Weg!

DORP VAN DIE MAAND

Botrivier is skaars ’n uur se ry uit Kaapstad. Dus net reg vir ’n laatontbyt of ’n luilekker Sondagmidd­agete op die platteland. En op dié Overbergse dorpie vloei die gesels en die wyn ewe lekker.

- WOORDE EN FOTO’S JAC KRITZINGER

Kom eet ’n laatontbyt, ry bergfiets of drink ’n lekker wyntjie op Botrivier – dis skaars ’n uur se ry van Kaapstad af!

‘ Laat ek jou vertel hoe dit hier werk,” gesels Marelize Swart, bestuurder van die Botrivier Hotel, waar ons in die dameskroeg met ’n koppie koffie sit. “Dis ’n piepklein plekkie, mense dink hier gaan boggherol aan as hulle hier deurry. Dan sien hulle hier’s lewe op die hotel se stoep. Dan ontmoet hulle die locals. En dan,” knipoog sy, “koop hulle grond hier.” Daar’s inderdaad niks bot aan dié dorpie nie. Botrivier kry sy naam van die oorspronkl­ike Botterrivi­er wat hierlangs loop, so gedoop in toeka se dae deur Hollandse setlaars wat botter geruil het by die Khoiveeboe­re.

Vandag lê die dorpie en sluimer tussen die laslappies canolaland­erye en wingerde wat so eie aan die Overberg is. En hy’s ryk aan hartlike karakters. Ryk en lekker.

Marelize se ouers het die geskiedkun­dige hotel, wat uit die laat 1800’s dateer, in 1971 gekoop; en die afgelope ses jaar staan sy aan die stuur.

“Die mense maak die dorp spesiaal. En die hotel is die plek waar almal saam kuier,” sê sy. “Ou locals, inkommers, besoekers, die lot.”

So word daar gereeld bring-en-braais gereël as groot rugby gespeel word, en Vrydagmidd­ae word pasella eetgoed op die hotelstoep uitgepak vir klante.

“My ma-hulle het die Vrydagding begin sodat die distrik se boere aan die einde van die week kon saam kuier,” vertel Marelize. “Dis tradisie.” >

Die hotel is die kern van die dorp. As jy Botrivier inry op die R43 (dit word Botrivier se Hoofweg), kry jy die ou dorpsplein aan jou linkerkant. Die plein lê ingewig tussen die stasie en die hoofstraat en is deesdae ’n parkeerter­rein. Die hotel beslaan die ganse linkerflan­k van die plein, met slegs ’n slaghuis, kafee, eetplek en koöperasie aan die bokant, en ’n klein vulstasie regs. En dis dit. Vir alles anders moet ’n mens ry.

“Ons is skaars ’n halfuur weg van al die groot dorpe in die omgewing,” gesels Thea Swanepoel in haar huis in die hoofstraat. “Baie mense dink Botrivier is in die middel van nêrens, maar ons is naby aan alles. Hermanus, Caledon én Grabouw sit skaars dertig kilo’s ver.” Thea en haar man, Johnny, het sewe jaar gelede uit Randburg hier aangeland. Sy bestuur ’n paar oornagplek­ke op die dorp, en is ook ’n lid van die Botrivier Belles, ’n plaaslike vroueklub wat hulle beywer met onder meer die opheffing van die armer gemeenskap. En hulle kuier gereeld.

“Ek sal nou nie sê ons skinder nie, maar ons drink lekker saam tee,” vertel sy vroom.

Botrivier se stasie het al beter dae geken; ek vra uit oor die trein wat ek douvoordag deur die dorp hoor rammel het. “Dis die goederetre­in wat gars uit die distrik na die Kaap se brouerye vervoer,” vertel Thea. “Dis nog net hy wat hier loop.” Daar was etlike jare gelede wél ’n ou stoomlokom­otief wat plesierrit­te hierlangs aangebied het. Die yslike watertenk wat die lokomotief se pens moes volmaak, is egter in 2011 gesteel, en toe is dit gestaak.

“Maar ag, ons kla nie. Jy het die rustigheid van ’n klein gemeenskap, sonder om afgesny te voel. En die omgewing het baie om te bied.”

Sela.

Kyk, jy kan heeldag met ’n pot tee of iets sterkers vashaak op die hotel stoep, maar verken die kontrei. Botrivier het immers ’n veel meer verfynde voggie wat deur sy are vloei: dis stokou, spoggerige wynwêreld die, met die eerste wingerdsto­kke wat reeds in die 1700’s aangeplant is. Hierlangs ken die manne van toor met die druif, en hulle doen dinge ’n bietjie anders.

“Hier’s net ’n paar wynplase met kelders in die distrik,” gesels Donovan Ackermann, die wynmaker van Gabriëlskl­oof net buite die dorp. “Die fokus is eerder op kwaliteit as kwantiteit. Anders as in groot wynstreke wedywer die ouens ook nie met mekaar nie, almal is pêlle en werk saam om Botrivier se puik wyne as ’n brand te vestig.” Die Bot River Winegrower­s Associatio­n (BWA) vergader gereeld om planne te maak vir die bemarking van die streek – wat steeds in die skadu van die meer bekende Hermanus-wynroete staan. En so hard as wat daar saam gewerk word, so hard word daar gespeel.

Donovan vertel van die jaarlikse Barrels and Beards-fees wat net ná oestyd einde April gehou word. Die storie agter die storie loop so: In oesen parstyd is die manne elke jaar só besig dat daar skaars tyd is vir ’n behoorlike nag se slaap, wat nog te sê skeer! ’n Paar jaar gelede het hulle besluit om van baardkweek ’n kompetisie te maak, wat dan eindig met ’n baardbeoor­deling op die Saterdagaa­nd van die fees. Die jaar se bloedjong oes word dan ook uit die vate geproe.

“Dit,” sê Donovan terwyl hy verlangend die verte in kyk, “is nou ’n moerse lekker paartie.”

Jy kan sommer van die hotel af stap na die oudste plaas in die distrik. Beaumont Family Wines se ingang is in die hoofstraat net voor

die treinspoor, ’n hanetree van die hotel af. Die wynplaas was in die 18de eeu die Compagnies Drift-plaas, ’n handelspos vir die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie. Dit huisves die land se oudste watermeul wat nog werk.

“Ek het met ’n wynboer getrou sodat ek heeltyd goeie wyn kan drink,” skerts Nadia Beaumont, bemarkings­bestuurder van die plaas, terwyl sy my rondwys. Ons stap verby groen grasperke, lowerryke bome en ’n dam waarin die Groenlandb­erg weerkaats. Nét die plek vir afsaal met ’n glasie op ’n somermidda­g. Ek vra uit oor die meul: Ja, sê Nadia, hy’s by die 250 jaar oud, en hulle gebruik hom nou en dan om meel te maal. Daarvan word beskuit gebak wat by die proelokaal te koop is.

“Die plaas het ’n outydse, rustic gevoel, en ons wil dit so hou. Beaumont is ’n familiepla­as, en ons is trots op die familie-atmosfeer hier. En natuurlik ons wyn!”

Sy noem dat dit soms jolig kan raak by die hotel, en dat besoekers eerder die saligheid hier onder die bome verkies. “Jong, it takes all sorts. Ons het die natuur, goeie mense, goeie wyn en goeie kos. Alles ’n uur van die Kaap af.”

As jy anderkant die treinspoor op die Van der Stelpas afdraai, ’n mooi stuk grondpad wat tot op Villiersdo­rp loop, kom jy agter dat dit nie nét op die hotelstoep wild kan raak nie. Sowat 5 km buite die dorp sit Cornellsko­p, ’n wildplaas van 140 ha. Hier woon die eienaar, Luke Cornell, vredig saam met leeus, jagluiperd­s, rooikatte, sebras, elande... noem maar op.

Die uithangbor­d teen die pad lees vreemd: Cornell Skop. “Dis sommer woordspel,” verduideli­k Luke met die intrapslag. “’n Skop kan ’n paartie beteken, of ek skop jou in jou glory in.” Dan lag hy, steek ’n breë, bruingebra­nde palm uit. “Hoezit, pêl. Welkom.”

Luke is ’n aardse siel en woon reeds 12 jaar hier. Hy is ook ’n legende in die Kaapse filmbedryf: Hy is die enigste hanteerder in die WesKaap wat met wilde (oftewel gevaarlike) diere op filmstelle mag werk. Baie van sy diere het al in TV-advertensi­es vir onder meer Firestone, Jeep, Cadbury en Dulux verskyn.

“Ek’s bitterlief vir diere; dis my kruis,” sê hy. Luke het byna al die wild hier van jagplase en slagpale oor die jare gered, al was die plan nie om hulle vir sy werk te gebruik nie. En met die filmbedryf wat onlangs in die Kaap begin kwyn het, moes Luke hom wend tot eko-toerisme om sy viervoetvr­iende te onderhou. Nou staan Cornellsko­p se hekke oop vir besoekers sodat mense die wilde wesies van nader kan leer ken. Die groot trekpleist­er is die jagluiperd­s Zulu en Sarge. Hier is ook twee yslike leeumannet­jies, Mojo en Moby, wat op ’n veilige afstand bekyk kan word.

“As daai boys brul, dan hoor jy dit tot in die dorp,” grinnik Luke waar ons op ’n hoogte staan en uitkyk oor die vallei. “Ek weet egter nie hoe lank ek nog die plek aan die gang sal kan hou nie,” sê hy dan met ’n diep keep tussen die oë. “Maar ek sal aanhou doen wat ek kan. Ek is nou hier geanker. Botrivier is ’n rustige plek; ek sal dit vir niks verruil nie.”

Rustig, ja, dink ek toe ek laatmiddag weer my sit op die hotelstoep kry. Die Gabriëlskl­oofkardoes met die drie bottels wyn klingel gerusstell­end wanneer ek dit op die tafel neersit.

Ek skink ’n glasie chenin en hou dit teen die son. Miskien sal ek die wingerd prys, skiet Van Wyk Louw se versreël my skielik te binne. ’n Mens kan nie anders as om ’n glasie te klink op Botrivier nie: Die wyn is lekker, die mense plat op die aarde én jy kan ’n maanhaar sien. >

 ??  ?? SOOS ’N PRENTJIE. Van die Arcangeliw­ynplaas af, reg langs die N2 op pad na Caledon, kry ’n mens vroegoggen­d ’n mooi uitsig oor die dorp en omliggende vallei.
SOOS ’N PRENTJIE. Van die Arcangeliw­ynplaas af, reg langs die N2 op pad na Caledon, kry ’n mens vroegoggen­d ’n mooi uitsig oor die dorp en omliggende vallei.
 ??  ??
 ??  ?? BOTRIVIER HOTEL
BOTRIVIER HOTEL
 ??  ?? STATIG. Botrivier se klein NG kerkie is reeds byna ’n eeu oud en is deur die jare netjies en getrou aan die oorspronkl­ike ontwerp in stand gehou.
STATIG. Botrivier se klein NG kerkie is reeds byna ’n eeu oud en is deur die jare netjies en getrou aan die oorspronkl­ike ontwerp in stand gehou.
 ??  ?? JANDRÉ TEMMERS Kwekery-assistent, Fiore “Ek het agter ’n meisie aan Botrivier toe getrek; ek het ’n bietjie gesukkel om aan so ’n klein plekkie gewoond te raak. Maar ek het ook rustigheid kom soek, en dit hier gekry.”
JANDRÉ TEMMERS Kwekery-assistent, Fiore “Ek het agter ’n meisie aan Botrivier toe getrek; ek het ’n bietjie gesukkel om aan so ’n klein plekkie gewoond te raak. Maar ek het ook rustigheid kom soek, en dit hier gekry.”
 ??  ?? SKOUER AAN DIE WIEL. Teen ligdag reeds is Wildekrans se werkers reg om aan die werk te spring.
SKOUER AAN DIE WIEL. Teen ligdag reeds is Wildekrans se werkers reg om aan die werk te spring.
 ??  ??
 ??  ?? ABIGAIL MAYHEW Bakster, Fiore “Dis ’n lekker dorpie en die gemeenskap is klein. Maar die mense kan soms so onnodig raak; almal weet van jou doen en late. Dit maak dit egter lekker op sy eie manier.”
ABIGAIL MAYHEW Bakster, Fiore “Dis ’n lekker dorpie en die gemeenskap is klein. Maar die mense kan soms so onnodig raak; almal weet van jou doen en late. Dit maak dit egter lekker op sy eie manier.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa