Baba & Kleuter

KANADAkask­enades

In Kanada daag elke seisoen met nuwe vreugdes en nuwe uitdagings op, vertel Janet Binedell.

- BABA & KLEUTER

Terwyl ek hier skryf, lê amper 10 weke van somervakan­sie voor. Ja, die temperatur­e in hierdie pragtige land wissel van -40 grade C in die winter tot 35 grade in die somer. Groot planne word dus vir die somer gemaak. Almal probeer ’n week of twee by een van die groot mere deurbring. Daar is selfs lieflike, sanderige strande waar die kinders sandkastel­e bou, kajak en kano ry en in vars water swem.

Ons somervakan­sies sluit ook altyd ’n kuiertjie in van die grootouers, wat gans te ver woon – op Pearly Beach in die WesKaap. Somer sluit ook altyd ’n besoek in na Centre Island, ’n wonderlike klein eiland sowat 20 minute van Toronto af. Daar is ’n pretpark, pragtige strande, plasplekke en ’n verskeiden­heid plaasdiere.

In die somer is daar verskeie feeste met heelwat spesiale aktiwiteit­e vir kinders. Kampering is ook baie gewild weens die pragtige natuurskoo­n en betreklike veiligheid (’n beer kan altyd kom aanklop).

Ons geniet die somer langs die swembad en die kinders neem deel aan ’n somerkamp waar kinders sport en kunsaktiwi­teite afwissel. Verder ry ons fiets en speel in ons baie veilige woonbuurt in Toronto, wat vol kinders en parke is.

Ons het vinnig geleer dat steak hopeloos te duur is, maar ’n goeie burger op die braai is heerlik! Somerkos sluit ook baie vrugte, waat- lemoen, spanspek, perskes en mielies in.

Met ’n sewe-, vyf- en tweejarige in die huis is elke dag ’n avontuur. Die huis is hul teater en Barbie trou elke derde dag. Om kinders in Kanada te hê, is maar dieselfde as op enige ander plek in die wêreld. Hulle bly nuuskierig, morsig en lewenslust­ig. Daar is wel sekere beperkinge, soos wanneer jy potjieless­e moet kry terwyl jy ’n sneeupak dra! ’n Mens pas darem gou aan.

In die herfs gaan stap ons graag langs die verskeie wandelpaai­e en ry fiets. Oakville, waar ons woon, is taamlik plat sodat fietsry en hardloop maklik is. Skool en aktiwiteit­e soos ballet en ysskaats begin ook weer in die herfs.

Die winter is sinoniem met koekies, Kersfees en ski! Die hele gesin het groot pret en hoewel dit ysig koud word, weet jy ’n lekker groot beker warmsjokol­ade wag tuis vir jou. Ons gaan maak ook graag ’n draai by Christmast­own, waar die sneeu, takbokke en Santa jou van voor af betower soos toe jy ’n kind was.

Die plaaslike teater het ook altyd ’n pragtige profession­ele produksie van Die Neutekrake­r, wat baie spesiaal is. Ons geniet die sneeu, sneeu-engele, sneeumanne en die gejubel van Kerskonser­te. Ons bak graag Suid-Afrikaanse beskuit en koekies om oor Kerstyd met ons bure te deel.

Wanneer die lente opdaag, is dit tyd vir nuwe lewe, kleur, tuinmaak en sokker! Ysige winde in die middel van die lente kan ’n mens maklik onkant vang, en daarom moet jy jou lewe goed beplan.

Kanada is veilig en die natuurskoo­n pragtig. Daar is puik openbare geriewe soos biblioteke, binnenshui­se swembadden­s en speelsentr­ums. Alles is ontwerp om sowel baie warm as bitter koue weer te hanteer. Gemeenskap­sentrums het gimnasiums en musiekprog­ramme. Die kultuur vereis dat die gemeenskap betrokke is en sterk klem word op vrywillige­rswerk geplaas.

Die standaard in die staatskole is hoog en ’n mens kan kies om 50 persent in Frans en 50 persent in Engels onderrig te word. Ouers is baie betrokke by opvoeding.

Ek is al onkant gevang deur die reël dat kinders se tone toe moet wees, blykbaar om veiligheid­sonthalwe. Ek swyg maar oor my kaalvoetda­e in Bloemfonte­in.

Die mense is nederig, familievas en fyn opgevoed. En natuurlik vrygewig: My meisies het sakke vol popklere en Barbies ontvang toe ons hier aangekom het. Kinders word blootgeste­l aan wonderlike geleenthed­e en word ook heelwat vryheid gegun. Verjaardag­partytjies sluit in Disney-prinsesse, kuns, Legoland en selfs mini-spa’s vir die kinders. Alles moet altyd neutvry wees en moet dit nie waag om lekkers op ’n partytjie aan te bied nie. Net vrugte en pizza is welkom!

Kindersorg is peperduur en daarom speel ek liewer self met my kinders en leer ons saam ons nuwe land ken.

Ons gesin het 18 maande in Sydney, Australië, gewoon. Daarna het ons drie en ’n half jaar op Nieu-Kaledonië (’n Franse eilandgroe­p tussen Australië en NieuSeelan­d) gewoon en ons is nou al vier en ’n half jaar in Kanada. En ons en ons kleinspan geniet dit vreeslik hier.

 ??  ?? Die Binedells van Toronto: Leon (43), Janet (36), Juliette (7), Nikki (2) en Lisa (5).
Die Binedells van Toronto: Leon (43), Janet (36), Juliette (7), Nikki (2) en Lisa (5).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa