Avonture van ’n dogtertjie-pa
Dit kan ’n man nogal ontsenu as hy skielik in die minderheid in sy huishouding is. Maar kort voor lank leer jy poniesterte maak en Barbie speel. Dis net daai balletkonserte ...
Kom ons wees nou maar eerlik: Die meeste eerste-keer-pa’s skrik so ’n bietjie as die sonarfoto wys daar’s ’n dogtertjie op pad. Ek was destyds geen uitsondering nie. Jy glimlag breed, maar in die stilligheid vra jy jou ’n hele paar dinge af.
Gaan alles in die huis van nou af pienk wees?
Wat op dees aarde weet ek van dogtertjieklere – en hoe trek ’n mens dit vir hulle aan? Hoe maak mens ’n poniestert en ’n vlegsel? Beteken dit ek sal moet leer popspeel? Of na balletkonserte gaan kyk?
Ander mense se kommentaar help ook nie veel nie.
“Nou is jy lekker in die minderheid en in die moeilikheid,” waarsku party. “Jy gaan nooit weer praatkans in jou eie huis kry nie.”
En: “Jong, ek hoop jou haelgeweer staan gereed!”
Amper vyf jaar later, en met twee dogtertjies in die huis, het ek gelukkig lankal van die aanvanklike skrik herstel. En as dogtertjie-pa het ek ’n paar dinge geleer.
Nie alle dogtertjies is mal oor pienk nie. Mia (4) se gunsteling-kleur is pers – wat toevallig ook my gunsteling-kleur is. Emma (2) se gunsteling-kleur is “blou” – maar dit tel seker nie juis nie, want dis tans haar standaard-antwoord as jy haar vra watter kleur enigiets van ’n stopteken tot ’n lemoen is.
Wat klere betref, is ek deesdae al so goed gekonfyt dat ek en die twee meisiekinders al ’n keer of wat sonder ma se hulp gaan klere-inkopies doen het. (Wenk vir ander dogtertjie-pa’s: Kies enigiets met ’n Disneykarakter of jou kleuter se gunsteling-dier op, en jy’s taamlik veilig. O, en hou die strokie.) Die dae is selfs verby dat ek warm van verleentheid raak as een van hulle ten aanhore van die hele winkel uitroep: “Pappa, kyk hierdie cutepanties!” Of: “Wanneer kan ek ook ’n bra kry?”
Oor poniesterte het ek geleer dat jy verskillende soorte kry. Jy kry die perfekte mamma-poniestert wat waterpas agter die kop sit sonder ’n haar uit plek, en wat dikwels met ’n geskree gepaard gaan (“Jy trek my hare!”/“Moenie so kleinserig wees nie! Wil jy skool toe gaan met ’n kop wat lyk of iemand jou met ’n eierklitser beetgekry het?”). Dan kry jy die windskewe pappaweergawe wat slegs vir noodgevalle bedoel is en selfs op ’n windstil dag lyk asof die draer daarvan deur die Suidooster geloop het, maar wat vermoedelik minder pynlik is, want dit gaan met minder trane gepaard. (Wenk vir ander dogtertjie-pa’s: Vlegsels? Moenie eens probeer nie.)
Wat speelgoed betref handhaaf hulle ’n gesonde balans. Hulle geniet Barbie net soveel as wat hulle dit geniet om seerowers te speel – mits jy bereid is om te aanvaar dat party seerowers dit verkies om hul uitrusting met ’n pienk prinsesrok af te rond. Karretjies kan vir ’n dogtertjie net soveel pret soos ponies wees. En ’n gesoute dogtertjie-pa kan sy vierjarige oortuig haar Batgirl-pajamas is baie ouliker as haar Frozen-slaapklere. (Nota aan ander dogtertjie-pa’s: Oor balletkonserte het ek ongelukkig nie vir jou goeie nuus nie. Dis ’n marteling.)
Vandeesmaand verwag my kleinsus haar eersteling. ’n Seuntjie. Ek en Elize het al ’n paar keer opgewonde die winkels ingevaar om babaklere te koop. Dit voel skoon vreemd om tussen die rakke met die seuntjieklere rond te loop. Oral is ougat tekkies, Spider-Man-uitrustings en kerkpakkies met kordate kruisbande. Kort voor lank begin Elize skimp dat sy darem nou verskriklik broeis begin raak.
Sal ons nie maar nog enetjie hê nie? wonder ons vlugtig – voor ons onthou van al die slapelose pajamadrilnagte, die liters koliekmedisyne en die tandekry-treurmares wat ons net-net oorleef het.
As ek mooi daaroor dink, het Mia en Emma nou van my ’n regte dogtertjie-pa gemaak. En dit het beslis sekere voordele. Ek hoef my versameling Batman-aksiefiguurtjies met niemand te deel nie, ek kry meer drukkies en soentjies as wat enige mansmens verdien, en ek hoef genadiglik nooit iemand te leer rugby speel nie (iets waaroor enige laerskoolrugbyspan heimlik dankbaar kan wees, gegewe my gebrekkige aanleg in dié verband). Ek twyfel sterk of ons ons gesin nog gaan uitbrei. Maar nou ja, hulle sê mos: Neversaynever. En as dit dan gebeur, sal ek hierdie keer glad nie skrik as die dokter weer aankondig dis ’n dogtertjie nie.