Baba & Kleuter

VRA NET GOEIE VRAE

-

Seks, drank, dwelms, die dood, ander mense se geldsake en die periodieke tabel ... Deesdae moet ek soggens voor 7:30 al bondige menings oor dié swaar onderwerpe waag, alles terwyl ek deur die spitsverke­er vleg met Metallica wat kliphard in die motor blêr.

Sien, liewe leser, my kinders word vandeesmaa­nd 11 en 14 jaar oud. Gewoonlik vat hulle pa hulle skool toe, maar hy is hierdie week weg. Dit is dus my voorreg om aan die oggenddeba­tte deel te neem. Die eerste oggend het ek dit sonder koffie aangedurf. (My man is die koffiemake­r in ons huis.) Dit was ’n fout wat ek nie sal herhaal nie. Vanoggend, goed “gekafeïene­er”, was ek aansienlik skerper. Of so het ek gedink. Ek het nogal trots gevoel toe ek onthou dat ’n mens die massa van ’n stuk aluminium bereken deur dit in water te sit en dan te meet hoeveel water verplaas word... tot ou slimme van die agtersitpl­ek af laat hoor het dat dít jou eintlik die volume van die aluminium gaan gee, nie die massa nie. (Goeiste, behandel hulle dit deesdae in graad 5?)

Vir Baba & Kleuter- lesers met babas en kleuters klink hierdie gesprekke natuurlik heeltemal vergesog, maar ek verseker jou: Op ’n dag praat julle nog oor Barbie en Batman, en die volgende dag is dit bulimie en boyfriends.

Ek het vir lank gedink ek moet klinkklare antwoorde op al die moeilike vrae voorsien, maar toe onthou ek iets uit Filosofie 101: Sokrates se metode. (Ek het geweet daardie kursus gaan eendag handig wees!) Basies, hoe dit werk: Jy probeer nie jou mening afdwing of preek of die argument wen nie. Nee! Wat jy doen is, jy vra kritiese vrae en luister aandagtig na die antwoorde. Dan vra jy die volgende vraag. Dit werk soos ’n bom met kinders! Moet hulle nie onderskat nie. Hulle kom heel oulik self by die goeie antwoorde uit wanneer jy goeie vrae vra.

Ek moet net môreoggend voor ons ry skelm die Metallica-CD uit die motor haal sodat ek kan konsentree­r wanneer hulle mý met vrae begin peper, want hulle het vanoggend agtergekom wat ek doen.

Toets dit op julle kleuters en laat weet ons of dit gewerk het.

Tot volgende maand,

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa