Baba & Kleuter

OULIK VIR OUER KLEUTERS

-

Laat die kinders in ’n kring sit met een kind as die leier. Stuur ’n patat (of enige ander geskikte voorwerp) in die rondte terwyl die leier sy oë toehou en sy kop draai. Hy moet dan skielik uitroep: “Warmpatat!” Die kind wat die patat vashou, is uit. Die speletjie hou aan totdat daar net een kind oor is.

Plaas ’n klompie stoele in ’n kring (een stoel minder as die aantal kinders wat speel). Speel musiek en laat die kinders al om die stoele stap. Sodra die musiek ophou, moet elke kind ’n stoel kry om op te sit. Die een wat sonder ’n stoel is, val uit. Verwyder nog ’n stoel en begin weer met die musiek. Hou aan tot net een kind oor is.

Hierdie klassieke speletjie word al deur die eeue deur kinders gespeel. Laat een kind haar oë toemaak terwyl sy tot dertig tel. Mamma kan help tel. Die ander kinders moet dan laat spaander en ’n plekkie soek om weg te kruip. Nadat die teller tot dertig getel het, moet hy die kinders gaan soek. As hy een uitgesnuff­el het, moet albei kinders hardloop na die plek waar hy getel het. As die wegkruiper­tjie eerste daar kom, skree hy, “Een, twee, drie – blok myself!” en is hy nie gevang nie. As die teller egter eerste daar kom, is die wegkruiper uit. Die teller moet soek tot hy almal gekry het. Die eerste een wat uit is, is die volgende teller.

Deel die kinders in spanne op. Een kind is die kruiwa en die ander kind moet stoot. Die kruiwa hardloop op sy hande, terwyl die ander kind hom aan sy bene vashou. Die eerste twee oor die wenstreep kry ’n prys.

Laat die kinders op die maat van musiek dans. Sodra die musiek ophou, moet die kinders vries in die posisie waarin hulle was toe die musiek opgehou het. Dié wat beweeg, is uit. Hou so aan tot daar net een kind as wenner oorbly.

Deel die kinders in twee spanne en laat hulle weerskante van ’n klein, vlak swembadjie staan. Gooi dan ’n klomp genommerde tafeltenni­sballetjie­s in die middel. Tel tot drie en laat albei spanne probeer om soveel moontlik balle te versamel. Hou ’n emmer of houer langs die spanne waarin die balletjies gegooi moet word. Elke kind mag net een bal op ’n slag vat. Op ’n gegewe tyd sê jy: “Stop.” Tel dan die syfers op elke span se balletjies op – die wenspan is die een met die hoogste syfer.

Deel die kinders in pare. Maak die twee kinders se middelste bene met ’n ou paar broekiekou­se of stuk lap aan mekaar vas. Laat hulle dan resies hardloop en kyk wie is eerste oor die wenstreep.

Deel die kinders in pare op en gee aan elke paartjie ’n rol toiletpapi­er. Die een kind moet dan die ander kind soos ’n mummie in die toiletpapi­er toedraai. Sorg dat die toiletpapi­er taamlik dun is sodat dit maklik kan skeur, wat beteken hoe haastiger die kind, hoe makliker skeur die papier en dan moet hy weer begin.

Deel die kinders in twee groepe. Laat die een groep hul klere en/ of bykomstigh­ede ruil waar die ander groep hulle nie kan sien nie. Die span keer dan terug en gee hul opponente vyf minute om te raai wat die veranderin­ge is wat die ander span gemaak het. Gee die span punte en ruil dan weer om. Die span wat die meeste verskille kan waarneem, is die wenners.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa