ONTMOET DIE SKRYWER
Hoe lank woon jy al in Johannesburg? My hele lewe lank (45 jaar). My ouerhuis in Kensington, wat uit die 1920’s dateer, het destyds my belangstelling in ou geboue geprikkel. Ek word steeds opgewonde oor oregondenvloere en staalplafonne! Ek was ’n jaar lank by Jeppe Boysskool en het later gewoon in ’n woonstelblok wat Gordon Leith ontwerp het, sowel as verskeie Art Deco- en Modernistiese geboue in Hillbrow, Berea en Orange Grove in die laat jare tagtig en vroeë negentig. Ek onthou die ou bioskope en die tremspore van my jeug.
Wat het jou in argieffoto’s laat belang stel? Nadat ek die bouplanne van ons huidige huis in Melville (c. 1912) gesien het vóór opknappingswerk, het ek begin soek vir ’n foto van hoe die huis eens gelyk het. Elke opknapping was in ’n verskillende argitektuurfase; dus is dit ’n mengelmoes van style met slegs enkele van die oorspronklike detail wat behoue gebly het.
Ek het nog nie daardie foto gevind nie, maar ek het die fassinerende geskiedenis van Johannesburg begin navors, wat veel interessanter is.
Hoe het jy die argieffoto’s in die boek bekom? Ek besoek al die afgelope paar jaar argiewe vir my blog se navorsing; dus het ek ’n redelike idee gehad van wat daar is. Ek het by drie bronne gehou: Wits se argitektuurbiblioteek, die Transnet-argief en Museum Africa. Ek het in my vrye tyd deur ou fotoversamelings gegaan en bruikbare foto’s geskandeer – dit het min of meer ’n jaar gevat. Daar was uiteindelik sowat 500 foto’s om van te kies.
Yeshiel Panchia het die meeste “Nou”-foto’s geneem. Hoe het julle begin saamwerk? Ons was kollegas by Warner Music. Hy het sowat twee jaar gelede by The Citizen as fotojoernalis begin werk. Die uitgewer was nie tevrede met my foto’s nie. Ek het hom genader en hy wou dadelik help. Hy het ’n paar toetsfoto’s geneem en die uitgewer was baie beïndruk. Al die “Nou”-foto’s is geneem tussen November 2017 en April 2018, meestal oor naweke en op openbare vakansiedae.
Wat is vir jou die ooglopendste verskil tussen die ou en nuwe Johannesburg? In die stadskern het die aantal hoë geboue die landskap verander. Daar was verskeie fantastiese argieffoto’s wat ons nie kon gebruik nie, omdat niks daarvan meer bestaan nie, of omdat die uitsig heeltemal versper is. In die voorstede versper die uitgegroeide bome en hoë mure weer baie ou huise en geboue. Ons hou baie van ons mensgemaakte woud in die stad, maar dit maak vergelykende foto’s moeilik. Ons het dit oorkom deur soms ’n hommeltuig te gebruik – met die eienaars se toestemming.
Wat is vir jou drie van die interessantste foto’s in die boek? Die Stuttafordsgebou, want dit wys die progressie. Dit was wonderlik om hierdie verskillende foto’s te vind wat byna presies van dieselfde hoek af geneem is.
Ek geniet ook die Parktown-uitsig met Dolobran, want dit wys die groei van Hillbrow in die agtergrond. En hoewel die foto van die Koningin Elizabeth-brug relatief laat geneem is (in die vroeë 1950’s), dui dit steeds op die geweldige ontwikkeling van die afgelope 70 jaar. Die meeste mense besef nie Braamfontein was destyds ’n gewone woonbuurt vol ou huise wat later deur kantoorgeboue vervang sou word nie.
Wie dink jy sal hierdie boek geniet? Enigeen wat in Johannesburg woon of al daar gewoon het. Dit wys interessante aspekte van die stad wat ’n mens dikwels nie raaksien nie. Danksy Instagram en die toename in foto’s op slimfone stel mense meer belang in hulle omgewing. En daar is soveel te leer oor Johannesburg se geskiedenis. Hierdie boek probeer die konteks gee hiervoor. Wat beskou jy as drie moetsienbestemmings in die stad? Die boonste verdieping van die Carltonsentrum (50ste verdieping). Dit kos slegs R15 en gee jou ’n 360 grade-uitsig oor die stad en die omliggende voorstede.
Die Ou Fort/Constitution Hill: Hier’s geboue voor 1900, hope geskiedenis en vele goeie uitsigte oor Hillbrow en Parktown. En dan Kitchener’s, op die hoek van Juta- en De Beerstraat – tans die oudste kroeg in Johannesburg en die laaste hotelgebou voor 1900 in Braamfontein.
Hoe dink jy sal ’n Johannesburg Then and Now oor ’n honderd jaar lyk? Ek hoop dit lyk baie dieselfde soos hierdie een, behalwe dat dit wat oud is, mooi gerestoureer sal wees en die nuwe (waar van toepassing) vervang sal wees met moderne en bruikbare weergawes. Dit sal beteken dat dít wat nou reeds oud is, bewaar bly vir toekomstige geslagte.
Wat is jou huidige werkprojekte? Ek skryf voortdurend bydraes vir my blog ( johannes burg1912.wordpress.com) en werk ook aan die geskiedenis van Johannesburg se nagklubs van die 1940’s-1990’s – dit gaan ’n versameling van foto’s, voubiljette en plakkate van nagklubs sowel as herinneringe van betrokkenes (klubeienaars, DJ’s, musiekgroepe, kunstenaars, ensovoorts) wees.
Ek is ook al ’n paar jaar besig met ’n fiktiewe storie wat in 2012 in Johannesburg afspeel. Die eerste weergawe is klaar en ek herskryf dit nou.
– Erns Grundling
Johannesburg Then and Now word uitgegee deur Struik Travel & Heritage en kos R350 in boekwinkels.
• Kyk na dié maand se “Toeka se dae”-afdeling op bl. 139 vir ’n voorbeeld van die foto’s in Marc se boek.
Johannesburg Then and Now is ’n fotografieboek wat met die kombinasie van skaars argieffoto’s en eietydse foto’s wys hoe dié wêreldstad radikaal uitgebrei en verander het sedert die destydse goudstormloop. Die skrywer, Marc Latilla, werk in die musiekbedryf
en is ook die stigter van die blog Johannesburg 1912, wat op die stad se geskiedenis fokus. Hy vertel ons meer.