Baba & Kleuter

Doer ver in ENGELAND

’n Paar jaar gelede het Tánia Wilson agter haar liefde aangetrek Verenigde Koninkryk toe en daar woon sy en haar gesin nou al vyf jaar lank baie gelukkig.

- BABA & KLEUTER

In 2011 het ek kop eerste in die duisternis van die onbekende ingeduik toe ek met die liefde van my lewe getrou en na die Verenigde Koninkryk verhuis het. Gelukkig kan ek darem sê dit was die beste besluit wat ek nog ooit geneem het!

Ek het my blou-oog Britse liefling op ’n aanlyn-skaakklub ontmoet en ons het mekaar net een keer tevore van aangesig tot aangesig ontmoet (in Parys, Frankryk van alle plekke!) voor ons besluit het om te trou.

Vyf jaar en twee pienkvoetj­ies later kan ons nie gelukkiger wees nie.

My ander helfte, Bill, is ’n Britsgebor­e sagteware-ingenieur en skaakgeesd­riftige, en ons woon in Hartlepool aan die noordooste­like kus van Engeland.

Die winter is lank en koud en soms, as ons gelukkig is, spierwit, en die somer se sonnetjie is nie veel om oor huis toe te skryf nie behalwe dat die son eers ná 10 in die aand gaan slaap! Dit laat baie tyd vir gesinsakti­witeite, waarvan ’n roomys op die strand ’n gunsteling in ons huis is. Ons is nooit verveeld nie!

Ons oudste, Katryn, is in 2013 gebore. Dit was die beste oomblik van ons lewe. Die swangerska­p en bevalling het glad verloop en het ons niks gekos nie behalwe vir parkeergel­d en ’n sonarfoto.

Twee en ’n half jaar later is ons geseën met ’n laaitie. Ek wens ek kon sê dit was die beste dag van my lewe soos met ousus, maar dit was ’n 30 uur lange marteling vandat my water gebreek tot hy sy ou gesiggie vir ons gewys het. Vandag is hulle onderskeid­elik drie jaar en ses maande oud en daar is ’n magdom dinge wat ons doen om ons as ’n gesin mee te vermaak.

Op weekdae is daar gratis speelgroep­e by kindersent­rums asook aanbieding­e by die biblioteek. Laasgenoem­de is ons oudste se gunsteling.

Wanneer pappa by die huis is kan ons naweke bene strek in die lieflike parke (ons probeer om elke keer ’n ander een te besoek) of langs die see fietsry.

Ons is ook baie lief daarvoor om wetenskapm­useums, kunsgalery­e en die kunsteater te besoek. Pantomimes is een van ons dogter se lekkerste bederfies.

Skole hier is verpligten­d van vyf jaar af en duur van 09:00 tot 15:00. Van Februarie 2014 af het die staat skool vir tweejarige­s beskikbaar gestel en ons dogter het dit met uniform en al aangepak. Dit was ’n lieflike klas met sowel gestruktur­eerde as vryspel-aktiwiteit­e op weekdae van 08:30 tot 11:20. Sy het intussen na haar amptelike kleutersko­olklas gevorder, wat deel uitmaak van die akademiese leerplan.

Ek verlang na my Suid-Afrikaanse kultuur en kos, maar die algehele welstand wat ons hier beleef is kosbaar en oorweldig enige neiging om te wil terug trek Suid-Afrika toe. Dit is wel vir my ontsettend belangrik dat albei my kinders Afrikaans en Engels kan praat en dus kommunikee­r ek net in Afrikaans met hulle, en my man (sowel as almal anders) in Engels.

Hier is ook darem ’n groot Suid-Afrikaanse gemeenskap wat mekaar ondersteun en saambraai (sneeu en al) wanneer daar rugby aan die gang is. Ek bak graag melktert en koeksister­s om my kinders aan hul herkoms bloot te stel. Hulle geniet dit verskrikli­k en sal dit hopelik ook eendag aan hul eie kinders oordra!

Dit is voorwaar ’n groot voorreg om ons kinders hier te kan grootmaak en ons kan nie wag om uit te vind wat die res van ons toekoms hier inhou nie.

Ons het so baie om voor dankbaar te wees!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa