6 KAN JY SLEEP ÉN ‘SIDE-STEP’?
Hoe gemaak as daai koedoe stokstyf staan, ongeag hoe hard jy ankers gooi en toet? Óf jy gaan hom tref óf jy sal moet uitswaai. Ons almal weet seker darem hoe stadiger jy ry, hoe beter kan jy jou sleepkombinasie beheer, maar Francois en Marèt wys met ’n paar slim berekeninge hoe ’n stadiger sleepspoed ’n waarneembare verskil maak wanneer ’n bestuurder skielik sy sleepkombinasie se spoed moet verander en uitswaai.
Vir die doel van die oefening gebruik ons ’n dubbelkajuitbakkie met ’n tarra van 1 900 kg, bagasie van 200 kg, twee insittendes van 100 kg elk, en ’n halfvol brandstoftenk van 40 kg (dus altesame 2 340 kg): In die eerste toets haak ons ’n sleepwaentjie sonder inloopremme en met ’n tarra van 360 kg en bagasie van 390 kg (dus altesame 750 kg).
As dié sleepkombinasie teen 120 km/h op ‘n gelyk pad ry en skielik moet rem, sal dit 5,3 s ( jou reaksietyd is ingereken) neem om oor ‘n afstand van 101 m tot stilstand te kom. Teen 90 km/h sou dit 4,2 s geduur het om oor ‘n aansienlik korter afstand van 62 m tot stilstand te kom.
Nou haak ons aan dieselfde dubbelkajuitbakkie ’n woonwa met ’n tarra van 1 120 kg en 100 kg bagasie binne-in (dus altesame 1 220 kg). In dié geval moet die wa inloopremme hê.
Selfs al is dié kombinasie veel swaarder, maak die inloopremme hulle stem dik. Teen 120 km/h kom die kombinasie binne 4,2 s oor ‘n afstand van 83 m tot stilstand. Teen 90 km/h staan die bakkie en wa na 3,3 s en 52 m doodstil.
’N VINNIGE PYPKANBEWEGING?
Jy dink dalk jy sal in ‘n noodgeval kán rem. Maar wat gebeur wanneer jy boonop skielik vir iets voor jou in die pad moet uitswaai? Hoe maklik kan jou sleepkombinasie dan oor die pad gly – of, erger nog, rol?
“Die stabiliteit van ’n voertuig hang af van verskeie faktore, maar die belangrikste hiervan is die verhouding tussen die breedte van die voertuig se spoorwydte en die hoogte van die voertuig se swaartepunt bo die grond,” sê Francois. “Die swaartepunt is dié punt waar ’n mens kan aanvaar al die gewig van die voertuig gesentreer is. Hierdie punt se posisie hang natuurlik af van die voertuig se ontwerp en ook hoe jy bagasie daarin laai. So byvoorbeeld skuif die swaartepunt van ’n motor met ’n dakrak vol swaar bagasie opwaarts.
“’n Voertuig se Statiese Stabiliteitsfaktor (SSF) is ’n aanduiding van sy weerstand om te rol. Dit word bereken deur die breedte van die spoorwydte deur dubbel die hoogte van die swaartepunt te deel. Hoe groter dié waarde, hoe stabieler die voertuig.
“’n Tipiese sedan het ’n SSF van ongeveer 1,4, terwyl ’n sportnutsvoertuig s’n sowat 1,17 is en ’n bakkie s’n 1,18,” verduidelik hy. “Die SSF dien as ’n riglyn vir ’n voertuig se geneigdheid om om te rol wanneer dit >