Van Jozi na AUSSIE
Elbé Hoszpodar (37) het 10 jaar gelede in Australië gaan werk, verlief geraak, besluit om te bly en nou maak sy haar twee kleingoed daar groot. Al is die lewenskoste hoog, is die lewenstyl wonderlik, vertel sy.
Ek vier vandeesweek 10 jaar sedert ek in Sydney, Australië aangekom het en ek kan met eerlikheid sê dit was nog die beste 10 jaar van my lewe. Ek is uit Johannesburg weg nadat ek ’n werkkontrak van twee jaar hier gekry het. Ná ’n jaar het ek ’n baie oulike kêrel hier in Sydney ontmoet en my werkkontrak verleng om die spreekwoordelike kat verder uit die boom te kyk. Soos die lewe maar loop, is hierdie kêrel nou my man, Balazs, en ons het twee pragtige kinders, Celia (2) en Darius (5 maande). My man is van Hongarye en het 12 jaar gelede met ’n studentevisum Sydney toe gekom om Engels te leer. Hy het vinnig geleer en (gelukkig vir my!) besluit om langer in Sydney te bly.
By die huis praat ek met die kinders Afrikaans en my man praat Hongaars, maar ek en my man praat Engels met mekaar. By die dagsorg kry die kinders blootstelling aan Engels. Dit is omtrent ’n mengelmoes tale, maar dis vir ons belangrik dat die kinders ons moedertale verstaan. Daar is baie aanmoediging om kinders veeltalig groot te maak en skole respekteer die besluit.
Ons bly 45 minute noordwes van Sydney. Sydney is ’n pragtige stad en daar is altyd naweke iets om te doen of te sien. Daar is baie immigrante van oor die wêreld heen en hulle bring natuurlik ook kos eie aan hul kultuur saam.
As ons ons bederf met ’n ete uit, hou ons daarvan om kos te eet wat ons nie self by die huis kan maak nie. Ons gunstelinge is ramen (Japannese noedelsop), bibimbap (’n Koreaanse rysgereg, gewoonlik met beesvleis of hoender, groente en eier met brandrissiesous) of joem tsja (Chinese laatontbyt met gestoomde kluitjies).
Sydney word omring deur pragtige strande en dis heerlik om selfs op ’n sonskynwinterdag ’n roomys op die strand te eet.
Ons woonbuurt het baie jong gesinne en ’n fantastiese gemeenskapsgevoel. Elke naweek speel al die kinders saam bal in die straat of ry fiets en die ouers gesels buite terwyl die kinders speel.
Werk en dagsorg is ook baie anders hier as in Suid-Afrika. Ná my eerste kraamverlof van agt maande met Celia het ek vier dae per week terug gegaan werk toe, terwyl Celia dan by die dagsorg was. Die gehalte van dagsorg is baie goed en daar is nasionale standaarde, maar dit maak alles ongelukkig ook peperduur. Die maatskaplike stelsel betaal die helfte van jou dagsorggeld, wat natuurlik baie help.
Ek is tans weer met kraamverlof en kon dié keer 11 maande kraamverlof neem. In Australië kan jy tot 12 maande kraamverlof kry en jou werkgewer moet jou pos vir dié tydperk oophou. Ek is baie dankbaar dat ek die eerste jaar van Darius se lewe by hom kan wees en ook meer tyd saam met Celia kan deurbring.
My werkgewer moedig plooibare werkure aan en my huidige werkooreenkoms is om vier en ’n half dae se ure binne vier dae af te handel. Een van dié vier dae werk ek van die huis af. Ek voel werklik bevoorreg met dié reëling wat help om ’n balans tussen werk, kinders en die huishouding te handhaaf.
Ek is steeds elke dag verstom oor die wonderlike openbare gesondheidsdiens. Celia was verlede jaar drie weke met longontsteking in ’n openbare kinderhospitaal. Die sorg wat sy ontvang het was uitstekend, asook die opvolgafsprake met die spesialiste – en dit het ons nie ’n blou duit gekos nie. Daar is ook na-ure-huisdokters wat jy kan bel sodat die huisdokter na jou huis kom.
Natuurlik is alles nie maanskyn en rose nie. Die lewenskoste is baie hoog en om ’n huis in die groot stede te besit, is ál meer buite die finansiële vermoë van gemiddelde mense. Huiswerkers is baie duur en al die wasgoed en skoonmaak moet ons self oor ’n naweek of weekaande doen.
Bowenal is dit hartseer om te weet my kinders word hier in die vreemde sonder niggies, nefies, tannies, ooms en oupas en oumas groot. Ons voel ook die swaardra daarvan om nie jou familie-ondersteuningstelsel naby te hê om te help as die kinders siek is of selfs net te kom oppas vir ’n datenight nie.
Maar vir eers geniet ons die vryheid en veiligheid wat die lewe ons hier bied en word ons ál liewer vir die land en sy mense wat ons met ope arms verwelkom het.