WegSleep Kampgids

5 TYD VIR NUWE BANDE

-

Die gesegde sê twee dinge is onvermydel­ik: die dood en jou pond vleis vir Jan Taks. Tog is daar nog ’n paar dinge wat in dié kategorie val.

Dis onvermydel­ik dat jy een of ander tyd saam met jou suinige swaer met die duur smaak gaan uiteet en dan stel hy aan die einde van die aand voor julle moet die rekening 50-50 deel – selfs al het jy vis-en-tjips geëet terwyl hy weggelê het aan eksotiese ingevoerde sampioene wat in die Pous se trane gemarineer is. Dis ook onvermydel­ik dat ’n borgvormpi­e van die skool by jou huis gaan opdaag wat vra dat jy R1 per woord borg vir een of ander lees-olimpiade waaraan jou kind moet deelneem.

Dit is nét so onvermydel­ik dat jy een of ander tyd jou woonwa se bande gaan moet vervang. Dit is nooit lekker nie, en dit voel altyd of dit te veel geld kos. En hoewel ons verstaan dat jy gaan rondsoek vir die beste waarde vir geld, is dit nie altyd ’n goeie plan om Eerlike Eddie se winskoopba­nde van die week op jou wa te sit nie. Daar is ’n klomp dinge wat jy in ag moet neem.

KYK NA DIE VERVAARDIG­ER

’n Goeie vertrekpun­t is om te kyk hoe vervaardig­ers besluit op die bande waarmee hulle waens uit die fabriek kom. Clive Cox, Jurgens Ci se ontwikkeli­ngsbestuur­der, sê die eerste ding wat hulle in ag neem, is die grootte van die wielvellin­g.

“Dit kan wissel tussen 13-, 14- of 15 duim, maar dis meer ’n estetiese ding as enigiets anders,” sê Clive. “Om die waarheid te sê beweeg ons weg van 13 duim-vellings omdat dit deesdae moeilik is om hulle in die hande te kry. Die meeste van ons woonwaens is op die oomblik op 14 duim- en ons boswaens op 15 duim-vellings.”

As die grootte van die velling vasgestel is, sê Clive, kyk hulle na die band self. “Een van die allerbelan­grikste faktore wat ons in ag neem, is of die band die wa se vrag kan dra. En daarvoor kyk ons na die wa se bruto voertuigma­ssa (BVM). Vir dié doeleindes gebruik ons die gewig van die swaarste wa in ons onderskeie reekse, soos byvoorbeel­d die Exclusive. Ons vat dan sy BVM en gebruik die vragindeks vir bande wat internasio­naal erken word om die geskikte band te kry. Dit geld dan vir al die waens in ’n betrokke reeks. As jy byvoorbeel­d ’n enkelaswa het met ’n BVM van 2 000 kg, bepaal die wet dat elkeen van die wa se bande ’n gewig van 1 000 kg moet kan dra.”

SPOEDVRAAT

Clive sê die tweede, ewe belangrike, oorweging is die spoedperk van die bande. “In terme van ons wetgewing, waar ons nie toegelaat word om vinniger as 120 km/h te ry nie, het ons dus bande nodig met ’n spoedperk van minstens 120 km/h.

“Die bande wat in Suid-Afrika beskikbaar is, is dus in staat om tot op ’n snelheid van 180 km/h of selfs vinniger te ry – nie dat jy só vinnig moet sleep nie. Maar die rede hoekom daar ’n spoedperk op bande is, hou verband met die samestelli­ng van die rubber waarvan die band gemaak word.

“Wanneer jy ry, bou daar hitte in jou bande op, en hulle word ontwikkel en vervaardig om te verseker dat die rubber in jou band teen daardie betrokke snelheid en hitte bymekaar bly. As jy dus teen 120 km/h ry en jou band het ’n spoedperk van net 80 km/h, kan jy seker wees daardie band gaan vroeër eerder as later bars. Dit is baie belangrik om te let op die spoedperk van die band, want dit kan tot groot probleme lei as ’n mens ’n fout begaan.”

JANNIE BREED

As die dravermoë en spoedperk uitgesorte­er is, besluit Clive hulle oor die breedte van die band. “Ons kyk na 185 mm, 195 mm, 205 mm of wat ook al die geval is. Maar dit is van mindere belang as die vragindeks en spoedperk van die bande,” sê Clive.

Daarna stel hulle vas watter bande wat aan dié spesifikas­ies voldoen, is in die mark beskikbaar. “Vir ons woonwaens gebruik ons kommersiël­e bande. Dit is soortgelyk aan dié wat op minibustax­i’s gebruik word, juis oor daardie bande se dravermoë. Ons sit nie gewone sedanmotor­bande op ons woonwaens nie.

“Ons kyk na wat in die mark beskikbaar is deur die onderskeie verskaffer­s. Om verstaanba­re redes koop ons nie bande in die kleinhande­lmark nie, maar eerder van mense wat dit invoer óf direk van die fabriek af. Ons neem dus beslis ook die prys van die band in ag en probeer vir ons klante besparings bewerkstel­lig.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa