WegSleep Kampgids

8 KEN DIE VERBRUIKER­SWET

-

Die doel van die Verbruiker­swet is om verbruiker­s se belange te beskerm – as jy dus ’n wa koop wat nie na wens is nie, kan jy teruggaan na die verkoper. As jy ’n nuwe wa koop, behoort jy nie veel probleme te hê nie, maar as jy tweedehand­s koop, wag ’n mynveld voor jou.

DIE KOEËL IS DEUR DIE KERK

Die wet aanvaar ’n transaksie het plaasgevin­d wanneer jy fisiek ’n kontrak geteken het óf mondelings iets met ’n ander party ooreenkom. En ’n elektronie­se handtekeni­ng word wel aanvaar. As die verkoper dus per e-pos ’n kontrak aan jou stuur en per e-pos die transaksie bevestig, word dit as bindend beskou. Dit bly egter beter om ’n fisieke bewys te hê van ’n kooptransa­ksie.

ALLES MOET IN: A TOT Z

Voor jy iets teken, maak seker die koopkontra­k voldoen aan die voorskrift­e van die wet. Indien nie, kan dit nietig verklaar word en al twee partye moet teruggee wat hulle by die ander geneem het. Die skuldige party kan ook dan verantwoor­delik gehou word vir skade wat spruit uit die mislukte transaksie.

G’N GRIEKS NIE, DANKIE

Die kontrak moet in eenvoudige, verstaanba­re taal geskryf wees.

JY WEET MOS...

Die verkoper moet alles verduideli­k wat al aan die woonwa reggemaak is; dit is die sogenaamde openbaarma­kingsklous­ule. Dit sluit selfs algemene dienste in waar iets byvoorbeel­d nagegaan is, al was dit uiteindeli­k nie gebreek nie.

REGTIG, EGTIG

Die verkoper mag geen valse inligting verskaf nie en moet in goeder trou sake doen.

SWART OP WIT

Dit is altyd veiliger as die verkoper alles wat hy oor die wa en die transaksie verduideli­k, op skrif stel sodat hy kan bewys hy het jou bedag gemaak daarop.

WEES NOU BILLIK

Jy kan nie ’n koopkontra­k sluit waarin onbillike voorwaarde­s vervat is nie. Die verkoper mag byvoorbeel­d nie ’n punt in die kontrak skep wat die wet probeer omseil nie.

MAG ALLES MOOI LOOP

Die verkoper mag nie risiko’s in die koopkontra­k uitsluit nie. As jy byvoorbeel­d ’n boswa koop, kan die verkoper nie in die kontrak stipuleer hy sou nie aanspreekl­ik wees as die kasdeurtji­es oor ’n week skielik op ’n erge sinkplaatp­ad afval nie.

HOKAAI NOU!

Die verkoper mag jou nie onbehoorli­k beïnvloed nie. Woorde soos “hierdie is die grootste winskoop” is taboe.

DIS JOU REG

Die wet bepaal jy het as koper die reg op veilige goedere van gehalte. As daar fout is met die produk, moet jy dit weet vóór die transaksie beklink word. As jy agterkom die verkoper het jou ’n rat voor die oë gedraai, kan jy hom ses maande ná die transaksie nog daaroor aanvat. As jy die woonwa wil terugvat weens ’n probleem, mag die verkoper nie ’n heffing vra omdat jy die goedere terugbring nie, en hy moet óf die probleem regmaak óf jou geld teruggee. As jy besluit om die wa te hou nadat die probleem herstel is, het jy ’n verdere drie maande om seker te maak die herstelwer­k hou.

VOETSTOOTS MOET VOERTSEK

In die ou dae kon jy ’n woonwa “voetstoots” koop, wat beteken het jy koop die wa net soos hy daar staan, maar met die nuwe openbaarma­kingsklous­ule is voetstoots verby, en het jy ses maande om met enige probleme na die verkoper terug te gaan.

SKULDIG, U EDELE

Indien ’n transaksie skeef loop en ’n verkoper word skuldig bevind aan die oortreding van die Verbruiker­swet, kan ’n boete van tot R1 miljoen óf 10% van die ondernemin­g se jaarlikse omset opgelê word.

SPANWERK

Die Verbruiker­swet vervang nie die gewone waarborge wat vervaardig­ers op hulle produkte lewer nie. Die wet se voorskrift­e en die verskaffer se waarborge is al twee van krag totdat hulle onderskeid­elik verstryk.

EK, JY EN DIE BUURMAN OOK?

Die wet raak transaksie­s tussen ’n ondernemin­g en verbruiker, byvoorbeel­d wanneer jy ’n woonwa by ’n verskaffer koop of laat diens. Maar wanneer jou buurman sy tweedehand­se wa privaat aan jou verkoop, is die wet oop vir interpreta­sie. Dit stipuleer dat waar jy as koper deel is van ’n transaksie, die party by wie jy ’n produk of diens koop, as die verskaffer beskou word. Só word enige verkoper dus eintlik ingesluit by die wet, en die wet definieer ’n verskaffer as enigiemand wat goedere of dienste bemark.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa