Baba & Kleuter

Elf DEKORWENKE vir jou

Jy wil ’n kinderkame­r skep wat mooi genoeg is vir Instagram en Pinterest. Maar dink eers prakties ...

- DEUR SANDRA COETZEE

Wees op die uitkyk vir step’nstores, beskikbaar in baie kleure. Dis ’n trappie vir voor die bed of wasbak, en slaan op sodat jy speelgoed daarin kan bêre. Kies ook meubels wat vir alle ouderdomme werk. ’n Gemakstoel met los oortreksel dien eers as borsvoedst­oel, dan as leesstoel en later kan jou tiener self daarin opkrul en lees. Daar is deesdae ook heelwat meubels wat saam met jou kind groei, soos bababedden­s wat in juniorbedd­ens omgeskakel kan word, of wat later ’n dagbed of klein rusbankie kan word. Dis ook raadsaam om by neutrale kleure of wit meubels te hou. Jy kan dalk in die toekoms spyt wees oor ’n meubelstuk in skelpienk ... As dit by meubels kom, is die slagspreuk “goedkoop is duurkoop” beslis waar. Goedkoop gemors gaan breek en jy sal dit net moet vervang. ’n Werklike duursame meubelstuk van goeie materiaal kan ’n leeftyd hou, of jy kan dit aan iemand anders verkoop. Wees ook op die uitkyk vir tweedehand­se gehaltemeu­bels.

Belê in die beste katoenbedd­egoed. Dis sag, gemaklik, sal nie jou kind se vel irriteer nie, behou kleur en druk goed, en is sterk en duursaam.

Kubusrakke teen die muur is slim pakplek vir breekbare goed, maar ook om teddiebere en boeke op uit te stal. ’n Kubus bo jou baba se doekruilta­fel is ’n praktiese bêreplek. Jy kan ook ’n staaf onderaan die kubus heg waaraan jy ornamente kan hang.

Sterk kleur kan ’n kamer beknop laat voel. Bly liewer by pastelle en gebruik helder kleure net as aksent, soos in fotorame, kussings en lampskerms. En temas? Klassieke temas gaan veel langer in die kol bly as animasie-temas uit rolprente.

Goeie beligting in jou kind se kamer moedig haar aan om meer aktiwiteit­e daar uit te voer. Sorg vir ’n goeie lig teen die plafon, ’n leeslamp op die bedkassie of teen die muur, en dalk ook ’n nagliggie as sy bang is vir die donker. Mooi ligte en lampskerms is een van die maklikste en goedkoopst­e maniere om ’n impak te maak. Jou neutrale meubels kan in die eerste paar maande opgekikker word met speelmatte, borsvoedku­ssings, doekruilma­tte, speelgoedb­alies, doekhanger­s en slaapsakke wat almal volgens dieselfde ontwerp of styl gekies is.

Onthou om te vra of die meubels en ander dekoritems wat jy wil koop, met loodvrye verf geverf is. As dit nie is nie, hou verby. Dis maklik om dinge soos deurknoppe, ligskakela­arraampies, maatstokke, boekstutte, fotorame en gordynwegb­inders gereeld te vervang om by jou kind se ontwikkele­nde smaak te pas.

As jou kinderkame­r noord of oos kyk, het jy swaar gordyne met goeie voering en blindings nodig, anders gaan jou baba of kind baie vroeg wakker word. Onthou om daarvoor te begroot. Dis ’n belegging waaroor jy nie spyt sal wees nie.

Jou kind se kamer is ’n plek waar sy gekoester moet voel. Sy het ruimte nodig om te slaap, speel, bêre en later ook om te studeer. Laat jou kind se karakter jou lei in die manier waarop jy die kamer organiseer. Sy moet haar kamer moeiteloos aan die kant kan hou. Besluit wat by haar gaan pas: oop of toe bêreplek, kiste, rakke of kaste, mandjies of houthakke. Selfs kettings met knippe of hangmatte teen die dak kan as bêreplek ingespan word.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa