WegSleep Kampgids

8 SEILSORG

-

’n Tent is soos die getroude lewe: As jy aandag en liefde gee, loop alles klopdissel­boom, maar as jy dit afskeep, is buite slaap jou voorland.

Woonwatent­e word steeds van seil gemaak – dieselfde materiaal as 20 jaar gelede. Maar vandag se seil is nie meer dieselfde as daai jare nie. Hedendaags­e tentseile kan feitlik ’n leeftyd hou, maar dan moet jy mooi na hulle kyk – jou tent se lewensduur hang af van hoe jy dit oppas.

PASOP VIR SEEP

Die seilmateri­aal word in die fabriek geseël, pas nadat dit geweef is. Die materiaal word in ’n bad gedompel met ’n wasagtige seëlmiddel en ’n spesiale middel wat dit teen muf beskerm. Die seëllaag is dus nie net bo-op die materiaal nie, maar word in die weefsel geabsorbee­r.

Gewone seep en huishoudel­ike skoonmaakm­iddels word hoofsaakli­k gemaak om vetterighe­id te verwyder. As jy dus gewone seep gebruik om jou tent te was, loop jy die risiko om die wasagtige seëlmiddel te vernietig – wat jou tent kan laat lek. Die materiaal as sulks kry nie noodwendig skade van ’n goeie skrop met seep nie, maar die waterdigth­eid is dan daarmee heen.

Probeer eerder om met louwarm water en ’n sagte spons van vlekke op die seil ontslae te raak. As ’n lastige hadida egter

’n draai gemaak het by ’n moerbeiboo­m, gaan water self nie veel help nie – dan moet jy soos volg te werk gaan:

Gebruik ’n koekie groen Sunlightse­ep. Moet onder geen omstandigh­ede skottelgoe­dwasseep of waspoeier probeer nie – dit is te sterk en sal die seil beskadig. Verdun die seep deur dit in louwarm water af te vryf sodat die water melkerig begin word.

Skrop egalig oor ’n groot gedeelte – nié net op een kolletjie nie.

Borsel liggies oor hardnekkig­e vlekke. Onthou, jy sal nie sien of jy die materiaal beskadig terwyl jy skrop nie. Op die oog af lyk alles in die haak en jy sal eers uitvind of die tent nog waterdig is wanneer ’n donderbui laatnag uitsak.

Maak vrede met vlekke as hulle ná die was nog daar is. Jou tent het nou “houding” en ekstra karakter wat wys jy is ’n gesoute kampeerder. Dis óf die vlekke of ’n lekplek.

’N ‘KRAAK’ OP DIE NAAT

Wanneer jou tent begin lek, sal dit waarskynli­k eerste op die nate wees. Wanneer jou tent die eerste keer nat word, swel die gare uit en seël die gaatjies waardeur dit geryg is. Omdat lug meestal effens vogtig is, krimp die gare nie weer veel wanneer die tent droog word nie – tensy jy dit jare lank op ’n kurkdroë plek bêre. As ’n naat wel aanhou lek, kan jy ’n tentseëlla­ar daarop aanwend om dit weer waterdig te kry.

LASLAPPIE

As jy per abuis ’n gaatjie in die tent kry, is dit nie die dood van Katryn nie. Jy kan die stukkende deel lap, amper soos die binneband van ’n fiets. Die meeste tentseile word deesdae op die ripstop-manier geweef en daarom is die kans skraal dat ’n skeur of gaatjie sommer vanself verder sal skeur.

Kry ’n lapseëlste­lletjie by jou naaste kampwinkel sodat jy jou tent maklik kan herstel. Die belangriks­te is om nie die stuk wat jy oor die stukkende plek wil plak, vierkantig te knip nie, maar rond. Plak die gaatjie dan aan weerskante van die seil toe.

As jy nie só ’n herstelste­lletjie het nie, kan jy bloot ’n waterdigte materiaal met gom (soos Genkem se kontakgom) vasplak.

As jy in die boendoes sit en niks anders tot jou beskikking het nie, sal duct tape net so goed werk.

’n Geplakte lasplek is egter net ’n tydelike oplossing. Die beste manier is om ’n stuk lap rondom die skade vas te werk. Moet dit egter nie self probeer op jou vrou se naaimasjie­n nie. Die materiaal is te dik vir ’n gewone masjien en kan hom behoorlik opdons. As jy nie iemand ken met ’n industriël­e masjien nie, vat dit na ’n tentmaker en sorg dat die lap rég vasgewerk word.

PASOP VIR DIE SEELUG

Die seelug is nie net sleg vir jou kar nie – vir jou tent is dit ewe skadelik. Jy kan selfs klein swart kolletjies roet kry wat op die tent neerslaan as jy lank by die see kamp. Boonop loop die tentpale ook deur.

Die buitenste laag van tentpale is vatbaar vir witroes, wat op sy beurt die paal verweer. Selfs die metaalgede­elte van ’n ritssluite­r gaan nie roes vryspring nie. Gebruik ’n dun olie (soos Q20) en ’n lappie en smeer ’n lagie oor die pale om die roes te voorkom. Moenie die pale met olie probeer spuit terwyl die tent opgeslaan staan nie; gebruik ’n lappie en smeer dit aan. Jy kan wel ’n bietjie olie binne-in die pale spuit om die binnekant te beskerm.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa