EINA boudjies
Luieruitslag is nie vir jou of jou aapstert lekker nie. As jy die soort uitslag herken, kan jy dit reg behandel.
WAT IS LUIERUITSLAG?
Luieruitslag of brandboudjies is ’n rooi veluitslag om jou baba se geslagsdele en op sy sitvlak. Soms is dit net ’n effense rooierigheid, ander kere kan dit in ’n wegholontsteking ontaard. Alle babas kry een keer in hul lewe brandboudjies; die meeste meer dikwels. Dit ontstaan as die vel geïrriteer word – en as dit nie gou behandel word nie, kan dit tot ’n bakteriese infeksie versleg. Sproei of ’n swaminfeksie is ook ’n moontlike oorsaak. Jou baba kry seer, veral wanneer sy urineer, en kan dus huilerig wees.
HOE LYK BRANDBOUDJIES?
Die deel van jou baba se velletjie wat deur die doek omring word – veral die geslagsdele en boudjies – lyk rooi en ontsteek en kan selfs ’n bietjie bloei. ’n Seuntjie se penis kan ook rooi en ontsteek lyk.
Soms lyk dit of jou baba rooi puisies het wat ál meer word tot dit ’n soliede rooi blok vorm – dis gewoonlik ’n teken van ’n swaminfeksie. Klein, rou seertjies wat smetterig is kan ook vorm – ’n teken van ’n bakteriese infeksie.
HOE DOEN MY BABA DIT OP?
Die hoofoorsaak van brandboudjies is natheid of vuiligheid in baba se doek. Die nat, bedompige omgewing is die ideale broeiplek vir swaminfeksies.
Die ammoniak in die urine irriteer baba se vel en breek die beskermende lagie op die vel af sodat dit begin ontsteek en rooi word. Dit stel jou baba bloot aan verdere infeksie.
As jou baba se doek dus nie gereeld geruil word nie, kan jy byna verseker weet sy sal die een of ander tyd brandboudjies opgedoen.
Enige irritasie van die vel – die chemikalieë in afveelappies of doeke, of die geurmiddels in babarome of -seep – kan ook bydra tot luieruitslag. Diarree of te veel suur is ander sondaars. Antibiotika is nog ’n oorsaak, en soms steek baba sproei ( candida) by haar versorger aan en veroorsaak dit uiteindelik brandboudjies.