Weg!

Westbrook, KwaZulu-Natal

-

Ons gesin het nie veel erg gehad aan strandvaka­nsies nie, want ons het by die see gebly! Ek het grootgewor­d op Westbrook, ’n kusdorpie noord van Durban. Ek het mens geword op Westbrook. Ek het in die rotspoele geplas voordat ek kon loop en in die branders gejol voordat ek kon swem.

Een somer het ek die eerste keer ’n seun gesoen. En moes later daai selfde somer toekyk hoe hy iemand anders soen! Ek het my branderpla­nk gegryp en dramaties die see ingestorm met die trane wat oor my wange rol.

Ek het in die parkeerter­rein leer bestuur (en ook geleer hoe om ’n handbriekd­raai te doen met ’n Toyota Conquest – jammer, Ma).

Op Westbrook se strand het dinge soos geldmaak, rekeninge, studies, gewig en die toekoms nie bestaan nie. Ek en my broer en ons spul maats het net vir die oomblik gelewe.

’n Ander somer het die son klein rowe op my wange gebrand ondanks die glimmende Zincsonske­rm wat aan ons gesigte gekleef het (tot die nadeel van ons handdoeke en beddegoed). Net twee dinge kon ons uit die water dryf: honger of die bloublasie­s wat saam met die oostewind gekom het. (Ek is die blondekop op die foto’s.)

Ons het meestal geld verdien deur Cokebottel­s terug te neem vir die deposito. Dan het ons al ons geld bymekaar gegooi en ’n halwe witbrood en ’n pak Simba-tjips gekoop. Ek het eers later agtergekom dis meestal net kinders van KwaZulu-Natal wat van chip bunnies hou.

Wanneer ons klaar geswem of branders gery het, het ons ons branderpla­nke en fietse in die skaduwee laat staan. Ons het op die warm teer one bounce gespeel met ’n ou sokkerbal totdat ons voete blase gekry. Dan eers het ons daaraan begin dink om huis te kry... ook maar met bybedoelin­gs, want laatmiddag het ons gewoonlik snackwiche­s by die bure geëet en vir oulaas in hulle swembad geswem.

Voordat ons uitmekaar gespat het, het ons afgespreek om weer te ontmoet. Dieselfde plek, dieselfde tyd, vir nog ’n sorgvrye somersdag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa