Baba & Kleuter

WATERGEBOO­RTE:

-

Elgonda Bekker, president van die Vereniging van Vroedvroue in Suid-Afrika en dosent in verloskund­e en neonatolog­ie aan die Universite­it van die Vrystaat in Bloemfonte­in, sê vroue kies ’n watergeboo­rte hoofsaakli­k omdat hulle sonder pynmiddels wil kraam.

Dis ook bewys dat vroue meer privaat voel wanneer hulle in die water die lewe skenk, sê Elgonda, wat al meer as 30 jaar ’n vroedvrou is en ook self ’n watergeboo­rte gehad het.

Dis ook vir baba baie voordelig, want hy beweeg van die water in die baarmoeder na die warm water in die bad. Babas wat in water gebore word, is dikwels kalmer en huil minder as dié wat op ander maniere verlos word.

HOU DIE BAD NIE ’N INFEKSIEGE­VAAR IN NIE? “Die soort bad is belangrik,” sê Elgonda. Die een wat vir Madelein se geboorte gebruik is, het geen verskanste pypstelsel­s nie sodat daar nie groeiplek vir mikrobes is nie.

Daar is ook vereistes vir die dreinering­stelsel wat gebruik word sodat water nie in die afvoerpype vasgevang word en ’n teelaarde vir bakterieë bied nie.

Elgonda sê sy is skepties oor baddens met spuitstels­els. “Daar moet regtig geen groeiplek vir mikrobes wees nie. Die baddens moet ook deeglik ontsmet word ná elke geboorte. Baddens word daarby gewoonlik uitgevoer met ’n aftrek- en weggooibar­e materiaal wat ná elke geboorte vervang word. Só skenk elke vrou tegnies in ’n nuwe bad die lewe.”

Daar word ook nooit net kraanwater gebruik nie. Soos met JD se geboorte word ’n groot hoeveelhei­d sout bygevoeg om kieme dood te maak.

’n Aspek wat minder aangenaam is om uit te lig maar wat tog belangrik is, is wat sou gebeur as daar dalk van die ma se stoelgang in die water beland. Elgonda sê hoewel ’n bietjie nie so gevaarlik is nie, is te veel nie ’n goeie idee nie.

“In sulke gevalle sal die bad eers uitgetap en nuwe water ingetap word. As daar nie tyd is nie, sal die ma die bad moet verlaat.”

Ander redes waarom ma’s soms die bad moet verlaat is dat die bevalling buitengewo­on stadig vorder, jy skielik begin bloei of jou bloeddruk die hoogte inskiet.

KAN DIE BABA NIE VERDRINK NIE? Mense wonder ook dikwels hoe die baba in die water asemhaal. Die baba kry in daardie stadium nog steeds sy suurstof van die plasenta af en begin eers op sy eie asemhaal as al die senuwees in die gesiggie, mond en neus gestimulee­r word deur kontak met lug en ’n veranderin­g in temperatuu­r.

Babas wat in die water gebore word, word beskerm deur die duikreflek­s, wat hulle instinktie­f hul lugweë laat toemaak sodat hulle nie water kan inasem nie.

WAT AS IETS VERKEERDLO­OP? Elgonda sê die reëls en regulasies skryf streng voor dat net normale lae-risiko-swangerska­ppe vir watergeboo­rtes kwalifisee­r. Die ma moet ook minstens een keer in haar swangerska­p ’n ginekoloog gaan spreek, en die vroedvrou behoort ook met die ginekoloog kontak te behou.

By ’n sentrum soos Estherea waar Madelein die lewe geskenk het, is daar altyd ’n ginekoloog op roep.

Amper-ma’s moet onthou dat ’n mens in ’n tradisione­le hospitaalo­mgewing ook komplikasi­es tydens ’n natuurlike geboorte kan ontwikkel. Ook daar verloop tyd voor ’n noodkeiser­snee uitgevoer kan word omdat die teatertafe­l eers voorberei en die narkotiseu­r ontbied moet word.

Die tydsverloo­p is omtrent dieselfde as wanneer jy komplikasi­es ontwikkel by ’n watergeboo­rte-sentrum naby ’n hospitaal as wanneer dit in die hospitaal gebeur.

MAAK DIT SAAK HOE OUD JY IS? Hoewel ouderdom die kraamprose­s kan beïnvloed, speel dit nie juis ’n rol in die keuse van ’n watergeboo­rte nie, sê Elgonda.

DIE GROOTSTE VOORDEEL Maar uiteindeli­k is watergeboo­rtes ook nie vir almal bedoel nie, sê Elgonda. Tog het baie jare se ervaring vir haar gewys dat dit jou baie meer opsies bied.

“Daar is ’n deel van jou kraamprose­s waar die water jou in staat stel om weer in beheer te kom van die bevalling omdat dit die pyn soveel meer draaglik maak. En die kroon word gespan daardeur dat jy al die mense wat jy om jou wíl hê, daar het: die vroedvrou en doula met wie jy al ’n pad gestap het, en een of twee geliefdes.

“Mense verbind hospitale altyd met siekte. En ja, as jy daar moet wees, moet jy daar wees. Maar as jy nie daar hoef te wees nie, hoekom dan nie kraam in ’n meer huislike omgewing met bekende en geliefde gesigte om jou nie?”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa