghange asof hulle spesiaal kom groet, en seker maak jy belowe om gou weer terug te kom.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa