Baba & Kleuter

HOOP het ons STAANDE GEHOU

Die dokter het slegte nuus gehad: Hul ongebore baba was baie siek en hulle moes besluit of ’n aborsie aangewese is. Wat doen ’n mens as jy sulke ondenkbare nuus kry? Gert en Jolandie Swanepoel deel hul verhaal.

- DEUR DANIELLA DE WITT BABA & KLEUTER

Gert en Jolandie Swanepoel van Modimolle se verhaal is een van daardie “liefde met die eerste oogopslag”- stories.

Hulle het deur vriende ontmoet en Gert het reeds twee weke ná die ontmoeting vir sy ma vertel dat hy sy trouvrou gekry het. Drie maande later het hy ouers gevra en die twee het in 2014 afgehaak. En hoewel hulle toe al oor ’n wittebrood­baba gespot het, was die verbasing (en vreugde) groot toe hulle sowat drie weke ná die wittebrood uitvind dat ’n baba inderdaad op pad is ...

Die eerste drie maande van swangerska­p het goed verloop en Jolandie het net met naarheid gesukkel.

Op 12 weke het alles egter verander toe Jolandie haar vir dié mylpaal-ondersoek aanmeld.

Die dokter wat die ondersoek behartig het, het alles nagegaan wat nagegaan moes word – en heel teen die einde van die ondersoek skielik gesê sy het op iets afgekom.

“Ek onthou nog presies hoe dit gevoel het: asof al die lewe uit my vloei en ek yskoud word,” vertel Gert.

Die dokter het verduideli­k hul baba ly aan gastroskis­e, ’n geboorte-afwyking waar die derms oop is en uitsteek.

“Ek dink die dokter was net so geskok soos ons en het nie heeltemal geweet hoe om die situasie te hanteer nie,” sê hy.

“Sy het gesê ons moes dit google om meer daaroor uit te vind en besluit of ons wou aborteer. Dit was nie maklik om dit te hoor nie en ons was in ’n toestand.”

Hulle het nie geweet wat om ná hierdie nuus te doen nie. Hulle het hul ouers laat weet, wat net so geskok was. By die huis het hulle dadelik oor die toestand begin navors.

“Ons kon net slegte gevalle opspoor. Al die internetin­skrywings was negatief,” sê Gert. “My ma, Daleen, het van Johannesbu­rg af deurgery. Sy het self begin google en op dieselfde stories afgekom.”

Die paartjie het daardie aand ’n SMS aan hul ginekoloog, dr. Johan Cillie by Kloof Mediclinic, gestuur om hom van die uitslag van die ondersoek te vertel.

“Ons het hom vertel dat die ander dokter die moontlikhe­id van ’n aborsie genoem het en wou weet wat sy raad is. Hy was met verlof en ons het nie verwag om dadelik iets van hom te hoor nie, maar hy het ons gebel en gerusgeste­l. Hy het gesê dat hy nie ons baba sou laat aborteer nie en dat hy hierdie pad saam met ons sou stap. Dit het dinge so ’n bietjie makliker gemaak,” vertel Gert.

Jolandie sê sy het klein gedra en dit was nie ’n ongemaklik­e swangerska­p nie. “Ons baba, Gavin, het baie beweeg en dit was lekker, maar dit het my ook ’n bietjie benoud gemaak, want ek was bang hy beskadig sy derms as hy so baie skop. Ek het wel baie vroeg Braxton Hicks-krampe gekry en as gevolg daarvan is ek op 32 weke vyf dae in die hospitaal opgeneem om gemonitor te word.”

Nadat sy ontslaan is, kon sy nie saam met Gert terug Modimolle toe gaan nie omdat dit te ver van die hospitaal is. Sy moes by haar sussie, Izelle Visser, in Pretoria bly. “Hulle het my die volgende drie weke baie mooi versorg en sy het my op 25 Mei 2015 baie benoud hospitaal toe geneem toe Gavin my slymproppi­e uitgeskop het. Ek is daardie dag weer opgeneem en het gehoor dat Gavin die volgende oggend gebore sou word.”

Jolandie en Gert was voor die geboorte baie senuweeagt­ig. “’n Mens lees oor al die dinge wat verkeerd kan loop. Volgens statistiek was die kans 20 persent dat Gavin met geboorte sou sterf, maar ons het net positief probeer bly en op die beste gehoop.”

Hulle het reeds ’n paar maande voor die tyd die spesialis ontmoet wat Gavin ná sy geboorte sou opereer. Prof. Martin van Niekerk het toe al gesê elke geval is uniek en hy sou dus op die dag vir Gavin ondersoek en dan ’n plan in werking stel.

Martin is in kennis gestel dat Gavin die volgende dag gebore sou word sodat die nodige reëlings en voorbereid­ings getref kon word.

“Die oggend van die keisersnee was stresvol,” erken Jolandie. “Ek dink enige mamma stres voor ’n keiser, want dit is onbekend. Alles het egter baie goed afgeloop. Ek het verdowing gekry en Gavin is om 10:10 in Kloof Mediclinic in Pretoria gebore – hy het 2,75 kg geweeg en was 47 cm lank.

“Hy is dadelik na ’n tafel geneem waar sy dermpies in ’n sakkie geplaas is om dit steriel te hou. Hy is toegedraai en ek kon hom vir ’n paar sekondes sien voor hy na die neonatale waakeenhei­d geneem is. Daar is hy gestabilis­eer en vir die teater gereed gemaak. Hy het so ’n uur ná sy geboorte sy eerste operasie ondergaan.”

Vier weke in die hospitaal het gevolg en dit was nie maklik vir Gavin se bekommerde ouers nie. “Ons het dag in en dag uit langs sy bedjie gesit. Die verpleegpe­rsoneel het soos familie geword en ons Die dokter het self nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Sy het gesê ons moet die toestand gaan google en dan besluit of ons wou aborteer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa