WegSleep Kampgids

JY MOET JOU WA PAMPERL5 ANG

-

Een van die groot vrae onder nuwe en selfs ou slepers is hoe jy nou eintlik jou wa bêre as die vakansie verby is.

Om die kampvuur en op internetfo­rums het slepers verskillen­de menings oor hoe jy dit doen. Sommige woonwa-eienaars sê die enigste goeie plek om ’n wa te bêre is onderdak, tussen vier mure en agter toe deure. Party ouens bou ’n geteëlde woonwa-garage by hulle huis. Ander sê ’n skadunetaf­dak is voldoende. Party sê die woonwa se opwipdak móét oop staan terwyl die woonwa nie gebruik word nie, terwyl ander meen dit moet beslis toe wees.

Nog ’n vraag is of die wa maar op sy wiele kan staan en of jy die wiele moet afhaal of lig. Op WegSleep se Facebook-blad wil Louise Oosthuizen weet wat die “allerantwo­ord” dan nou is.

Daar is nie ’n enkele resep of antwoord nie, sê Johannes Knipe van J.K.-woonwaens in Kaapstad. Dit hang af hoeveel jy jou wa sleep en vir hoe lank jy hom bêre. Die klem moet ook nie net val op hoe jy jou wa bêre nie. Hoe jy hom onderhou en oppas, is ewe belangrik. Jy kan maar sê die ABC van woonwasorg is BSD: Bêre, Seël, en Diens.

BÊRE HOM SÓ

Dit is goed om ’n motorhuis of spesiale woonwagara­ge vir jou wa hê, maar dis beslis nie noodsaakli­k nie. Dit kan ’n duur storie wees, en as jy nie die plek of geld daarvoor het nie, kan jy ’n ander plan maak. ’n Skadunet-afdak wat 90% sonlig afweer, is voldoende, sê Johannes, wat al meer as 30 jaar in die woonwahers­telbedryf is.

“My eie Exclusive staan onder ’n afdak van skadunet. Ek hou daarvan, want my wa haal asem onder die net en staan nie en sweet soos met party woonwakomb­erse nie. Met ’n geswetery kan ’n woonwa maklik houtvrot kry. Moenie dat die stof jou pla nie. Gee hom ’n goeie was en hy lyk weer nuut.”

As jy jou wa net vir ’n maand of twee tot jou volgende naweekkamp gaan parkeer, is dit onnodig om sy wiele af te haal of om hom met sy wiele in die lug te laat staan. “Alles hang af van hoe lank jy jou wa gaan bêre,” sê Johannes.

“Daar is ’n verskil tussen parkeer en stoor. As die wa ses maande of langer gaan staan, stoor jy hom met blokke onder die as en met die wiele afgehaal of in die lug. En laat sak maar daardie neuswiel as jou wa lank geparkeer staan – dit haal van die gewig van die voorste hoekstutte af.” >

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa