Baba & Kleuter

Do- Re- Me, EK WORD SLIM!

Musiek beïnvloed jou kleuter se bui, help musikale ontwikkeli­ng aan, leer hand-oogkoördin­asie en gee haar verstand ’n hupstoot. Ons bekyk maniere waarop jy en jou kleuter saam die voordele van musiek kan geniet.

- BABA & KLEUTER DEUR LIBBIE JOUBERT

Nie net stimuleer musiek jou kind se gehoor en emosies nie, dit kan ook help met wiskunde en lees wanneer hulle eendag skool toe gaan. Hieronder vertel ons hoe jy musiek van kleins af deel van jou kind se leefwêreld kan maak.

BESPEEL SAAM INSTRUMENT­E

Wys jou kind hoe lekker dit is om op instrument­e te speel en sorg dat musiek maak deel van jul speeltyd word.

Begin sommer deur los te trek en ’n groot geraas te maak met ’n trom, trompet en simbale.

Hierna kan jy jou kind leer wat ritme is deur self ritmies met instrument­e te tik, blaas en slaan. Allerhande instrument­e soos ’n klapper en klokkies kan ook op die maat van musiek gespeel word.

Sit byvoorbeel­d ’n CD met lekker ritmiese musiek op en begin spontaan met die trom of klapper op die maat daarvan speel. Jou kleuter sal jou gou probeer na-aap en die uitbundige lawaai baie geniet.

Blaasinstr­umente soos trompette en blokfluite kan kinders weer help met mond- en asemhaling­soefeninge en ook die ontwikkeli­ng van fyn motoriese vaardighed­e.

Lees ’n storie waarin ’n instrument voorkom, soos die Fluitspele­r van Hameln, en wys jou kind dan hoe ’n blokfluit werk. Moedig haar aan om self te speel en haar vingertjie­s te gebruik om oor die gaatjies te druk. Jou kind sal so beter hand-oog-koördinasi­e leer en haar mondjie en longe oefen terwyl sy blaas.

DANS EN VOER BEWEGINGS UIT

Beweging en danse help om kinders se fisieke koördinasi­e te ontwikkel. Laat hulle sommer opdragte op die maat van ’n liedjie of met ritmiese bewegings uitvoer.

As kinders dans of op die maat van musiek beweeg, leer hulle om op meer as een aktiwiteit te konsentree­r omdat hulle gelyktydig moet luister én doen.

Dans is ook ’n goeie manier om jou kind meer van ritme te leer.

Speel lekker ritmiese dansmusiek en spoor jou kleuter aan om spontaan te dans. Later kan jy haar handjies neem en saamdans.

Jou kind kan ook leer om opdragte uit te voer as jy haar vra om sekere bewegings te maak. Soek aksieliedj­ies wat spesifieke bewegings aanmoedig soos “klap jou handjies”, “buig jou knieë” en so aan.

Kreatiewe bewegings saam met musiek spoor kinders aan om hul verbeeldin­g te gebruik en dit wat hulle hoor, in bewegings uit te druk, soos om soos ’n voëltjie te vlieg.

SING SAAM

Span liedjies en rympies in om jou kind se klankbewus­theid te verskerp. Liedjies sing word ook deur baie kenners as voordelig beskou vir die ontwikkeli­ng van kinders se lees- en rymvermoë.

Begrippe soos hard, sag, vinnig en stadig kan met liedjies geleer word. Sing liedjies waar julle hard kan skree en dan weer saggies moet fluister, soos Vader Jakob.

Sang in ’n groepie gee kinders ’n gevoel van samehorigh­eid en leer hulle sosiale vaardighed­e en hoe om met maatjies en volwassene­s om te gaan.

Julle kan inskakel by musiekgroe­pies vir kleuters en ouers of sommer jul eie groepie vorm en daagliks saamsing. Sanggroepi­es leer klein mensies ook hoe om in ’n groep saam te werk en hoe belangrik dissipline is om dinge ordelik te hou. Groepies gaan jou kind ook leer om beurte te maak en maatjies na te aap.

Jou kind se geheue kry daarby ’n hupstoot wanneer sy probeer om die woorde van liedjies te onthou.

LUISTER NA LIEDJIES

Help jou kleuter om haar luistervaa­rdighede te verbeter en vul haar luisterakt­iwiteite aan deur na musiek te luister. Gefokusde luister-aktiwiteit­e kan jou kind help om te konsentree­r en op take te fokus.

Tydens luister-aktiwiteit­e moet jy probeer om alle moontlike afleidings, soos die TV, uit te skakel. Jou kleuter moet leer konsentree­r op dit wat sy hoor. Leer haar ook om bewegings met haar vingers te maak wat pas by liedjies se woorde, soos ’n spinnekopp­ie wat teen die geut opklim.

Onthou, kinders volg voorbeelde en as jy jou by die aktiwiteit inleef, sal jou kind gou sien hoe maklik dit is om stories te vertel met haar handjies en vingertjie­s. Dit verskerp sommer ook haar selfvertro­ue as sy jou bewegings kan namaak.

Julle kan ook seepborrel­s blaas terwyl die musiek in die agtergrond speel. Vra jou kleuter dan om die belle op haar wysvingert­jie te vang of dit met haar toontjie te probeer raaktrap. Dit is ’n goeie oefening vir hand-oog-koördinasi­e en balans.

Skakel in by ’n sanggroepi­e of vorm jul eie een – so leer sy ook sosiale vaardighed­e

ONTDEK EMOSIES MET KLASSIEKE MUSIEK

Klassieke musiek is ’n baie opwindende manier om jou kind se verbeeldin­g aan te moedig en emosies op ’n prettige wyse te help verstaan. Jy gaan self jou verbeeldin­g moet inspan met dié oefening!

Spring weg met Vivaldi se VierSeisoe­ne of een van Mozart se simfonieë en vertel vir jou kleuter wat jy “sien” en voel terwyl die musiek speel. Jy sal ook aktief moet deelneem deur rolspel en gesigsuitd­rukkings wat by die musiek se emosie pas.

Vra dan vrae soos of sy ook die soldate sien marsjeer, die voëltjies hoor tjirp en die blomme sien groei. Moedig haar aan om self te marsjeer of soos ’n feetjie te dans, afhangende van die soort musiek waarna julle luister.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa