Weg!

DAG 7

-

Maak rustig ontbyt by jou tent voordat jy weer agter die stuur inskuif. Savuti is een van daai plekke waar jy die hele park kan platry om diere te sien óf op een plek stil kan sit en wag dat hulle na jou toe kom. As jy nog nie moeg gery is nie, kan jy die Olifantsne­lweg al die pad deur die Savutimoer­as vat verby die Xgana-pan na die Jakkals-eilande en terug of jy kan by die Sexaxamba-pan jou kar parkeer en wag. Daar is ’n piekniekpl­ek onder ’n groot kremetart naby die pan waar jy kan bene rek en ’n toebroodji­e eet as die wag te lank raak.

Ry ook in die Savutikana­al af, maar maak gereed om ’n ruk te wag as ’n trop olifante die pad vol staan.

Wees op die uitkyk vir luiperds rondom die heuwels soos Twin Hills, Sable Hills en Gobatsaa Hill (ook bekend as Leopard Rock), en gaan loer wie kom drink by die Kwandopan naby die Twin Hills, die Pitsi-panne net suid van Gobatsaa Hill en die Rhinovlei-watergat.

Vir ietsie anders, stop by die bord aan die oostekant van die Bushman Painting Hill (S18.59384 E24.07943) waar jy kan uitklim en teen die heuwel uitklouter om na rotstekeni­nge te kyk. Die heuwel is sowat 4 km suid van die ruskamp. Savuti is soos geen ander plek in Botswana nie. Jy gaan meer diere sien naby die Choberivie­r, maar hier voel dit wílder.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa