Jou kleuter se kampvegter
Al het jou kleintjie ’n gestremdheid, kán sy na ’n gewone kleuterskool toe gaan. Ja, inklusiewe opvoeding het sy uitdagings, maar daar is baie wat ouers kan doen om die opvoedingspaadjie gladder te maak.
WAT IS INKLUSIEWE OPVOEDING?
In die ou dae was daar verskillende skoolstelsels: een vir tipies ontwikkelende kinders en ’n aparte een vir kinders met gestremdhede. Deesdae is daar wêreldwyd die neiging om alle kinders, met of sonder leerhindernisse, in een klaskamer te laat saamleer. Dit word inklusiewe opvoeding genoem.
Inklusiewe opvoeding aanvaar dat elke kind kán leer, en dat hulle dit bloot op verskillende maniere doen. ’n Kind met ’n ontwikkelingsagterstand kan wel leer uitknip, teken en skryf, al benodig sy dalk ekstra hulp en tyd om dié take te bemeester. ’n Dowe kind kan leer kommunikeer, maar sy gebruik gebare- eerder as verbale taal.
Die ideale inklusiewe stelsel ignoreer nie kinders se verskille nie, maar bevorder eerder elke kind se unieke manier van leer.
HOE VROEËR, HOE BETER
Kenners meen dat hoe vroeër ’n kind met spesiale behoeftes deel word van so ’n inklusiewe stelsel, hoe beter. Dit berei hulle nie net akademies voor vir hoofstroomlaer- en hoërskole nie, maar verrig wondere vir hul sosiale ontwikkeling. Studies wys dat kleuters se kognitiewe, motoriese, taalen selfhelpvaardighede toeneem as hulle saam met tipies ontwikkelende maatjies in hoofstroomkleuterskole leer.
Inklusiwiteit is vir hul klasmaats net so goed. Hulle leer vroeg om mense wat “anders” is te aanvaar, om meer bewus van ander mense se behoeftes te wees en om hulle te help. Dit laat kleintjies goed voel en bou selfbeeld, skryf die opvoedingspesialis Ronnie W. Jeter op die webtuiste van Turben Developmental Services, ’n organisasie wat kinderopvoeding en ouerleiding doen.