Callum Evans
Die biodiversiteit en verskillende landskappe van die Kaapse Skiereiland is verstommend. Dis hoekom die Tafelberg- nasionale park my gunsteling-plek is. Ek het al teen Skeleton-ravyn uitgeklouter op soek na orgideë, en die Kaap van Goeie Hoop-staproete aangepak waar dit amper voel asof Kaapstad nie bestaan nie. Ek was al gelukkig genoeg om die bedreigde Tafelberg-spookpadda af te neem, en het elders in die park besonderse ervarings gehad met bergkwaggas, klipspringers, bobbejane en selfs otters.
En dis net die land-deel van die park... Rondom die skiereiland is onderwaterplekke wat ook beskerm word deur die park. Die kelpwoude bied hope om te sien. Ek het al by Duikereiland, Windmill Beach, Miller’s Point en Castle Rock gaan duik en onder meer streepkathaaie, kortstert-pylsterte, gespikkelde sloothaaie, pelsrobbe en seekatte gesien.
Die Weskus- nasionale park het altyd een of ander verrassing – dis waar ek die eerste keer ’n rooikat gesien het! In die lente is die Postberg-deel se blomme byna oorweldigend, en die voëlskuilings bied altyd resultate – jy sien dalk groot swerms flaminke of bontelsies.
Die Tuinroete- nasionale park se verskillende dele het elkeen sy sterkpunt. Ek hou daarvan om te gaan stap en skaars voëls te soek by Wildernis en Nature’s Valley – jy sien dalk ’n witkoljanfrederik, kaneelduifie of die immer ontwykende bosloerie. Om op enige van die strande te staan en die soms enorme skole dolfyne te sien speel in die branders is altyd ’n groot oomblik.
Die provinsie se kleiner reservate staan egter geensins terug vir die nasionale parke nie. Die Stony Point-natuurreservaat in Bettysbaai se broeikolonie pikkewyne maak dit ’n gewilde plek, en die nabygeleë Kogelberg-natuurreservaat is een van my gunstelingplekke om te gaan stap, vernaam langs die Palmietrivier.
Die Grootvadersbosch-natuurreservaat (tussen Swellendam en Riversdal) het lekker kampplek, en ek hou van die staproetes wat jou klooflangs die woude inlei.
Die Sederberg-wildernis voel soos ’n plek waar jy kan gaan stap en dan net kan aanhou en aanhou totdat jy een is met die berge. Ek was al by die Wolfberg-rotsboog, en het al staan en kyk hoe witkruisarende hoog bo die kranse sweef. Dis ook in die Sederberg waar ek die eerste keer luiperdspore gesien het. Dit herinner jou aan die feit dat die Wes-Kaap ook nog ’n wilde plek is!