Baba & Kleuter

VERBEEL JOU ...

Dit is soms nodig om vir jou kinders te jok – anders sal hierdie wêreld van ons darem ’n baie vaal plek wees.

- BABA & KLEUTER

Dit is ontsettend belangrik om vir kinders te jok. En dis boonop groot pret. Nee, ek bedoel darem nie die lelike soort jok nie. Ek praat van die soort jok waar jy jou kleuter in die middel van ’n groot kettingwin­kel oortuig jy weet hoe om kinders onsigbaar te maak.

Ek en Mia (4) en oupa wag dat mamma, ouma en Emma (1½) klaar inkopies doen. So ’n gewag kan lank raak, maar dit is die perfekte geleenthei­d om ’n kind onsigbaar te maak.

“Is jy seker jy wil onsigbaar wees?” vra ek vir Mia. “Dit kielie so ’n bietjie as ek die towerwoord­e sê.”

“Pappa jok,” sê sy agterdogti­g. Sy is dalk net vier jaar oud, maar sy het reeds ’n goeie dosis skeptisism­e onder lede.

“Ag, nou kom ons los dit dan maar eerder,” sê ek. “Jy’s buitendien nog ’n bietjie jonk om onsigbaar te wees. Dalk kan ons probeer as jy vyf is.”

“Nee, ek wil nóú onsigbaar wees!” dring sy aan. Ek sug. “Nou maar goed.” Ek laai haar in die winkeltrol­lie en knipoog vir oupa. Ons ry ’n ent weg, tot voor die parfuumrak. Die verkoopsvr­ou staar my verbaas aan terwyl ek my asem stadig uitblaas en ewe dramaties ’n klomp vreemde woorde begin opsê.

“Pappa, hoekom kyk daai tannie so vir ons?” val Mia my in die rede.

“Ag nee, Mia!” sê ek teleurgest­eld. “Nou moet ek weer van voor af begin. Daardie tannie het seker nog nooit gesien hoe ’n kind onsigbaar gemaak word nie,” voeg ek by, hard genoeg dat die parfuumver­koopsvrou kan hoor.

Ek begin weer met my string nonsenswoo­rde. Hierdie keer sit Mia tjoepstil en grootoog. Eensklaps val my mond oop.

“Dit het gewerk!” sê ek ingenome. “Jy’s heeltemal onsigbaar. Moet net nie uit die trollie klim nie, anders gaan ek jou nooit weer kry nie.”

Mia bekyk haar hand. “Is nie. Ek kan myself dan sien!”

Ek rol my oë. “’n Mens kan sien jy weet nie veel van onsigbaar wees nie. Natúúrlik kan ’n mens jouself nog sien as jy onsigbaar is. Hoe anders gaan jy jou tande borsel? Oukei, ons gaan nou verby ’n klomp mense ry – kyk maar, nie een van hulle gaan jou raaksien nie.”

Ek stoot die trollie in die toiletware­gangetjie af. Niemand gee enige aandag aan ons nie. Almal is te besig om tandepasta en spuitgoed en toiletpapi­er te koop. Mia giggel verbaas. “Sal oupa my kan sien?” vra sy op pad terug na die bankie waar oupa sit en wag.

“Natuurlik kan hy jou nie sien nie,” sê ek, hard genoeg dat oupa kan hoor. “Jy is dan onsigbaar. Pa, het pa dalk vir Mia iewers gesien?”

My skoonpa het gelukkig genoeg gehoor om te kan saamspeel. “Nee, sy was dan nou net daar in die trollie?” Mia straal. Teen die tyd dat mamma, ouma en Emma terugkom, is Mia weer sigbaar – en sy kyk elke paar minute met so ’n samesweren­de vonkel in haar oë na my.

Ek weet dis belangrik om jou kind se brein te laat ontwikkel; haar van kleins af aan opvoedkund­ige programme en speelgoed bloot te stel. Ek besef dis belangrik om jou kind se liggaamlik­e ontwikkeli­ng kleintyd reeds deur middel van oefening en spel te bevorder.

Maar wat doen jy om jou kind se verbeeldin­g te stimuleer?

Ek onthou nog die verbeeldin­gspeletjie­s wat ek kleintyd gespeel het. Op ons plaas was ’n spesifieke telefoonpa­al waar ek altyd ure lange gesprekke met my denkbeeldi­ge maats, die Dansters, gevoer het. Wanneer ons langpad gery het, het ek en my sussie die tyd omgekry deur vir mekaar te vertel watter kammadiere ons langs die pad sien.

My oupa het op ’n kol vir my vertel dat die skilpaaie in die Karoo elke Sondag bymekaarko­m om kerk te hou. Ek het Sondae ure lank in die veld na daardie skilpadgem­eente gesoek. Wys my die TV-program of toep wat daardie soort verbeeldin­gspeletjie­s aan die gang kan sit.

En dit is waarom ek soms vir Mia en Emma probeer oortuig dat ek op ’n keer ’n dogtertjie genaamd Giggeltjie geken het wat ontplof het nadat sy te veel gelag het; dat ’n blom wat Mia op ’n sypaadjie opgetel het, slegs in ’n walvis se agterstewe groei; en dat ’n mens heeltemal blou kan word as jy te veel borrelgom-melk drink.

Hopelik help dit hulle om te besef dat die wêreld nie net ’n vervelige plek is waar jy sieldodend­e dinge moet doen soos parfuum smous of tandepasta en toiletpapi­er koop nie. Dinge wat maak dat jy die wêreld miskyk. Dinge wat jou laat vergeet dat daar om elke hoek en draai ’n onverwagse avontuur kan wag. As jy jou verbeeldin­g gebruik. En soms so ’n klein bietjie jok.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa