Hy was sy ma se álles - nou het sy niks
MBOMBELA - “Dis my broodwinner, dis my kind. Hy was my alles gewees; my maat. Ons was meer maats as enigiets anders, ek en hy.”
Só vertel Magda Damster, ’n pensioenaris en inwoner van Lakeview Lodge en Karavaanpark, wat op 1 Oktober haar seun, George, aan die dood moes afstaan.
Sy moet op ’n manier nou sonder hom klaarkom.
Sy sit so ’n paar meter van hulle karavaanwoning naby die ingang van Lakeview met Sokkies, hulle hondjie, aan haar sy.
Dis amper asof Sokkies, ’n kruis tussen ’n Jack Russell en ’n varkhond, George se beskermingsrol oorgeneem het soos sy langs Magda sit terwyl sy haar seun met trane in haar oë onthou.
George (45) was op die R40 in die rigting van Witrivier toe ’n minibus van die Polisie-eenheid vir Familiegeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings in hom vasgery het. Dié voertuig het uit die teenoorgestelde rigting gekom en is bo-oor die middelmannetjie in George se voertuig vas.
“O, die manier hoe hy gegaan het! O nee, dit kan ek nie glo nie. Ek sê net dank die Here my kind het nie gely nie. Die bietjie wat ek verstaan, is hulle sê sy longe en sy hart en brein het gebars. Ek kan net dink daai impak!
“Ek het al na die video en foto’s (van die ongeluk) gekyk dat dit net moet insink, maar dit het nog nie.”
Magda is 64 en het vroeër in haar lewe in die gasvryheidsindustrie by verskeie oorde soos Crystal Springs Mountain Lodge gewerk.
Sy sê self sy is nie sieklik nie en kan maklik nog werk, maar mense kyk na haar ID-nommer en dink sy is oor die muur.
Vir die afgelope sowat nege jaar het George na haar omgesien en sy is onseker oor wat die toekoms nou vir haar inhou.
Die ongeluk wat sy lewe geëis het, het ook haar voertuig afgeskryf. Sy leen intussen ’n karretjie by die mense waarvoor hy gewerk het, maar dit sal ook nie vir ewig daar wees nie.
Daar is ’n lewenspolis wat hy nog wou vergroot voor die ongeluk, maar Magda sê hy het nooit daarby uitgekom nie - nou is dit te laat.
Dié geld sal haar nog help om die einde van die jaar by Lakeview uit te sien, maar daarna weet sy nie. Sy sê daar is ook ’n prokureur wat haar help om geld terug te eis teen die polisie se versekering.
Die polisie het teen druktyd nog nie terugvoering gehad oor die vordering van die saak van strafbare manslag nie.
Behalwe vir die finansiële implikasies van sy dood, is haar huis nou ook leeg.
“Die ergste is in die aande, en dan natuurlik naweke, want deur die dag is hy mos by die werk. En daai drukkies in die oggend wanneer hy vir my sê: ‘Lekker dag, my moeder, love you.’ Jy weet, dit is… ’n mens mis dit.
“Ek loop in die huis in en sê: ‘Boesman, jy moet onthou…’ maar dan besef ek, daar is nie meer ’n Boesman nie. Dís wat my vang.”
Hy was partykeer totaal laf en het haar gereeld skrikgemaak of sommer met klere en al in die swembad gegooi.
“En hy was ’n huismens. Hy het gehou van houtwerk, tuinwerk en visvang.”
’n Mens sien sy tuin soos jy by die voordeur van hul woning instap. Die karavaan is die middelpunt van die woning en dan is dit toegebou rondom met ’n leefarea en kombuis. Dít het George alles vir hulle gedoen.
“Sy bedjie is by my karavaandeur, want hy moet sy ma beskerm. My ou Boesman… sy assies is daar op die tafel.”
Daar was geen begrafnis vir George gewees nie; hy het gereken dit is geldmors. “Hy het vir my gesê: ‘Wees lief vir my nóú, lag nóú saam met my.’”
Hy is veras en die houtkissie staan saam met blomme op die tafel waar hulle altyd saam geëet het.
As iemand na Magda wil uitreik, kan hulle haar by magdadamster@yahoo.com kontak.
Daai drukkies in die oggend wanneer hy vir my sê: ‘Love you’