Programmeer jou kind reg
Het jy geweet dat jy jou ongebore baba kan programmeer om ’n gesonder grootmens te wees? Kry ‘vroeë programmering’ sommer vroeg onder die knie.
Met dié dat leefstylsiektes soos hartsiektes, diabetes, oorgewig en insulienweerstandigheid ál meer algemeen raak, soek wetenskaplikes ál harder na verklarings en oorsake sodat hulle die siektes in hul spore kan stuit. Nuwe navorsing wys dat ons nie net sommer ons voorgeslagte se gene kan blameer nie – én terselfdertyd dat wat ons eet ook ons nageslag se gesondheid beïnvloed. Laasgenoemde word vroeë programmering genoem.
WAT IS VROEË PROGRAMMERING?
Die gene wat jy van jou ouers gekry het is nie iets waaroor jy kon besluit nie, maar die studie van epigenetika wys dat ons wel ’n mate van beheer oor ons gene het. Hoewel ons nie die gene self kan verander nie, kan ons verander hoe die gene “uitgedruk” word.
Sekere invloede van ons omgewing soos wat en hoeveel ons eet, kan sekere gene as’t ware aan- of afskakel en ’n groot klomp veranderinge veroorsaak. Dié veranderinge kan die verskil tussen gesond en siek beteken. Terme soos fetale programmering of voedingsprogrammering word soms gebruik om te verduidelik wanneer en hoe die programmering plaasvind.
Gesonde, gebalanseerde eetgewoontes tydens swangerskap en borsvoeding is krities belangrik – nie net om ’n gesonde baba te verseker nie, maar ook om te help dat jou baba ’n gesonde volwassene word.
HOE WERK VOEDINGSPROGRAMMERING?
Wanneer ’n ongebore baba in die baarmoeder te min voedingstowwe kry, sal sy lyfie aanneem dat daar in die wêreld daarbuite heeltemal te min kos is. Sy lyfie sal dus aanpassings maak om hom voor te berei om ná geboorte te oorleef in hierdie omgewing van “hongersnood”. Wanneer hierdie baba gebore word en daar is skielik allesbehalwe ’n tekort aan kos, veroorsaak dit probleme. Die lyfie wat geprogrammeer is om spaarsamig te wees en met so min moontlik te oorleef, sal die kos wat hy nie nou nodig het vir oorlewing nie berg vir wanneer daar geen kos is nie. Sy liggaam het ook so aangepas dat hy nie groot hoeveelhede voedingstowwe kan hanteer nie. Verskeie dele soos die lewer, niere, longe, brein, vetselle en ook die spiere se struktuur en funksie word permanent deur voedingsprogrammering beïnvloed. Hierdie verkeerde programmering verhoog die vatbaarheid vir insulienweerstandigheid, diabetes, vetsug en hartsiektes. Babas wat klein is vir hul ouderdom, soos ’n